Skip to main content
New research project will explore the long history of human relationships with extinct wildlife in South Africa.
Image by: Stefan Els

Nuwe navorsingsprojek sal die lang geskiedenis van die mens se verhouding met uitgestorwe natuurlewe in Suid-Afrika ondersoek.

Kunste, tale en sosiale wetenskappe

Prof Swart medeleier van nuwe internasionale projek oor uitsterwingsgeskiedenisse en museums

Stellenbosch University
04 Februarie 2026
  • Nuwe navorsingsprojek sal die lang geskiedenis van die mens se verhouding met uitgestorwe natuurlewe in Suid-Afrika ondersoek.
  • Die projek sal omgewingshistorici, kunstenaars, bioloë en museumkurators byeenbring.
  • Prof Sandra Swart is aan die Afrika-Antroposeennavorsingsentrum verbonde.

Die Navorsingsraad van Noorweë en die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika (NNS) gaan ʼn nuwe internasionale samewerkingsprojek oor uitsterwingsgeskiedenisse finansier.

Dié projek, Mens-omgewing-dierverhoudings in diep tyd (HEART), ondersoek die lang geskiedenis van die mens se verhouding met uitgestorwe natuurlewe in Suid-Afrika en spoor na hoe diere oor eeue van koloniale en postkoloniale verandering heen gejag, versamel, onthou en uitgestal is. 

Prof Sandra Swart van die Afrika-antroposeennavorsingsentrum aan die Universiteit Stellenbosch (US) is aan die spits van die Suid-Afrikaanse deel van die projek. As ʼn spesialis in diere- en omgewingsgeskiedenis speel sy ʼn kernrol om rigting te gee aan HEART se multispesie- en dekoloniale benadering, veral die fokus daarvan op Afrika se tasbare diere-erfenis en die geskiedenisse wat in museumversamelings ingesluit is.

“HEART bring omgewingshistorici, kunstenaars, bioloë en museumkurators byeen om vernuwende maniere te ontwikkel om langtermyn-uitsterwingsverhale te vertel en die publiek by omgewingsverlies te betrek. ʼn Verbintenis tot interdissiplinêre samewerking en tot ʼn heroorweging van hoe museums en erfenisinstellings uitsterwing oor ‘diep tyd’ vertel, is kernaspekte van die projek,” verduidelik Swart.

“Geskiedenis in Afrika is ʼn verhaal van veelvuldige spesies van die vasteland en strek verder as mense,” sê sy. “ʼn Verwaarloosde deel van Afrika-dierestudies is die tasbare erfenis daarvan. Daar word al hoe sterker beroepe gedoen vir die terugbesorging van artefakte en Europese museums verkeer onder toenemende druk om die onvervangbare fisiese oorblyfsels van die verlede terug te besorg.”

HEART pak hierdie debatte aan deur te ondersoek hoe uitgestorwe diere steeds saak maak danksy oorblyfsels, spore en voorstellings in museums – dikwels ver van die landskappe waarin hulle eens geleef het. Die projek ondersoek kwessies soos digitale repatriasie, omgewingsvertelkuns en openbare betrokkenheid, en vra hoe uitsterwing betekenisvol gemaak kan word sonder om die geskiedkundige en etiese kompleksiteit daarvan te vereenvoudig.

Uitsterwing word dikwels as ʼn eindpunt geag, maar vir historici is dit ook ʼn beginpunt – ʼn manier om te vra hoe mag, geweld, sorg en verantwoordelikheid oor spesies en oor tyd heen versprei word. Museums is sleutelruimtes waar hierdie vrae sigbaar en betwisbaar word,” sê Swart.

Die projek word gelei deur die Greenhouse-sentrum vir Omgewingswetenskappe aan die Universiteit van Stavanger in samewerking met die US, die Universiteit van Fort Hare en ʼn netwerk van vennote sonder winsbejag, insluitend die Sweedse Museum van Natuurgeskiedenis, die Stavanger-kunsmuseum, die Quagga-projek en die Robertson-museum in Suid-Afrika.

SA-uitstalling 

Een van HEART se vertoonuitsette sal ʼn uitstalling onder mede-kuratorskap in Suid-Afrika wees wat geskiedkundige navorsing, digitale modellering en artistieke interpretasie kombineer om stories van uitgestorwe diere vir hedendaagse gehore te laat herleef.

HEART ondersoek hoe om stories oor ‘diep tyd’ te vertel, hoe om digitale repatriasie van natuurhistoriese monsters te fasiliteer en hoe museums gehore by uitsterwingsgeskiedenisse kan betrek. Die uitstalling sal ook die kollig laat val op hedendaagse inisiatiewe van die Quagga-projek om uitgestorwe spesies te laat ‘herleef’ en op kunswerke met ʼn uitsterwingstema onder kuratorskap van die Stavanger-kunsmuseum.

“Uitsterwing is een van ons grootste omgewingsuitdagings,” sê prof Dolly Jørgensen, leier van HEART in Noorweë en mededirekteur van die Greenhouse-sentrum vir Omgewingswetenskappe. “Uitsterwing mag dalk as iets beskou word wat baie ver van die gemiddelde mens se ervaring verwyder is, maar almal kan met uitgestorwe diere omgaan deur oorblyfsels of spore wat in museumversamelings bestaan.” 

Deur geskiedkundige navorsing, museumpraktyk en kreatiewe betrokkenheid te kombineer het HEART ten doel om die verstaan, vertel en onthou van uitsterwing opnuut te bedink.

Merkers

Geskiedenis

Verwante stories