Skip to main content
Mapping-Die-Vlakte
Image by: Supplied

Wat in Die Vlakte se tyd ‘n gesinswoning was in Andringastraat, is vandag die ingang na die parkeerarea van die Bergzicht Plaza-gebou.

Impak

Mapping Die Vlakte: Restitution for a displaced community

Hannelie Booyens
Senior Writer
06 Oktober 2025
  • Eertydse inwoners van Die Vlakte het byeengekom vir die aanbieding van ‘n betekenisvolle navorsingsprojek wat diegene wat deur gedwonge verskuiwings uit die apartheid-era ontwortel is, se geskiedenis digitaal karteer.
  • Deur gebruik te maak van gevorderde GIS-tegnologie het navorsers en gemeenskapslede meer as 320 historiese terreine geïdentifiseer om herinneringe in ‘n lewende digitale argief van huise, winkels en gedeelde ruimtes te omskep.
  • Die projek het dialoog oor restitusie en herinnering ontlok, met deelnemers wat hulle daartoe verbind het om die kaart in 'n gemeenskapsgeleide staproete te ontwikkel om toekomstige geslagte van Die Vlakte se geskiedenis te leer.

Die strate van Stellenbosch hou herinneringe in wat vir die toevallige verbyganger grootliks verborge is. ʼn Bietjie meer as 60 jaar gelede het ʼn wrede lot ʼn dinamiese gemeenskap in die hartjie van die dorp te beurt geval, wat sedertdien uit die openbare oog gehou is. Op 25 September 1964 is 757 gesinne uit hulle huise gesit nadat die sentrale gebied bekend as “Die Vlakte” tot ʼn wit groepsgebied verklaar is.

Voormalige inwoners is by ʼn betekenisvolle geleentheid, “Kartering van Die Vlakte deur terugwaartse opmeting”, wat onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde aangebied is, genooi om die vrugte te geniet van ʼn navorsingsprojek wat gevorderde tegnologie gebruik om die waardigheid van ʼn gemeenskap te herstel wat steeds deur die traumatiese gedwonge verskuiwings gedurende apartheid geraak is.

Van identiteit beroof

“Die Vlakte” verwys na ʼn gebied in Stellenbosch wat geografies deur Mullerstraat, Van Ryneveldstraat, Banghoekweg, Smutsstraat, Merrimanlaan en Birdstraat omgrens is. Ná die gedwonge verskuiwing van ongeveer 5 000 mense is die gemeenskap uiteen gedryf en na drie gebiede aan die buitewyke van die dorp, insluitende Cloetesville, Kayamandi en Idasvallei, verskuif.

Die Kartering van Die Vlakte-byeenkoms, wat deur prof Aslam Fataar, uitgelese professor in die Departement Opvoedingbeleidstudie aan die US, gefasiliteer is, was die afsluiting van ʼn terugskouende opname-projek wat deur navorsers aan die Universiteit van Kaapstad (UK) in samewerking met lede van die Stellenbosch Vlakte-gemeenskapsforum onderneem is.

Terugwaartse opmeting behels die gebruik van opmeting- en karteringstegnieke om die ligging van terreine wat nie meer fisies bestaan nie – soos huise wat gedurende apartheid gesloop is – op te spoor en uit te merk, asook om ʼn ruimtelike argief van stories van daardie terreine te skep. Navorsers het gedurende hierdie projek nou met voormalige inwoners saamgewerk om te help om die herinnering aan die historiese gemeenskap van Die Vlakte te karteer en te bewaar.

Vir Joseph Jacobs, ʼn inwoner van Cloetesville en ʼn verteenwoordiger van die Stellenbosch Vlakte-gemeenskapsforum, lê daardie herinneringe in ontwrigte lewens en vernietigde huise. Hy het by die vergadering die gehoor daaraan herinner dat Die Vlakte eens ʼn diverse, hegte gemeenskap was voordat gedwonge verskuiwings ingevolge die apartheidsbeleid families uiteen gedryf en ʼn lewenswyse verwoes het.

“My ouers en hulle families het nooit oor hierdie geskiedenis gepraat nie,” het Jacobs vertel. “Hulle is beroof van ʼn gevoel van behoort, ʼn gevoel van identiteit. Dit was te pynlik om daaroor te praat. Maar as jy ʼn geheue het, het jy wortels,” het hy benadruk.

Terugwaartse opmeting as ʼn instrument van herstel

Die aanbieder van die geleentheid was dr Siddique Motala van die UK se Globale Digitale Erfenis-Afrika-navorsingsgroep en medeskepper van die metodologie van terugwaartse opmeting. Sy interdissiplinêre werk verbind geografie, digitale erfenis en sosiale geregtigheid en bied ʼn metode om uitgewiste gemeenskappe letterlik weer op die kaart te sit.

