Skip to main content
Nuwe Maties maak ’n verskil

Nuwe Maties maak ’n verskil

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
26 Januarie 2017

​Sowat vyf duisend nuwe Maties het op Donderdag, 26 Januarie deelgeneem aan die Universiteit Stellenbosch se jaarlikse Sosiale Impak-oggend. 

Hierdie hoogtepunt op die verwelkomingsprogram bied nuwelingstudente die geleentheid om die groter Stellenbosch-gemeenskap, waarvan hulle deel sal wees vir die volgende paar jaar, te ontmoet. Studenteverenigings en klusters saam met koshuise en Privaat Studente Organisasies (PSO's) neem deel aan 'n verskeidenheid aktiwiteite gedurende die oggend.

Mutali Mukwevho, 'n HK-lid van Irene-vrouekoshuis, is veral opgew

onde oor die projek wat sy vir Wimbledon-kluster help organiseer het. Die nuwe Maties het die oggend spandeer met die kinders van die werkers van die koshuise wat deel vorm van Wimbledon-kluster. Die projek beoog om die verhouding tussen die nuwelinge en die werkers se families se versterk.

"Die werkers spandeer dikwels meer tyd met ons as hul eie kinders," sê Mukwevho. "Hierdie is ons klein manier om iets terug te gee. Deur tyd met die kinder deur te bring, leer ons die werkers op 'n meer persoonlike vlak ken. Die kinders van die werkers is deel van ons gemeenskap."

"Dit maak nie saak waarvandaan jy kom nie, maak 'n verskil waar jy nou is," sê Mukwevho, wat van Limpopo afkomstig is. "Hierdie is nou ook my huis en gemeenskap."

Die projek, waar Maties die werkers se kinders met skoolwerk en enige vereistes vir toegang tot universiteit sal help, sal deur die jaar voortduur.

Ander nuwelinge het hul moue opgerol en klaskamers en geboue by St Ida's Primêre Skool en die Legacy-gemeenskapsprojek in Kayamandi, geverf.

"Dit is 'n goeie manier om almal te leer ken en ook iets terug te gee," sê Jean Pienaar, 'n eerstejaar by Wilgenhof. "Dit is 'n baie besige program, ons is heeltyd aan die gang."

Monica vrouekoshuis, wat Donderdag saamgespan het met Wilgenhof om klaskamers by St Ida's Primêre Skool te verf, is al 'n geruime betrokke by die Ida's Vallei-gemeenskap. Vrywilligers het voorheen as tutors opgetree vir die skool se leerders, en het in 2015 begin help om die geboue en klaskamers daar te verf.

"Ons wil ons verhouding met Ida's Vallei behou," sê Mapule Ramere, HK van die Sosiale Impak-portefeulje by Monica. "Ons weet hulle wil ook graag die tennisbane en voorskoolse badkamer geverf hê. Dit is baie opwindend om hulle te help, ek geniet dit vreeslik. Ons leer die kinders baie goed ken, en hulle is so oulik!"

Nuwe Maties het ook toebroodjies vir verskeie gemeenskapsprojekte en skole gemaak, skryfbehoeftes ingesamel en aan verskeie kleuterskole geskenk, rommel langs die Eersterivier opgetel en uitgehelp by die Wonder Plant-kwekery by die Hoërskool Kayamandi.

Die UNASA-studenteorganisasie het ook met Matie Gemeenskapsdiens (MGD) en KANSA (Kankervereniging van Suid-Afrika) saamgewerk om ʼn Shavathon te reël om alle studente by gemeenskapsdiens te betrek.

Gedurende die Shavathon kon Maties KANSA ondersteun deur hul hare te skeer of dit 'n helder kleur te spuitverf, in ruil vir 'n klein donasie.

Volgens Dr Antoinette Smith-Tolken, Waarnemende Hoof: Afdeling Sosiale Impak, is die doel van die Sosiale Impak-oggend om nuwe studente bekend te stel aan inisiatiewe vir gemeenskapsontwikkeling en om voort te bou op die kultuur van gemeenskapsbetrokkenheid wat by die Universiteit Stellenbosch bestaan.

"Sosiale Impak skep hoop en studente word aangemoedig om deur middel van hul koshuise, PSO's, studenteverenigings en fakulteitskomitees betrokke te raak by Sosiale Impak-inisiatiewe sodat hulle ʼn omvattende leerervaring kan geniet. Hopelik sal Sosiale Impak se aktiwiteite dié oggend baie Maties inspireer om betrokke te raak en ʼn verskil te maak," sê me Michelle Pietersen, Programbestuurder by Matie Gemeenskapsdiens (MGD).