Skip to main content
Internasionale Vrouedag: Ontluikende vroue-akademici in Afrika benodig meer mentor-geleenthede

Internasionale Vrouedag: Ontluikende vroue-akademici in Afrika benodig meer mentor-geleenthede

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
08 Maart 2022

Dit is nie altyd maklik vir ontluikende vroue-akademici in Afrika om vordering te maak in die hoëronderwysomgewing nie. Hulle word dikwels deur 'n gebrek aan mentorskap, navorsingsbefondsing en hul gesinslewe gekortwiek.

Dit is die bevinding van dr Phyllis Kalele wat onlangs haar doktorsgraad in Wetenskap- en Tegnologiestudie aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

Kalele het in haar doktorale navorsing die profiel van 'n ontluikende vroue-akademikus in Afrika vasgetel en het ook die mentorskap-ervarings, loopbaanuitkomste en uitdagings van ontluikende vroue-akademici in 25 lande in Afrika ondersoek. Sy het 'n sekondêre ontleding van bestaande data gedoen wat navorsers voorheen deur vraelyste en onderhoude as deel van die 'Jong wetenskaplikes in Afrika'-projek ingesamel het. Haar studie is die eerste in sy soort wat spesifiek fokus op hierdie groep akademici in verhouding tot hul karaktereienskappe, die omvang van die negatiewe uitwerking wat verskillende uitdagings op hul loopbane het, of hulle mentorskap ontvang, en die verband tussen mentorskap en hul loopbaanuitkomste.

Volgens Kalele is daar min inligting oor ontluikende vroue-akademici regoor Afrika beskikbaar en nog minder oor hul mentorskap-landskap en hoe mentorskap werklik werk.

Sy sê haar studie toon dat hierdie akademici verskeie uitdagings die hoof moet bied.

“Die meeste van die ontluikende vroue-akademici (sosiale wetenskaplikes, natuur- en landbou-wetenskaplikes, gesondheidswetenskaplikes en ingenieurs- en toegepaste tegnoloë) het aangedui dat 'n gebrek aan mentorskap, die handhawing van 'n balans tussen werk- en gesinsdruk, 'n gebrek aan befondsing vir navorsing en navorsingtoerusting, 'n gebrek aan opleidingsgeleenthede om professionele vaardighede te ontwikkel en 'n gebrek aan mobiliteitsgeleenthede hul loopbane tot 'n sekere mate negatief beïnvloed het.

“Die invloed van die eerste drie uitdagings was egter die grootste ten opsigte van die aantal vroue-akademici wat aangedui het dat dit 'n negatiewe uitwerking op hul loopbaan gehad het.

“Diegene in die ingenieurswese en toegepaste tegnologieë sou eerder 'n gebrek aan mentorskap as 'n negatiewe faktor in hul loopbane aandui as díe in die gesondheidswetenskappe."

Kalele wys egter daarop dat die oorgrote meerderheid van hierdie vroue-akademici mentorskap in die vorm van bekendstelling aan navorsingsnetwerke, 'n aanstelling in 'n pos, navorsingsmetodologie, wetenskaplike skryfwerk en die aanbieding van navorsingsresultate ontvang het.

“In teenstelling hiermee het baie minder mentorskap oor die neem van loopbaanbesluite en fondsinsameling ontvang.

“Slegs die helfte van hulle het navorsingsbefondsing ontvang. In 'n tipiese jaar het hulle baie van hul tyd aan konsultasie en baie min aan die vind van navorsingstoekennings bestee. Wat navorsingsuitsette aan betref, het hulle oor 'n tydperk van drie jaar gemiddeld 5,8 artikels in eweknie-beoordeelde akademiese vaktydskrifte gelewer; 0,3 boeke; 1,1 boekhoofstukke, 3,3 artikels na afloop van konferensies; en 5,0 konferensie-aanbiedings."

Volgens Kalele kan hierdie navorsingsuitsette verbeter indien die grootste uitdagings wat vroulike ontluikende akademici ondervind, aangespreek word.

Kanele sê daar is 'n verband tussen 1) wanneer vroue mentorskap in geldinsameling ontvang en die verkryging van navorsingsbefondsing; 2) om aan die een kant deur 'n mentor aan sy/haar navorsingsnetwerke voorgestel te word, en die gementorde se navorsingsuitsette aan die ander kant; en 3) om in die vorm van bekendstelling aan navorsingsnetwerke gementor te word en hoe gereeld gementordes deel is van intra-institusionele en nasionale samewerking.

Sy sê verder die vroulike ontluikende akademici was gemiddeld 40 jaar oud met twee kinders of afhanklikes en hulle was vir die meeste van die versorging en algemene huiswerk in hul gesin, verhouding of huishouding verantwoordelik.

Verder, sê Kalele, was die meeste ontluikende vroue-akademici permanent aangestel as senior dosente en 'n groot meerderheid van hierdie akademici het nog nooit buite hul geboorteland gewerk of studeer nie. Laastens was hierdie akademici geneig om saam met navorsers by hul eie instelling te werk. 

Aanbevelings

Volgens Kalele is daar 'n paar goed wat hoëronderwysinstellings kan doen om ontluikende vroue-akademici te ondersteun.

“Ontluikende vroue-akademici in Afrika is 'n heterogene groep mense vir wie 'n eensoortige benadering in mentorskap om hul loopbaanuitkomste aan te vul, nie doeltreffend gaan wees nie. Wanneer hoëronderwysinstellings intervensies deur mentorskap ontwerp, moet hulle eerstens die eienskappe van vroue-akademici in Afrika oorweeg wat die intervensies veronderstel is om te dien.

“Verder moet tersiêre instellings in Afrika mentorskapprogramme ontwerp en aanbied wat die verskaffing van mentorskap vir fondsinsameling teiken en dit moet in die vorm van die bekendstelling aan navorsingsnetwerke wees."

Kalele beklemtoon dat mentorskapgeleenthede in verskillende aspekte van ingenieurswese en toegepaste wetenskappe aan ontluikende vroue-akademici in Afrika beskikbaar gestel moet word, aangesien hulle die onwaarskynlikste is om gementor te word. Mentorskap moet ook deel van oriëntasie- en voortgesette-ontwikkelingsprogramme vir hierdie akademici wees.

Sy beveel aan dat hoëronderwysinstellings en ander organisasies wat navorsingsbeurse aanbied, dit moet oorweeg om opleiding aan ontluikende vroue-akademici te verskaf oor die verskillende aspekte van fondsinsameling soos die skryf van voorleggings en algemene hulpmiddelmobilisasiestrategieë ten einde die koers te verbeter waarteen hulle vir befondsing aansoek doen en dit verseker.

“As 'n mens in gedagte hou dat 'n gebrek aan mentorskap, die handhawing van 'n balans tussen werk- en gesinsdruk en 'n gebrek aan befondsing vir navorsing die drie grootste uitdagings is wat 'n negatiewe uitwerking op ontluikende vroue-akademici se loopbane het, is dit absoluut noodsaaklik dat die leierskap van tersiêre instellings of die lynbestuurders van hierdie akademici hiervan bewus gemaak word – of daaraan herinner word."