Alle registrasiedienste in Coetzenburg-sentrum saamgetrek
Vir die volle registrasietydperk in 2026 sal die kern-registrasiespan, alle diensafdelings wat by registrasie betrokke is en steuneenhede in die Coetzenburg-sentrum saamgetrek word om ‘n een-stop studentediens te bied. Werksareas sal vir onder meer die Sentrum vir Akademiese Administrasie, Studente-inligtingstelselondersteuning, Studente Akkommodasie Kantoor, Kliëntedienssentrum, Sentrale Aansoekkantoor, Stellenbosch Internasionaal, Studentekaarte en Studente-finansies (beurse en studentegelde) afgebaken word.
Die registrasie-hub sal van 8 – 11 Januarie 2026 ingerig word, en van 12 Januarie tot 20 Februarie 2026 ten volle operasioneel wees gedurende die toelatings-, registrasie- en modulewysigingstydperk.
“Die Coetzenburg-sentrum is ‘n ideale lokaal omdat dit ‘n meer beheerde omgewing en voldoende parkering bied, en minder aan ontwrigting blootgestel is, maar ook oor voldoende ruimte en infrastruktuur beskik om die registrasieproses effektief te ondersteun,” sê mnr Ashmind Daniels.
Die gereelde pendeldiens vir personeel en studente tussen die parkeerplekke by die Konservatorium in Neethlingstraat en die Coetzenburg-sentrum sal ‘n aangepaste voertuig met hulpmiddels insluit.
Bykomende sekuriteitsmaatreëls word getref, en kosstalletjies sal volgens die gradeweek-model vir die duur van die registrasietydperk verversings op die terrein verkoop. Maties FM, Pokkel en die Maties pop-up-winkel sal met vermaak en studente-deelname ‘n genotvolle registrasie-ervaring help skep, veral gedurende spitswagtye.
Sleuteldatums en aktiwiteite
Aanlyn registrasie-ondersteuning
- 12 Januarie 2026: aanlyn registrasie open vir senior voorgraadse studente (oorskakelingstudente uitgesluit) en nagraadse studente.
- 22 Januarie 2026: aanlyn registrasie open vir nuweling-eerstejaarstudente.
Ondersteunde registrasie op die Stellenbosch-kampus
- 26 Januarie – 6 Februarie 2026: ondersteunde registrasie vir senior studente (oorskakelingstudente ingesluit) soos in die fakulteitskedules aangedui.
- 2 – 3 Februarie 2026: ondersteunde registrasie vir nuweling-eerstejaarstudente soos in die fakulteitskedules aangedui.
Registrasie-wysigings
- 9 – 20 Februarie 2026: modulewysigings vir alle fakulteite.