Skip to main content
Chess
Sport

Op pad met die bord: Andile Sibanda se reis na die Statebond Skaakkampioenskappe

Jamie Wyngaardt
15 Mei 2026
  • Vir Andile Sibanda was skaak nog nooit net ’n spel nie. Dit was ’n reis, gevorm deur deursettingsvermoë, dissipline en geloof in haarself.
  • Nou, terwyl sy voorberei om Suid-Afrika vir die eerste keer by die Statebond skaakkampioenskappe te verteenwoordig, is haar verhaal een van groei, volharding en die moed om geleenthede aan te gryp.

Sibanda het reeds in haar laerskooldae met skaak kennis gemaak toe die spel meer ’n seisoenale aktiwiteit as ’n ernstige strewe was. “Ek het begin speel toe ek nog op laerskool was, maar dit was eintlik net vir die skool,” vertel sy. Dit was eers op hoërskool, onder leiding van ’n toegewyde afrigter, dat haar verhouding met skaak begin ontwikkel het tot iets meer betekenisvol.

Aanvanklik het sy nie ’n passie vir die spel van skaak gehad nie. Dit was eerder haar afrigter se geloof in haar potensiaal wat haar toewyding aangevuur het. “Ek het nie regtig so baie daarvan gehou nie, maar toe ek sien hoeveel moeite hierdie persoon vir my doen, het ek aangehou,” sê sy. 

Met verloop van tyd het sy net so baie moeite soos haar afrigter begin doen, en Sibanda het haar eie vermoë begin raaksien en ’n opregte liefde vir die spel ontwikkel.

Haar pad was egter nie sonder struikelblokke nie. Finansiële uitdagings het haar dikwels verhinder om aan toernooie deel te neem waarvoor sy gekwalifiseer het. Dit het haar laat wonder dit die moeite werd was om met skaak voort te gaan. Tog het die aanmoediging van mense om haar, haar gemotiveer om vas te byt. “Ek is bly ek het na hulle geluister, want ek het hierdie keer beter gevaar by die toernooi,” vertel sy.

Een van die bepalende aspekte van Sibanda se skaak-reis is haar vermoë om akademie en mededingende skaak te balanseer. Op hoërskool het sy dié uitdaging aangepak toe sy akademiese programme op Saterdae en toernooie oor naweke moes balanseer. Met die ondersteuning van haar ouers — wat dit duidelik gemaak het dat haar akademiese prestasie nie daaronder mag ly nie — het sy vroeg reeds dissipline aangeleer.

“Ek moes leer dat jy ’n boek saam na jou skaaktoernooie kan neem, en dat dit werk,” verduidelik sy.

Vandag is Sibanda ’n tweedejaar-mediese student wat ’n veeleisende graad volg terwyl sy steeds haar skaakdrome nastreef. Sy skryf haar suksesvolle balansering van beide haar wêrelde toe aan noukeurige tydbestuur en gestruktureerde beplanning.

“Ek sit net ’n uur of twee opsy om aan my skaak te werk,” sê sy, en beklemtoon die belangrikheid van konsekwente inspanning, selfs binne ’n besige program. Sy is ook vinnig om die wanopvatting uit te daag dat skaak min voorbereiding verg. Volgens haar kom sukses net deur studie van die spel, die ontleding van wedstryde en voortdurende verbetering.

Haar komende deelname aan die Statebond Skaakkampioenskappe is ’n belangrike mylpaal. Kwalifikasie is uiters mededingend, met Suid-Afrika se top-gekeurde spelers wat genooi word om vir beperkte plekke mee te ding. Sibanda was al voorheen naby daaraan om te kwalifiseer toe sy onder die top tien geëindig het. Dit sal egter haar eerste geleentheid wees om internasionaal deel te neem.

Die prestasie dra diep persoonlike betekenis. Sibanda onthou ’n oomblik op hoërskool toe sy ’n soortgelyke geleentheid misgeloop het en ’n belofte aan haarself gemaak het: “Ek het in die spieël gekyk en gesê ek sal sterker terugkom met daardie groen baadjie.”

Nou word daardie belofte aan haarself ’n werklikheid, terwyl sy voorberei om haar nasionale kleure op die internasionale verhoog te dra.

Ofskoon sy beslis baie opgewonde is, erken Sibanda dat daar ook ’n element van druk is. Om Suid-Afrika te verteenwoordig bring verwagtinge, veral as ’n geborgde speler. Tog bly sy gegrond en sien sy die ervaring as ’n geleentheid om te groei.

“In skaak gaan dit oor hoe jy daardie dag jou stukke op die bord beweeg. Ek glo altyd ek het ’n kans,” sê sy.

Ondersteuning van die Stellenbosch Universiteit het ’n belangrike rol in haar reis gespeel. Van hulp met logistiek tot ondersteuning namens haar, het die Universiteit gehelp om die finansiële en administratiewe uitdagings te verlig. 

Sibanda praat met groot dankbaarheid oor die personeel wat ekstra moeite gedoen het om seker te maak sy kan deelneem.

“Almal was net so ongelooflik behulpsaam. Ek is baie dankbaar,” vertel sy.

Weg van die skaakbord en lesingsale het Sibanda ook maniere gevind om ’n gebalanseerde studentelewe te handhaaf. Sy waardeer die gevoel van gemeenskap wat sy deur sosiale en kerk aktiwiteite opgebou het, wat haar ondersteuning en ontspanning bied te midde van haar veeleisende program.

Terwyl sy voorberei om in Mei na die kampioenskappe te vertrek, dra Sibanda nie net haar eie drome saam nie, maar ook die hoop van almal wat haar deur die jare ondersteun het. Hoewel sy erken dat die geleentheid met uitdagings gepaardgaan, sy slaggereed is om elke een aan te pak.

“Ek weet dit gaan ’n moeilike een wees, maar ek is gereed vir die stryd,” sê sy.

Met vasberadenheid as haar strategie en deursettingsvermoë as haar krag, is Andile Sibanda gereed om haar skuif op die internasionale verhoog te maak.

Merkers

Sport

Verwante stories