
US vereer briljante wiskundige en uitsonderlike navorser
Die Universiteit Stellenbosch (US) gaan prof. Helmut Prodinger, een van Suid-Afrika en die wêreld se voorste navorsers in kombinatorika, vereer met 'n Kanselierstoekenning by een van die Maart 2016 gradeplegtighede.
By dieselfde seremonie sal prof. Prodinger ook 'n DSc (doktorsgraad in Wetenskap) ontvang vir sy hoogstaande bydrae oor dekades heen tot die analise van benaderde telling. Benaderde telling is 'n klassieke tegniek wat in rekenaarwetenskap gebruik word waardeur groot hoeveelhede data hanteer kan word, te midde van beperkte kapasiteit.
Vir hierdie graad word reeds gepubliseerde wetenskaplike werk(e) van hoë standaard, wat onder meer 'n wesenlike en hoogstaande bydrae tot die kennis van 'n spesifieke studieveld gelewer het, in ag geneem. Dit volg ná 'n PhD en behels alle navorsing wat oor 'n navorser se loopbaan heen gedoen is.
Prof. Stephan Wagner, afdelingshoof van Wiskunde by die US en sy studieleier, sê Prodinger is een van die vaders van die moderne analise van algoritmes en analitiese kombinatorika: "Hy het fundamentele bydraes gemaak tot feitlik elke aspek van hierdie realatief jong navorsingsarea. Veral sy werk oor digitale soekbome was besonder invloedryk."
Digitale uitbreidings van verskillende aard speel 'n kardinale rol in verskeie areas van rekenaarwetenskap. Goed gekose geskikte digitale soekbome kan byvoorbeeld gebruik word om die prestasie van algoritmes in elliptiese kurwekriptografie te verbeter.
Prof. Prodinger se werk het ook grootliks bygedra tot die begrip van die asimptotiese eienskappe van digitale soekbome deur die bekendstelling van nuwe tegnieke soos die Mellin-transformasie van die onderwerp: "Sy fundamentele navorsingsartikel oor die toepassings van die Mellin-transformasies op digitale somme is alreeds meer as 100 keer aangehaal en is steeds die hoofverwysing op hierdie gebied," voeg prof. Wagner by.
Sy kollegas beskryf hom as 'n uitsonderlike navorser wat ander inspireer met sy unieke benadering, gebaseer op 'n kombinasie van intuïsie, rekenaareksperimente en die innoverende gebruik van berekeninge en analitiese tegnieke.
Hy het reeds meer as 300 artikels in eweknie-beoordeelde vaktydskrifte gepubliseer in samewerking met meer as 60 medewerkers wêreldwyd. Volgens Google Scholar is hy reeds 4064 aangehaal en het hy 'n h-indeks van 33, beide besonder hoog vir 'n vakgebied soos Wiskunde.
Hy het ook 'n groot bydrae gelewer tot die wiskundige gemeenskap deur as studieleier op te tree vir 6 PhD-studente in Oostenryk en ongeveer 15 MSc-studente in Oostenryk en Suid-Afrika. Gedurende sy loopbaan het prof. Prodinger samewerkingsooreenkomste bemiddel met jong navorsers wêreldwyd.
Prof. Prodinger het in 1998 na Suid-Afrika verhuis en in 1999 het hy vir die eerste keer 'n A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang. Hy het verskeie toekennings gekry, waaronder die Goue Medalje van die Suid-Afrikaanse Wiskundige Vereniging (SAMS) in 2001; die Visekanselierstoekenning vir Navorsing in 2001 van die Universiteit van die Witwatersrand; en die SAMS-toekenning vir Navorsingsuitnemendheid in 2003. Sedert 2005 is hy ook ereprofessor aan die Graz Universiteit van Tegnologie. Hy dien in verskeie konferensie-programkomitees, sowel as die redaksies van sommige van die toonaangewendste vaktydskrifte in sy veld, waaronder Theoretical Computer Science.