
Pediater van FGGW benoem tot SAMNR-raad
Prof Mark Cotton is onlangs benoem tot raadslid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR).
Cotton is 'n uitgelese professor by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch, en is die direkteur van FAM-CRU, 'n eenheid wat kliniese proewe vir infeksiesiektes doen. Dit is gesetel in die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die FGGW. Die eenheid neem aan verskeie toonaangewende internasionale multisentum-studies deel wat babas, kinders, swanger vroue en volwassenes insluit. Hy is ook die hoofnavorser by SUN-CTU (Universiteit Stellenbosch se eenheid vir kliniese proewe) wat deur die Nasionale Instituut van Allergie en Infeksiesiektes (NIAID) in die VSA befonds word.
Hy het die afgelope twee dekades 'n groot bydrae gemaak tot navorsing oor pediatriese infeksiesiektes, en veral tot die behandeling van pediatriese MIV. Vroeër vanjaar het hy 'n A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting ontvang.
As 'n raadslid van die SAMNR sal hy betrokke wees by die hersiening van die vordering van inisiatiewe wat deur die SAMNR befonds word. Hy sal die posisie vir drie jaar beklee.
"Ek sien uit daarna om meer te leer oor die SAMNR se aktiwiteite, en daartoe by te dra, en om met ander raadslede te skakel en by hulle te leer," sê Cotton.