Skip to main content

Gehalteversekering

 Gehalteversekering vloe​​i deur al die aktiwiteite van die Biblioteek- en Inligtingsdiens van die Universiteit Stellenbosch. Die Gehalteversekeringskomitee gee rigting aan die Biblioteek se gehalteversekeringsinisiatiewe.​

Doel van Gehalteversekeringskomitee

Die doel van die Gehalteversekeringskomitee is die ontwikkeling van toepaslike prosedures wat die standaarde van biblioteekdienste en –fasiliteite kan moniteer, handhaaf en verbeter. Dit moet geskied in ooreenstemming met die Biblioteek- en Inligtingsdiens se strategiese rigtings en die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Akademiese Beplanning en Gehalteversekering.

Doelwitte en oogmerke

Die doelwitte van die Komitee is:

  • om kennis te hê van die gehalteversekeringsbeleid van die Universiteit en om die Biblioteek se strategiese fokusareas te belyn met die raamwerk van die Universiteit;
  • om alle gehalteversekeringsprojekte van die Biblioteek te koördineer, bv. LibQUAL, UX-aktiwiteite (gebruikerservaring), eksterne en interne evaluering en fokusgroepe;
  • om normstelling en vergelyking met nasionale en internasionale universiteitsbiblioteke te onderneem, bv met die CHELSA nasionale statistiek;
  • om alle bestuursinligting te koördineer en om statistiek wat deur die Biblioteek versamel word, op datum te hou;
  • om verslag te doen oor biblioteekstatistiek en dit te visualiseer;
  • om deurlopende verbetering van biblioteekdienste en -fasiliteite te fasiliteer; en
  • om aanspreeklikheid vir alle biblioteekaktiwiteite wat gehalteverskering raak, te verseker.

Gehalteversekeringshulpmiddele

Die volgende hulpmiddele word deur die Biblioteek gebruik om gehalte te verseker:

 

Die Biblioteek het in 2022 'n selfevalueringsondersoek sowel as ewekniebeoordeling ondergaan. Dit was die vierde ondersoek wat die Biblioteek ondergaan, met die voriges in 2013, 2008 en 2005.

Die ewekniebeoordelaars van 2022 se 18 aanbevelings is deur die Biblioteek in 'n aksieplan ontwikkel wat oor die bestek van twee jaar geïmplementeer sal word.

Die Biblioteek werk aan hierdie aksies en berei opvolgverslae oor die vordering wat met die aanbevelings gemaak word vir die Universiteit se Gehalteversekeringskomitee voor.

Die Biblioteek heg groot waarde aan die terugvoer wat van kliënte ontvang word aangaande hulle ervaring van die Biblioteek se dienste. Laat ons asseblief weet wat in die verlede vir jou goed gewerk het en waar ons nodig het om te verbeter. Gee jou terugvoer hier.

Die Biblioteek gebruik LibQUAL, 'n internasionaal erkende aanlyn hulpmiddel om kliënte se tevredenheid met biblioteekdienste te bepaal. LibQUAL kan ook gebruik word om die Biblioteek te vergelyk met biblioteke wêreldwyd. LibQUAL opnames is in 2021, 2016, 2012, 2008 en 2005 onderneem.

Die Biblioteek onderneem ook ander opnames. In 2020 was ons doel om vas te stel wat ons kliënte se behoeftes, ervaring en uitdagings ten opsigte van die gebruik van ons aanlyn dienste en hulpbronne gedurende die Covid tydperk was. In 2019 is fokusgroepe gebruik om navorsers en nagraadse studente se ingesteldheid ten opsigte van ons navorsingsteundienste te ondersoek. In 2024 gaan 'n opname gedoen word oor die gebruik van biblioteekruimtes en oor die diversiteit van biblioteekgebruikers.

Die Biblioteek het verskeie UX (gebruikerservaring) navorsingsmetodes (bv kognitiewe kartering) wat gebruik kan word om ons gebruikers beter te verstaan en om die bevindings van opnames aan te vul.

Die Biblioteek se gehalteversekeringsraamwerk (sien diagram) word PIRII genoem. PIRII staan vir Plan, Implement, Review, Improve en Impact (Beplan, Implementeer, Hersien, Verbeter en Impak) en is gebaseer op 'n beginsel van 'n oorkoepelende siklus van deurlopende verbetering en impak. 'n Verdere beginsel waarop die raamwerk gebaseer is, is dat waarde geheg word aan die betrokkenheid van biblioteekkliënte, as belanghebbendes in die verbetering van gehalte.

Die gehalteversekeringsraamwerk kan deur individue, groepe, komitees, afdelings, takke en die Biblioteek as geheel gebruik word en kan op individuele, operasionele en strategiese vlak toegepas word. Gevolglik is 'n kultuur van deurlopende verbetering en impak in elkeen se dagtaak ingebed.

PIRII verbeter op die vorige raamwerk (PIRI) wat die Biblioteek vir etlike jare gebruik het. Die byvoeging van die finale stap van Impak spreek uitdruklik die monitering en impak van prosesse aan.​

diagram-of-quality-assurance-framewor

PIRII Gehalteversekeringsraamwerk