
Diacon ontvang 2016 Wetenskaplike Prys by The Union-konferensie
Prof Andreas Diacon het die 2016 Wetenskaplike Prys ontvang by The International Union Against Tuberculosis and Lung Disease se konferensie wat onlangs in Liverpool, in die VK, gehou is.
Diacon is 'n medeprofessor by die Universiteit van Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, 'n raadgewende pulmonoloog en die stigter en direkteur van Task Applied Sciences.
Hy was die hoofnavorser betrokke by van die grootste en suksesvolste tuberkulose-middelstudies oor die afgelope 10 jaar, en het 'n aansienlike bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die eerste nuwe TB-teenmiddel sedert die 1960s. Een van hierdie middels word nou deur die Wêreldgesondheidsorganisasie aanbeveel as deel van die standaard-behandelingsregimen vir veelvoudige-middelweerstandige TB. Die middel verminder ook die behandelingstydperk van 24 tot nege maande.
Diacon het ook 66 wetenskaplike artikels gepubliseer oor TB-navorsing oor die afgelope dekade.
Diacon se navorsingsgroep, TASK, fokus op kliniese middelstudies om die ontwikkeling en evaluasie van nuwe TB-teenmiddels te versnel. TASK verskaf hulp met die doeltreffende bestuur van studies vir die diagnose, behandeling en voorkoming van tuberkulose, asook ander siektes soos asma en chroniese obstruktiewe pulmonêre sindroom, waar nuwe en verbeterde behandelings dringend benodig word.