Deur oud-inwoners met behulp van argiefkaarte en digitale oorlegsels deur die “skimme” van hulle vorige huise te lei word geheue deur terugwaartse opmeting in ruimtelike kennis omskep. Motala het die projek in Stellenbosch as tegnies, maar ook diep menslik beskryf: “Toe ʼn voormalige inwoner, mnr Mogamad Ras, ons deur sy ou huis in Andringastraat gelei het, het hy nie net mure en vensters aangestip nie, maar ook die gesinslewe, gemeenskapsnetwerke en stories wat apartheid probeer uitwis het.” Die Ras-gesin het bykans ʼn eeu lank in Stellenbosch gewoon voordat hulle uitgesit is.

In ʼn aanbieding ter illustrasie van die projek se uitset het Tlotliso Mokomane, wat ʼn meestersgraad het en in geografiese inligtingstelsels (GIS), ruimtelike ontleding en historiese bewaring spesialiseer, ʼn foto van Ras gewys voor Andringastraat 107, waar hy grootgeword het. Hierdie terrein is nou die ingang na die parkeerarea van die Bergzicht Plaza-gebou. “Ons het saam met mnr Ras na die terrein teruggekeer en hy het vir ons gewys waar die sitkamer was, asook die kombuis en die kamer waar hy saam met sy broers en susters geslaap het,” het sy verduidelik.

Die interaktiewe digitale kaart, wat deur GIS-tegnologie en die getuienis van gemeenskapslede geskep is, dokumenteer meer as 320 punte in Die Vlakte, insluitend huise, skole, winkels en sosiale ruimtes. Benewens ʼn presiese ligging, omvat elke punt ook die stories van diegene wat dit eens beset het.

Ras het die navorsers gehelp om plekke soos die Gaiety-bioskoop, die Habib-winkel, Salie Bert se kleremakerswinkel en die Toefy Cash Store noukeurig aan te stip. Terwyl Motala die interaktiewe kaart gedemonstreer het, was hy vol lof vir Ras se merkwaardige geheue waardeur die geskiedenis nuwe lewe gekry het. “Ons kan nou vir julle die name gee van mense wat in elke straat in Die Vlakte gewoon het,” het Motala opgemerk terwyl hy na plekke op die kaart gewys het. “Die kinders in hierdie huis was Pietie, Abie, Rollie en Sheila. Dit was die Abraham-gesinshuis. Mnr Manual, ʼn musikant, het hier gewoon. Mnr Ras se geheue is verstommend…”

Gemeenskapstemme

Die geleentheid het ʼn diverse gehoor van bejaarde voormalige inwoners, gemeenskapslede, aktiviste en akademici gelok. Verskeie voormalige inwoners, soos Yusuf October, het roerend gepraat oor die pyn van verskuiwing, die veerkragtigheid van hulle gesinne en die belangrikheid daarvan om hulle stories op te teken.

Vir Moegammad Tahier Kara, ʼn meestersgraadstudent in onderwys aan die US en ʼn inwoner van Idasvallei, het die werkssessie persoonlik én akademies baie beteken. “Ek het die werksessie as uiters betekenisvol ervaar,” het hy gesê. “Dit het die temas rondom geheue, uitwissing en herstel waaraan ek werk in fokus gebring, maar op ʼn manier wat in fisiese ruimtes en geleefde geskiedenis gefundeer is. Om deur die stories te stap van die mense wat hierdie ruimtes eens voor gedwonge verskuiwings beset het, het my daaraan herinner dat geheue nie abstrak is nie, maar in plek, gemeenskap en behoort beliggaam word. Om deel van hierdie proses te wees het gevoel soos om aan pogings te werk om stilgemaakte stemme weer in te skryf in die landskappe waar hulle hoort.”

Voortgesette gesprek

Vir die US het die geleentheid ook diepsinnige historiese betekenis ingehou. Dit het dié instelling, die uitbreiding waarvan eens ten koste van gemeenskappe soos Die Vlakte geskied het, in ʼn voortgesette dialoog oor regstelling en versoening gedompel. Soos Fataar opgemerk het, gaan die terugwaartse opnemingsprojek nie bloot oor tegniese kartering nie. Dit gaan oor waarheidsvertelling, erkenning en uiteindelik oor restitusie.

Deur die insigte van oud-inwoners op te teken en dit weer in die geografie van Stellenbosch in te skryf, maak terugwaartse opneming dít wat verlore gegaan het, sigbaar en word verseker dat toekomstige geslagte hulle wortels na Die Vlakte kan naspeur. Dit lê ʼn grondslag vir gesprekke oor geregtigheid, behoort en die soort toekoms wat gemeenskappe wil bou.

  • ʼn Uitkoms van die bespreking was dat mense wat dit bygewoon het, hulleself daartoe verbind het om weer byeen te kom vir ’n bespreking oor hoe die kaart verder ontwikkel kan word en moontlik die grondslag van ʼn restitusie- en herinneringswandelroete kan vorm om onder meer die opvoeding van die jeug te fasiliteer. Hierdie proses sal deur die betrokke gemeenskap geëien word, met akademici en ander wat genooi word om by te dra.

Verwante stories