Skip to main content
President Cyril Ramaphosa delivered the keynote address at Stellenbosch University’s 7th Social Justice Summit in Cape Town.

President Cyril Ramaphosa lewer hoofrede by die Universiteit Stellenbosch se 7de Beraad oor Sosiale Geregtigheid in Kaapstad.

Nuus

President Ramaphosa vra vir gesamentlike optrede om honger te beëindig by US se prestigegeleentheid

Corporate Communication: Hannelie Booyens
17 Oktober 2025
  • President Cyril Ramaphosa lewer hoofrede by die Universiteit Stellenbosch se 7de Beraad oor Sosiale Geregtigheid in Kaapstad.
  • Beraad fokus op voedselsekerheid, klimaatsverandering en vrede as paaie na gelykheid en veerkragtigheid.
  • President onderskryf Musa-plan vir sosiale geregtigheid en dring aan op verenigde optrede teen honger en ongelykheid.

'n Ligte oomblik voor 'n ernstige boodskap 

Dit verg 'n baie groot persoonlikheid om die kalklig by die president van Suid-Afrika te steel – maar dit is presies wat Vrydagoggend aan die begin van die Universiteit Stellenbosch (US) se sewende Beraad oor Sosiale Geregtigheid by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) gebeur het.

Toe Abenathi Ntshotsho, 'n graad 7-leerder en hoofseun van die Laerskool Ikaya in Kayamandi, die verhoog betree het om die Xhosa-weergawe van die aanhef tot die Grondwet te lees, het sy senuwees die oorhand gekry. In 'n oomblik wat die volgepakte ouditorium laat skater het, het hy die president liefdevol op sy bynaam aangespreek – "Hello Cupcake". President Cyril Ramaphosa het met warmte en humor gereageer en het sodoende 'n beleefde toon aan 'n byeenkoms gegee het wat van Suid-Afrika se dringendste kwessies sou aanspreek: honger, ongelykheid en die reg op voedsel.

Die beraad, wat deur die US se Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) in vennootskap met die Verenigde Nasies, die regering en ander medewerkers aangebied is, het 'n indrukwekkende vergadering van leiers byeengebring om die tema, “Maatskaplike geregtigheid, voedselsekerheid en vrede: Paaie na gelykheid, solidariteit, volhoubaarheid en klimaatveerkragtigheid” (Social Justice, Food Security and Peace: Pathways to Equality, Solidarity, Sustainability and Climate Resilience) te verken.

Onder die hooggeplaastes teenwoordig was die US se Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, dr Nicky Newton-King, voorsitter van die US-raad, leiers van internasionale organisasies, insluitende die Verenigde Nasies en verskeie lede van die publiek, verteenwoordigers van die burgerlike samelewing en studenteleiers. 

‘Honger is nie 'n ongeluk van die geskiedenis nie’

Prof Thuli Madonsela, Direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid en bekleër van die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid in die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, het die beraad in haar verwelkomingstoespraak as 'n oomblik van verenigde morele afrekening beskryf. Sy het die gehoor daaraan herinner dat honger nie onvermydelik is nie, maar “die gevolg van menslike optrede en gebrek aan optrede”.

Madonsela het 'n beroep gedoen vir 'n geïntegreerde wêreldwye wet oor voedselsekerheid en die reg op voedsel, en het die Sentrum se voorneme aangekondig om 'n private kommissie op die been te bring om 'n modelwet oor voedselsekerheid, voeding en die reg tot voedsel te ontwikkel wat in die beginsels van die Verenigde Nasies se Komitee vir Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte se Algemene Opmerking 12 oor die reg op voedsel geanker is.

“Honger is nie net 'n morele kwessie nie, dit is 'n wetlike en volhoubaarheidskwessie," het sy gesê. “Ons vra president Ramaphosa om wêreldwyd deur die G20, BRICS, die Afrika-unie en die Verenigde Nasies voorspraak vir hierdie kwessie te doen. Ons glo Suid-Afrika kan die voortou neem.”

Madonsela het ook besin oor lesse van die sesde Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid, wat Woensdag en Donderdag by KIKS gehou is, wat die verband tussen honger, konflik en klimaatveerkragtigheid ondersoek het. “Vrede en klimaatstabiliteit word albei bedreig," het sy gewaarsku. "Maar vrede is meer as die afwesigheid van oorlog – dit gaan oor menslike veiligheid, oor geregtigheid en oor die beëindiging van straffeloosheid vir die skending van regte.”

Verwelkomingstoespraak: 'n Universiteit in diens van die samelewing 

Ramjugernath het afgevaardigdes verwelkom en die beraad as “'n oomblik van aanspreeklikheid” vir die Universiteit én die land beskryf. 

