
Nuwe Adjunkregistrateur vir die Tygerberg-kampus
Die Registrateursafdeling van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) maak graag bekend dat me Farah Fredericks aangestel is as die Adjunkregistrateur (Tygerberg-kampus) met intrede 1 Desember 2016.
Fredericks, wat aan die Hoërskool DF Malan gematrikuleer het, het 'n Honneursgraad in Sielkunde en is tans ingeskryf vir 'n MPhil-graad in Hoëronderwys. Sy is ook op ʼn institusionele vlak by bestuurstrukture betrokke – sy is ʼn uitvoerende lid van die Institusionele Forum, ʼn bemiddelaar vir die Gelykheidseenheid en het op ʼn aantal aanstellingskomitees vir senior bestuursposisies in die Universiteit gedien.
Dr Ronel Retief, die nuwe Registrateur van die US, wat voorheen die Adjunkregistrateur op die Tygerberg-kampus was, het Fredericks beskryf as ʼn "strategiese denker en vernuwer wat nie wegskram van verandering nie".
"Haar betrokkenheid in die Fakulteit op bestuursvlak, veral gedurende die afgelope paar moeilike maande vir die hoëronderwyssektor, is uiters waardevol. Sy het goed gevestigde verhoudings met beide formele studenteleierskap-strukture en individue, wat uiters belangrik is vir die pad vorentoe," het Retief gesê.
Fredericks het gesê sy voel geëerd om die posisie te betree. "Ek hoop dat ek kan bydra tot die ontwikkeling en inwerkingstelling van administratiewe strategieë en dienste wat die belewenis van studente op die Tygerberg-kampus sal verbeter. Ek voorsien dat ons dit kan bereik deur ʼn afdeling te wees wat rats en behendig is en vinnig kan reageer op die veranderings in hoëronderwys in Suid-Afrika. Verder moet ons gelyke en regverdige toegang tot die universiteit verseker en studentesukses bevorder," het sy gesê.
Die Dekaan van die FGGW, prof Jimmy Volmink, het gesê Fredericks het ʼn belangrike rol om te vervul, maar hy glo sy sal baie suksesvol wees. "Sy het ʼn besonderse insig in die maatskaplike en politieke realiteite waarmee ons personeel en studente gekonfronteer word en ʼn mensgerigte benadering wat goed inpas by die Fakulteit se visie. As ʼn strategiese denker en dapper leier sal sy nuwe energie en idees na studente-administrasie bring," het Volmink gesê.
Retief het gesê Fredericks se institusionele kennis, ervaring met studentewerwing, studente-ondersteuning en akademiese administrasie by die FGGW sal haar in staat stel om vinning op dreef te kom in haar nuwe rol.
"Haar vaardighede in terme van projekbestuur, stelselteorie, risikobestuur en strategie-ontwikkeling sal handig te pas kom sodat sy die Sentrum vir Studente-administrasie op die Tygerberg-kampus kan posisioneer om die akademiese projek te help ondersteun en ʼn vennoot te wees in terme van institusionele transformasie en vernuwing," het Retief gesê.