Skip to main content
Leer meer oor onderrig en leer

Leer meer oor onderrig en leer

Wilma Stassen
16 November 2016

Prof Ian Couper, die direkteur van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid, het onlangs die genootskap voltooi vir Teaching Advancement at Universities (TAU) wat poog om uitnemendheid in onderrig en leer in die hoëronderwys te bewerkstellig.

Die TAU-genootskapprogram, wat aangebied is deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Leer en Onderrig in Hoëronderwys (Higher Education Learning & Teaching Association of South Africa, HELTASA), het meer as 50 akademici van 23 hoëronderwysinstansies in Suid-Afrika bymekaar gebring om oor die vakgebied van leer en onderrig, uitnemendheid in onderrig, en verandering en transformasie te besin. Die deelnemers was van verskeie dissiplines regoor die onderwysspektrum.

Couper was een van drie Matie-academici in die program. Die ander twee was dr Elmarie Constandius vam die Departement  Visuele Kunste, en prof Prof Geo Quinot van die Departement Publiekreg.

"Ons kan maklik geïsoleer word in die gesondheidsberoepe-onderwys, maar baie van die kwessies waarmee ons te doen kry gebeur deur die bank in alle dissiplines – so ons kan baie van ander leer," sê Couper.

"Dit is een van die dinge wat ek die meeste geniet het van die genootskap – om idees uit te ruil en met mense van heeltemal ander dissiplines te skakel."

Volgens hom het die genootskap ook sy siening oor onderrig en leer verander. "Dit het my op 'n meer akademiese manier laat nadink oor onderrig en leer – nie net om dit aan te bied nie, maar om werklik om te gaan met die kwessies wat verband hou met onderrig en leer, en hoe ons nadink oor die vakgebied van leer," sê Couper.

Die 2015-2016 program was die eerste TAU-genootskap in Suid-Afrika, en Couper raai kollegas van die faklulteit aan wat in leer en onderrig belangstel om die geleentheid te oorweeg.

Foto: Die eerste groep TAU-genote en adviseurs by 'n byeenkom by die Karridenstrand-hotel in Durban.