Skip to main content
2025 Russel Botman Bursary Fund
Image by: Henk Oets

Prof Russel Botman’s enduring commitment to hope and transformation was celebrated during the 10th anniversary of the Russel Botman Memorial Lecture (RBML), held at Stellenbosch University. 

Nuus

Russel Botman-gedenklesing vier tiende jaar by US

Daniel Bugan
21 Oktober 2025
  • Die tiende Russel Botman-gedenklesing wat by die Universiteit Stellenbosch aangebied is, het sy nalatenskap van hoop en transformasie gevier.
  • Die geleentheid het hulde gebring aan prof Russel Botman se blywende impak op leierskap en sosiale geregtigheid.
  • 'n Nuwe publikasie, Dare to Hope: The Russel Botman Memorial Lectures 2014–2024, is bekendgestel.

Prof Russel Botman se volgehoue verbondenheid tot hoop en transformasie is by die tiende herdenking van die Russel Botman-gedenklesing (RBML), wat by die Universiteit Stellenbosch (US) gehou is, gevier. 

Die mylpaalgeleentheid was ook die bekendstelling van 'n nuwe publikasie, Dare to Hope: The Russel Botman Memorial Lectures, 2014–2024, wat 'n dekade van diepsinnige refleksies geïnspireer deur sy lewe en leierskap, verewig.

'n Diverse gehoor – insluitende huidige en voormalige lede van die US se leierskap, voormalige en huidige dekane van die Fakulteit Teologie, akademiese personeel, studente en vennote van die Universiteit – het die geleentheid op 16 Oktober 2025 persoonlik en aanlyn bygewoon.

'n Boom geplant vir toekomstige geslagte 

Prof Reggie Nel, Dekaan van die Fakulteit Teologie, het in sy verwelkomingstoespraak die boek, 'n versameling gedenklesings, beskryf as 'n "boom wat ons vir geslagte mense plant om in sy skaduwee te sit en sy vrugte te geniet".

Nel het in sy besinning oor die versameling twee herhalende temas uitgelig: transformasie en hoop. Hy het na die eerste gedenklesing, gelewer deur prof Dirk Smit, verwys waarin Smit opgemerk het dat "prof Botman nie sy siening oor transformasie ontwikkel het toe hy rektor geword het nie, maar hy het rektor geword danksy sy verbintenis tot transformasie". Nel het bygevoeg dat dieselfde standvastige toewyding aan hoop deur elke hoofstuk van die boek resoneer. 

'n Nalatenskap van moed en deernis

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie en 'n sleutelbydraer tot die produksie van die boek, het hulde aan Botman se blywende nalatenskap gebring.

"Die visie wat prof Botman gedurende sy ampstermyn as Rektor en Visekanselier voorgestaan het, is die nalatenskap wat ons vandag vier – een van moed, deernis en 'n onwrikbare geloof in die krag van onderwys om op te hef en te verenig," het sy gesê. "Terwyl ons land en vasteland voortgaan om met ongelykheid, werkloosheid, armoede en uitsluiting te worstel, is ons geroep om die werk voort te sit wat hy begin het – om te verseker dat talentvolle studente uit landelike en onderbediende gemeenskappe nie net by die US verwelkom word nie, maar ook bemagtig word om te floreer. Dit is 'n diepe verantwoordelikheid wat ons almal deel." 

Refleksies van hoop

'n Paneelbespreking deur bydraers tot die boek het gevolg en is deur Madre Arendse, Programkoördineerder by die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie gemodereer.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het besin oor hoe Botman se benadering tot openbare teologie die US gevorm en veel verder as die Fakulteit Teologie gestrek het.

"Russell het altyd na gepaste maniere gesoek om geloof en teologiese oortuigings in die openbaar aan raak," het Koopman verduidelik. "As Rektor en Visekanselier van 'n pluralistiese instelling moes hy verskillende wêreldbeskouings en oortuigings navigeer. Hy het ons geleer dat 'n mens diep teologiese oortuigings na die openbare domein kan bring – selfs sonder om eksplisiet teologiese taal te gebruik. Die manier waarop hy hoop gedefinieer en geleef het, is deur sy teologie ingelig, maar tog kon hy dit in 'n taal oordra wat by mense buite sy eie teologiese en geloofstradisie aanklank gevind het." 

Prof Xolile Simon, medeprofessor in Praktiese Teologie en Missiologie, het oor sy lesing oor godsdienstige diversiteit, sosiale geregtigheid en intergeloofspedagogie – temas wat diep met Botman se nalatenskap verweef is – gepraat.

"Ek het in sy idees belang gestel en hoe sy idees beïnvloed is deur dít wat hy as leier gedoen het. Ek was ook geïnteresseerd in hoe hy op moeilike vrae oor wat diversiteit is, gereageer het en daarom het ek dit as sy betrokkenheid by godsdienstige diversiteit beskryf. Die deel oor maatskaplike geregtigheid verbind twee aspekte – uitroeiing van armoede en ‘ubuntifikasie’, wat in 'n sekere sin die kwessie van eiewaarde en die waardigheid van die mense aanspreek. Die Ubuntu-pedagogie was 'n manier om met 'n pedagogie van hoop om te gaan. Dit is deur die interaksie tussen daardie drie aspekte – maatskaplike diversiteit, geregtigheid en pedagogiek van hoop – dat jy transformasie skep."

Dr Beryl Botman, voorsitter van die Russel Botman-beursfonds en US-alumna, het die Universiteitsgemeenskap aangemoedig om die visie van die gedenklesings te vergroot.

"Prof Botman se nalatenskap strek veel verder as hierdie lesings," het sy gesê. "Ons kan sy storie gebruik om dapper stappe te doen om verskillende verhale te vertel en om nuwe rigtings aan te durf. Deur sy groot wêreldwye netwerk en die verbintenisse wat hy gekoester het, te gebruik, kan ons sy nalatenskap vorentoe neem deur nuwe maniere te soek om ingewikkelde en moeilike kwessies aan te spreek." 

Ontvangers van beurs 

Roxanne Botman, komiteelid van die Russel Botman-beursfonds en 'n US-alumna, het daarna die agt ontvangers van die 2025 Russel Botman-beursfonds bekendgestel. Hulle is: Aidan Lucian Fletcher (MTh (Praktiese Teologie), Lando Joyi (HonsBSc Plantpatologie), Lwandisile Mhlanga (MIng Bedryfsingenieurswese), Kayla Ruiters, (MTh Praktiese Teologie), Celsey Farao (MBChB), Gabriella Clarke (BEd Grondslagfase), Aviwe Ndlaleni BSc (Molekulêre Biologie en Biotegnologie) en Liam Reese Pietersen (BIng Meganiese Ingenieurswese).

Lwandisile Mhlanga, MEng (Bedryfsingenieurswese – Logistiek en Voorsieningskettingstelsels), het namens die ontvangers gepraat en inspirasie uit die pasbekendgestelde Dare to Hope geput met die volgende stelling:

"Sommige van ons het sonder finansiering na hierdie Universiteit gekom, maar ons het dit gewaag om te hoop. Hierdie beurs maak daardie hoop 'n werklikheid." 

Merkers

Teologie

Verwante stories