Skip to main content

Aankondiging: Aanstelling van proviserektore

06 Oktober 2025

 

Beste kollegas en studente

Ten einde Visie 2040 en ons aspirasies te verwesenlik om die voorste navorsingsintensiewe universiteit op die vasteland van Afrika te word, moet ons ons akademiese uitnemendheid en administratiewe effektiwiteit en doeltreffendheid verbeter. Om hierdie inisiatiewe tot uitvoering te bring, het ons die rol van proviserektor (PVR) ingestel. 

Die rol van PVR by die Universiteit Stellenbosch (US) is 'n prestigeryke, strategiese leierskapsrol wat ontwerp is om institusionele prioriteite te ondersteun en te bevorder sonder dat dit met bestaande rolle binne die Universiteit se oorsigbestuur, bestuur en akademiese struktuur oorvleuel of dit onderskep. Daar word van die PVR verwag om intern en ekstern, asook nasionaal en internasionaal, as 'n ambassadeur van die Universiteit en die Visekanselier op te tree, en 'n gespesialiseerde nisdomein van werk en die instelling se waardes en strategiese prioriteite te beliggaam en te bevorder. 

Die rol behels die verteenwoordiging van die US in nasionale en internasionale forums, die bou van verhoudings met belanghebbers en om tot die Universiteit se akademiese verbetering en finansiële volhoubaarheid deur innoverende strategieë en inisiatiewe by te dra.

Terwyl die rol beduidende invloed het, funksioneer dit aanvullend tot die rolle van direkteure, senior direkteure, die registrateur, hoofdirekteure, dekane, viserektore en die rektoraat, om te verseker dat bestaande mandate en afvaardigings gerespekteer en ondersteun word, eerder as om dit te vervang. Die rol van PVR is dus katalities van aard en bied denkleierskap, integrasie en strategiese uitvoering om sleutelinisiatiewe vorentoe te neem. 

Ek wil julle graag meedeel dat die Universiteit met die aanstellingsproses van PVR'e begin het, met die eerste twee wat die PVR: Kwantumtegnologie en Kunsmatige Intelligensie en die PVR: Institusionele Doeltreffendheid is.

Prof Francesco Petruccione, die Direkteur van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaarwetenskappe en professor in kwantumrekenaarkunde aan die US, sal die pos van PVR: Kwantumtegnologie en Kunsmatige Intelligensie aanvaar en prof Wikus van Niekerk, die Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die US, dié van PVR: Institusionele Doeltreffendheid.

Prof Petruccione sal in sy hoedanigheid as PVR: Kwantumtegnologie en Kunsmatige Intelligensie 'n deurslaggewende rol speel om rigting te gee en die US se reputasie as 'n leidende krag in die kwantumruimte te bou en die toekomstige moontlikhede van kunsmatige intelligensie te omarm en 'n balans tussen akademiese uitnemendheid en werklike impak te vind. Die PVR: Kwantumtegnologie en Kunsmatige Intelligensie sal aan die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Internasionalisasie verslag doen, met 'n bykomende verslagdoeningslyn aan my kantoor. 

As PVR: Institusionele Doeltreffendheid sal prof Van Niekerk in en saam met toepaslike institusionele omgewings en kollegas werk om die algehele effektiwiteit en doeltreffendheid van institusionele bedrywighede te verbeter, met die fokus op aspekte soos beweeglikheid en deurlopende prosesverbetering. Die PVR: Institusionele Doeltreffendheid sal aan die Uitvoerende Bedryfshoof verslag doen, met 'n bykomende verslagdoeningslyn aan my kantoor. 

Ek wil professors Petruccione en Van Niekerk saam met julle gelukwens met hulle nuwe rolle in diens van ons instelling en wens hulle alles van die beste toe. 

Vriendelike groete 

Prof Deresh Ramjugernath
Rektor en Visekanselier

Meer oor die proviserektore: 

Prof Francesco Petruccione het by die US as professor in kwantumrekenaarwetenskap en direkteur van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (NITheCS) aangesluit.

Hy is in Genua, Italië gebore en het sy reis in die vakgebied van fisika aan die Universiteit van Freiburg begin, waar hy sy PhD- én sy "Habilitasie"-graad verwerf het. 

Hy het verskeie poste aan die Universiteit van Freiburg tot sy bevordering tot adjunkprofessor in 2001 beklee. Sy werk in kwantumfisika het hom na Suid-Afrika gelei, waar hy in 2004 as professor in teoretiese fisika aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) aangestel is. Die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel vir Kwantuminligtingverwerking en -kommunikasie is in 2007 ter erkenning van sy bydrae tot die vakgebied aan hom toegeken. Hy het by die UKZN ook as PVR: Groot Data en Informatika gedien. In 2020 het hy die taak gekry om die NITheCS op die been te bring en het as tussentydse direkteur gedien totdat hy in 2024 as direkteur aangestel is. 

Petruccione is 'n lid van verskeie wetenskaplike verenigings, insluitende die Akademie vir Wetenskappe van Suid-Afrika, die Koninklike Vereniging van Suid-Afrika en die Afrika-akademie van Wetenskappe.

Prof Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die US, het 'n PhD aan die Universiteit van Kalifornië-Berkeley en 'n Uitvoerende MBA aan die Nagraadse Sakeskool van die Universiteit van Kaapstad verwerf. Hy is ook 'n geregistreerde professionele ingenieur by die Ingenieursraad van Suid-Afrika.

Nadat hy die Sasol-leerstoel vir Voertuigingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria beklee het, het hy in 2000 by die US aangesluit. Hier was hy Hoof van die Afdeling Meganika, Voorsitter van die Departement Meganiese Ingenieurswese en Direkteur van die Instituut vir Termodinamika en Meganika. Hy is die stigtersdirekteur van die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudie en het 'n leidende rol gespeel om navorsings-, onderrig- en opleidingsprogramme in hernubare energie te vestig en finansiering en beleid op nasionale vlak te beïnvloed. 

Van Niekerk word gereeld deur die bedryf oor 'n verskeidenheid onderwerpe geraadpleeg, insluitende hernubare energiestelsels en tegnologie; son-, wind- en oseaanenergie; en energiebeleid en navorsingstrategie. Hy is 'n eregenoot van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Meganiese Ingenieurswese en 'n genoot van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Ingenieurswese.