Skip to main content

Jongste nuus oor oorstroming op Stellenbosch-kampus

20 April 2026

Beste kollegas en studente

Die Universiteit Stellenbosch (US) het weens die swaar reënval in die Wes-Kaap die afgelope naweek oorstromings op sekere plekke op die Stellenbosch-kampus ondervind, insluitende die US Biblioteek, dele van die Neelsie Studentesentrum en sommige studentehuise. 

Die Universiteit gee die versekering dat die situasie aktief bestuur word, met aangewese reaksiespanne van Kampusontwikkeling, Infrastruktuur en Dienste (CDIS) wat vinnig op kampus ontplooi is. Wat veral van belang is, is dat daar geen beserings aangemeld is nie en ons is dankbaar dat die Universiteit se bedrywighede kan voortgaan ondanks waterskade op sommige plekke.

Personeel en studente word versoek om die volgende in gedagte te hou ten einde almal se veiligheid te verseker en reaksiepogings te ondersteun: 

  • Vermy gebiede wat geraak is en waar toegang beperk is, of waar opruimingswerk tans aan die gang is.
  • Wees versigtig wanneer julle op kampus beweeg, veral in laagliggende gebiede of dele wat deur die water geraak is.
  • Moenie probeer om te voet óf per voertuig deur oorstroomde gebiede te beweeg nie.
  • Volg alle instruksies wat deur Kampussekuriteit of koshuispersoneel uitgereik is. 

Ondersteuning word aan studente op kampus gebied wat deur die oorstromings geraak is. Dit sluit reëlings vir alternatiewe verblyf in waar nodig. Alle US-koshuise bly egter ten volle operasioneel. Die Universiteit bly in aanraking met pendelstudente wie se tuisgemeenskappe moontlik geraak is en die US sal rampbestuursagentskappe op Stellenbosch in hulle pogings ondersteun. Opruimings- en herstelwerk is tans aan die gang by die plekke wat deur die oorstromings geraak is.  

Assesserings van fasiliteite wat deur die oorstromings geraak is, is aan die gang en daar sal meer nuus oor biblioteekdienste bekendgemaak word. Intussen word studente aangemoedig om van die ander studieplekke op kampus te gebruik.

Ons besef hierdie toestande kan ongerief en kommer veroorsaak. Wees asseblief verseker dat die Universiteit ten volle gemobiliseer is en alle toepaslike dienste se pogings koördineer om ons kampusgemeenskap te ondersteun. 

Baie dankie aan alle studente en personeel wat gister bereid was om te help waar nodig. Dit was verblydend om te sien hoe Maties mekaar in krisistye ondersteun en bystaan. 

Ons versoek lynbestuurders om redelike versoeke van personeel wat deur die swaar reën geraak is, te akkommodeer om van die huis af te werk waar dit nodig mag wees en operasioneel prakties moontlik is. Die akademiese program gaan vandag (20 April) soos geskeduleer voort en dosente word versoek om waar moontlik, hulle lesings in die klas op te neem vir daardie studente wat weens die ontwrigting nie klas kan bywoon nie.

Ons bedank julle vir jul samewerking en begrip. 

Dr Ronel Retief
Registrateur and waarnemende Rektor en Visekanselier