Wêreldhoofbeseringsdag: Kop gestamp? Weet wat om te doen
Nie elke stamp teen die kop is ernstig nie, maar sekere simptome vereis dringende mediese sorg. Op die vooraand van Wêreldhoofbeseringsdag (20 Maart) deel Kampusgesondheidsdiens wenke oor hoe om te bepaal of jy mediese hulp nodig het ná ’n hoofbesering.
Kry onmiddellik mediese hulp indien:
Skakel ER24 (nommer agter op jou studentekaart) of gaan na die naaste ongevalle indien die stamp baie hard was, soos tydens ’n motorongeluk, 'n val van ’n hoogte af, of indien enige van die volgende simptome voorkom:
- Bewusteloosheid, al is dit net kortstondig
- Verwarring
- Stuiptrekkings of aanvalle
- Swakheid, verlies van gevoel of onvermoë om arms of bene te beweeg
- Dubbelvisie of aanhoudende dowwe visie
- Herhaalde braking
- Toenemende slaperigheid, rusteloosheid of ongewone gedrag
- Erge of verergerende nekpyn
- ’n Sigbare duik of misvorming van die skedel
- Die beseerde persoon is jonger as vyf jaar
Indien jy onseker is, is dit altyd die veiligste om noodhulp te kry.
Indien jy geen van bogenoemde simptome het nie:
- Maak die volgende dag ’n afspraak met ’n dokter wat vertroud is met harsingskudding
- Rus en gee jou liggaam tyd om te herstel
- Vermy alkohol en strawwe fisiese aktiwiteite
- Beperk skermtyd (fone, skootrekenaars en speletjies)
- Indien die persoon se toestand bestendig is en geen simptome toon nie, is dit nie nodig om die hulle herhaaldelik gedurende die nag wakker te maak nie
Indien simptome op enige stadium vererger, kry dringend mediese hulp.
Wat Kampusgesondheidsdiens bied
Kampusgesondheidsdiens (KGD) is toegerus om studente en personeel te ondersteun:
- Spesialisdokters in Sport- en Oefengeneeskunde, insluitend ’n konsultant verbonde aan Sports Concussion South Africa.
- Alle KGD-dokters is opgelei in die bestuur van harsingskudding.
- Kliniese verpleegkundiges is beskikbaar om pasiënte te evalueer en te adviseer indien ’n doktersondersoek nie bekostigbaar is nie.
Wanneer jy ’n afspraak maak, lig asseblief ontvangs in dat jy oor ’n moontlike harsingskudding bekommerd is. Jy sal eers deur ’n kliniese verpleegkundige geëvalueer word en, indien nodig, na ’n dokter verwys word.
Stellenbosch-kliniek: 021 808 3496 / 3494
Tygerberg-kliniek: 021 938 9095
E-pos: [email protected]
Indien die besering aan diebs opgedoen is, meld dit by jou lynbestuurder aan. Onthou om jou ID na jou afspraak saam te bring.