Magister in Openbare Gesondheidsvoeding
Die program bied interdissiplinêre opleiding in openbare gesondheidsvoeding, voedsel- en voedingswetenskap om afgestudeerdes vir loopbane as wetenskaplikes, navorsers, openbare gesondheidsvoedingskundiges en bestuurders in die openbare gesondheidspraktyk, staatsagentskappe, akademiese instellings, gesondheidsorgstelsels en die privaat sektor voor te berei.
Spesifieke toelatingsvereistes
Vir toelating tot die gestruktureerde stroom word ’n NKR-vlak 8-kwalifikasie (of internasionale ekwivalent) in die gesondheidswetenskappe of landbouwetenskap vereis, asook bewyse dat jy voedingsmodules op voorgraadse/nagraadse vlak afgehandel het. Ervaring en praktiese ondervinding in openbare gesondheidsvoeding sal as ’n bykomende voordeel dien.
Vir toelating tot die navorsingstroom moet die kandidaat oor bogenoemde, plus kennis van navorsingsmetodologie en ondervinding in die beplanning en implementering van ’n navorsingsprojek (op voorgraadse vlak en professioneel) beskik, of andersins ’n bevoegdheidstandaard bereik het wat deur die Senaat as voldoende vir hierdie doel beskou word.
Slegs ’n beperkte getal studente word jaarliks gekeur.
Let wel: Een kontaksessie (by die Universiteit Stellenbosch, Tygerbergkampus) van een week in die eerste jaar is verpligtend vir die gestruktureerde en die navorsingstroom.
Let wel: Kandidate wat nie hulle gemeenskapsdiensjaar (indien ter sake) in hulle eerste studiejaar (SA burgers) moet onderneem nie, sal voorkeur geniet. Kandidate kan gedurende hulle gemeenskapsdiensjaar vir die volgende jaar aansoek doen, indien hulle sou belangstel. Alle ander kandidate doen soos gewoonlik aansoek.
Gestruktureerde Stroom
Aansoekprosedure en sluitingsdatum
Doen teen 30 September (plaaslike studente) of 31 Augustus (internasionale studente) van die voorafgaande jaar aanlyn by www.su.ac.za aansoek.
Duur van program
Die program strek oor ’n minimum van twee jaar.
Programbeskrywing
Dit is ’n gestruktureerde program wat uit verskeie teoretiese modules en ’n navorsingsprojek (50% van die totale krediete) bestaan. As die akademiese jaar oor 45 weke strek, sal jy na verwagting 20 uur per week bestee om die program binne twee jaar af te handel.
Programinhoud
(50% teoretiese modules; 50% navorsingsprojek)
| Modulenaam | Verpligtend / Opsioneel | Jaar | |
| Voedingsepidemiologie | Verpligtend | 1 | |
| Openbare gesondheidsvoedingsbeleide en -programme | Verpligtend | 1 | |
| Openbare gesondheidsvoeding (studente kies 3 van die opsies volgens ’n rooster) | Verpligtend | 1 | |
Keusevakke (kies 3)
| Voeding, gesondheid en die omgewing | Opsioneel | 1 |
| Voedselsekerheid | Opsioneel | 1 | |
| Gevorderde voedingsontleding | Opsioneel | 1 | |
| Voedsel, voeding en bestaansmiddele in humanitêre noodgevalle | Opsioneel | 1 | |
| Voeding en ekonomiese, menslike en maatskaplike ontwikkeling | Opsioneel | 1 | |
| Voeding in gesondheid en die voorkoming van siektes | Opsioneel | 1 | |
| Navorsingstesis in openbare gesondheidsvoeding (50% van totale krediete) | Verpligtend | 2 | |
Navorsingstroom
Aansoekprosedure en sluitingsdatum
Doen teen 30 September van die voorafgaande jaar aanlyn by www.su.ac.za aansoek. Aansoeke vir voornemende internasionale studente sluit op 31 Augustus.
Duur van program
Die program strek oor ’n minimum van twee jaar.
Programbeskrywing
Die program bestaan uit ’n navorsingsprojek (100% van die totale krediete) sonder enige teoretiese modules. As die akademiese jaar oor 45 weke strek, sal jy na verwagting 20 uur per week aan die afhandeling van die program bestee.
Jy moet ’n navorsingsprojek beplan en implementeer, en ’n tesis (of verkieslik twee artikels) vir publikasie in ’n gerefereerde vaktydskrif indien, in die formaat soos in die studiegids gespesifiseer.
Programinhoud
(100% navorsingsprojek)
| Modulenaam | Verpligtend / opsioneel |
| Navorsingstesis in openbare gesondheidsvoeding (100% van totale krediete) | Verpligtend |