“Maatskaplike geregtigheid is nie vir die Universiteit Stellenbosch 'n abstrakte gedagte nie – dit staan sentraal in ons Visie 2040," het hy gesê. "Ons meet nie sukses aan stellings nie, maar aan die tasbare impak van ons werk – of dit nou 'n maaltyd is wat 'n honger student bereik, of 'n beleid wat die lewens van gewone Suid-Afrikaners verbeter.”

Ramjugernath het beklemtoon dat universiteite “enjins van openbare waarde en openbare belang” moet wees wat navorsing in beleid en sosiale impak moet omskep. Hy het die Universiteit se verbintenis herbevestig om studentehonger te beëindig en nasionale loodsprojekte te ondersteun wat die US se kampusse as "lewende laboratoriums" vir innovasie in voedselgeregtigheid en klimaatsveerkragtigheid gebruik.

“Maatskaplike geregtigheid is 'n spansport," het hy gesê. "Dit vereis dat die regering, die sakebedryf, die burgerlike samelewing en universiteite moet saamwerk om silo's af te breek en saam oplossings te skep.”

Boodskappe van vennootskap en aanspreeklikheid 

In 'n boodskap van ondersteuning het Newton-King die beraad daarvoor geloof dat dit een van die land se dringendste uitdagings in die kollig plaas. “Voedselonsekerheid raak die kern van maatskaplike geregtigheid," het sy gesê. "Ons kan nie honger in 'n land aanvaar wat so ryk aan hulpbronne en kundigheid is nie. Dit is ons gesamentlike plig – as regering, die sakebedrryf en universiteite – om blywende oplossings te vind.”

Premier Winde het hierdie oproep tot samewerking beaam en 'n “vennootskap vir maatskaplike geregtigheid” aangemoedig. Met verwysing na kommerwekkende data dat 45% van Suid-Afrikaners nie regdeur die maand voedselsekerheid het nie, het Winde gewaarsku dat vordering sedert die pandemie ongedaan gemaak is.

Hy het innoverende provinsiale inisiatiewe uiteengesit om honger en die belemmering van groei by kinders te bekamp, insluitende 'n vennootskap tussen Shoprite Checkers, die DG Murray Trust en die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, wat voedingsondersteuning aan ondergewig moeders en babas verskaf. “Niks keer 'n koeël soos 'n werk nie,” het Winde gesê. “Maar niks herstel waardigheid soos kos op die tafel nie. Ons moet dinge gedoen kry – saam.”

President Ramaphosa: ‘Die reg op voedsel is 'n toets vir ons verenigde gewete’

Ramaphosa het in sy geleentheidstoespraak die US en die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid vir sy leierskap in die bevordering van gelykheid deur die Musa-plan vir sosiale geregtigheid geloof en dit as “inspirerend en noodsaaklik” beskryf.

Hy het die beraad se tema binne Suid-Afrika se breër Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en die wêreldwye Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO’e) geplaas, en opgemerk dat die aftelling na 2030 “in alle erns begin het”. 

“Vryheid van honger is 'n morele én 'n ontwikkelingsimperatief,” het die president gesê. “Dit is 'n grondwetlike reg en 'n mensereg. Die verwesenliking van die reg op voedsel is nie net 'n maatstaf van beleidsukses nie. Dit is 'n toets vir ons verenigde gewete.”

Ramaphosa het die regering se verbintenis tot die vermindering van armoede en wanvoeding herbevestig deur die Nasionale Skoolvoedingsprogram, wat daagliks 9,7 miljoen leerders voed, en deur maatskaplike toelaes wat miljoene huishoudings onderhou. Hy het egter 'n beroep op groter aanspreeklikheid van die private sektor gedoen en groot voedselkleinhandelaars aangemoedig om hulle winsgrense te heroorweeg en “saam met die regering die lewenskoste te verlaag”.

“Die groot teenstrydigheid van ons tyd,” het hy gesê, “is dat wêreldwye voedselproduksie voldoende is om almal te voed, maar miljoene ly steeds honger. Dit is 'n mislukking van geregtigheid, nie van kapasiteit nie.” 

Die president het afgesluit met 'n belofte om die reg op voedsel binne Suid-Afrika se G20-presidentskap te verhef en nasionale prioriteite met wêreldwye pogings te belyn om honger te bekamp, klimaatsveerkragtigheid te versterk en menswaardigheid te handhaaf.

'n Oomblik van hoop en eenheid

Met die afsluiting van die oggendsessie was daar 'n tasbare gevoel van doelgerigtheid onder die afgevaardigdes – 'n erkenning dat maatskaplike geregtigheid, soos Madonsela al dikwels gesê het, “nie net oor ons gaan nie, maar oor geregtigheid vir ons almal.” 

Vir die US was die teenwoordigheid van die staatshoof by sy jaarlikse prestigegeleentheid vir maatskaplike geregtigheid nie net 'n baie trotse oomblik nie, maar ook 'n bevestiging van die Universiteit se verbintenis tot die bevordering van gelykheid, solidariteit en volhoubare ontwikkeling in Suid-Afrika en verder. 

Verwante stories