Voornemende Voorgraadse studente
- Wat is Rekenaarwetenskap?
- Wat doen ’n Rekenaarwetenskaplike?
- Hoekom Rekenaarwetenskap?
- Hoekom Stellenbosch?
- Waaroor gaan die kursus?
- Wat kan ek met Rekenaarwetenskap doen na universiteit?
- Is Rekenaarwetenskap dieselfde as Rekenaarvaardigheid, Inligtingstelsels, of Wetenskaplike Berekening?
- Moet ek Rekenaarewetenskap of Elektroniese Ingenieurswese studeer?
Rekenaarwetenskap is die teorie en praktyk van algoritmes. Dit is die wonderlike kombinasie van kuns (uitvinding en ontwerp), wetenskap (analise en eksperimentasie), en ontwikkeling om probleme op te los met behulp van ‘n rekenaar. Ons studente leer om groot sagteware stelsels te programmeer, ontwikkel, en bestuur as deel van ‘n span, maar – nog belangriker as dit – om probleme in terme van rekenaarprosesse te stel.
Loopbane in die sagteware- en inligtingstegnologiebedryf verskil baie van mekaar. Sommige poste is meer tegnies van aard, terwyl ander meer op menslike faktore fokus. Sommige beroepe vereis konsentrasie, presisie en aandag aan detail; ander plaas groter klem op kreatiwiteit. Sommige poste word hoofsaaklik alleen verrig, terwyl ander spanwerk vereis. Sommige werksomgewings is hoogs mededingend; ander beklemtoon samewerking en kollegiale werk.
Met so ’n groot verskeidenheid beroepe is dit moeilik om ’n “tipiese” werk te beskryf. Die onderstaande lys bevat meer as 90 beroepe, waarvan sommige skakels bevat waarop jy kan klik vir meer inligting.
- Artificial Intelligence Specialist
- Business intelligence analyst
- Character Designer
- Chief IT Security Officer
- Clinical Informatics Director
- Computer Science professor
- Computer Support Specialist
- Concept Artist
- Cybersecurity Strategist
- Data Warehouse Specialist
- Database Administrator
- Document Imaging Specialist
- Environment analyst
- Ethical Hacker
- Game Artist
- Game Developer
- Game Director
- Game Producer
- Game Programmer
- Graphic Designer
- Infographic Artist
- Information scientist
- Interactive Designer
- IT instructor
- Java developer
- Lead Software Engineer
- Mobile Application Designer
- Modelling Supervisor
- Motion Graphic Designer
- Network Administrator
- Network Analyst
- Network Architect
- Network Designer
- New Media Specialist
- Professional Gamer
- Quality Assurance
- Quality Assurance Manager
- Security Administrator
- Senior Web Developer
- SEO analyst
- SEP consultant
- Software Developer
- Software release manager
- Systems architect
- Systems Engineer
- Technical Artist
- Telecommunications specialist
- Texture Artist
- User Interface Designer
- Video Game Technical Artist
- Web Content Manager
- Web Developer
- Web Editor
- Web Producer
Die “Association of Computing Machinery” is ‘n internasionale organisasie vir rekenaarwetenskaplikes. Die ACM het die volgende lys van top-10 redes om rekenaarwetenskap te studeer, ontwikkel. Ons haal direk van hul webwerf aan:
- Rekenaars speel ‘n rol in alles wat ons doen!
- Kundigheid in rekenaarwerk stel jou in staat om komplekse en uitdagende probleme op te los.
- Rekenaars stel jou in staat om ‘n positiewe verskil in die wereld te maak.
- Rekenaarwerk bied ‘n wye verskydenheid winsgewende loopbane.
- Beroepe in rekenaars is hier om te bly, ongeag waar in die wereld jy jou bevind.
- Kundigheid in rekenaars kan jou help, selfs al behels jou primêre loopbaan iets heeltemal anders.
- Rekenaars bied wonderlike geleenthede vir ware kreatiwiteit en innoverendheid.
- Rekenaars bied geleentheid vir beide spanwerk én individuele werk.
- Rekenaars is ‘n noodsaaklike deel van goedafgeronde akademiese voorbereiding.
- Toekomstige geleenthede in rekenaars het geen perke.
Ons moet erken dat ons bevooroordeeld is, maar ons kan net een “feit” byvoeg: Rekenaarwetenskap is PRET!
Twee redes.
- Akademiese uitnemendheid: Universiteit Stellenbosch is een van Suid-Afrika se leidende tersiêre instellings, gebaseer op navorsingsuitsette, studente se deurvoerkoerse, en gegradeerde wetenskaplikes, en dit word internasionaal herken as ‘n akademiese instelling van uitnemendheid. Dit spog met die hoogste geweegde navorsingsuitsette per voltydse akademiese personeel van alle Suid-Afrikaanse universiteite, en die tweede hoogste aantal wetenskaplikes in Suid-Afrika wat deur die Nasionale Navorsingstigting gegradeer is. Dit het ook die hoogste deurvoerkoers in die land.
- Gemeenskap: Om in Stellenbosch te studeer is meer as net ‘n opvoeding; dit is ook ‘n lewenstyl. Die kampus is ten volle geïntegreer met die mooi en historiese dorp. Wonderlike kos en wyn, naweekmarkte, verstommende natuurskoon, ‘n polsaanjaende musiek- en kultuurlewe, en ‘n wye verskeidenheid avontuuraktiwiteite dra alles by tot ‘n gebalanseerde ondervinding as ‘n Matie.
Rekenaarwetenskap kyk na rekenaarstelsels; beide die hardeware en die sagteware. Maar dit beteken nie dat ons net heeldag lank programme skryf en rekenaars bou nie. Ons volg ‘n wetenskaplike benadering tot die onderwerp, en beklemtoon die beginsels, pleks van elke klein detail.
- In die eerste jaar is die fokus op om te leer programmeer. Op die oomblik gebruik ons die Java programmeertaal in die kursus, maar ons glo nie dat die taal ‘n groot verskil maak nie: ons verwag van ons studente om verskeie programmeertale te leer teen die tyd dat hulle gradueer. Aan die ander kant is Java ‘n baie belangrike taal. Dit is eenvoudig genoeg om in een jaar te bemeester en vorm ‘n uitstekende basis om ander tale soos C++ and C aan te leer (wat wel in latere kursusse gebruik word).
- Die tweede jaar handel grotendeels oor data strukture en algoritmes. ‘n Deeglike kennis van hierdie belangrike onderwerp is waarskynlik die grootste verskil tussen ‘n blote beginner en ‘n ekspert rekenaarwetenskaplike. In die tweede helfte van die tweede jaar val die fokus op rekenaarargitektuur en lae-vlak programmering.
- Die derde jaar bestaan uit vier kernmodules: gelyklopende programmering, databasisse en web-bebaseerde ontwikkeling, rekenaarnetwerke, en sagteware-ingenieurswese. Daar is ook opsionale modules oor Masjienleer (hoe kan rekenaars leer uit data wat hulle in die regte wêreld teëkom?) en Rekenaarvisie (wat ook grafika insluit — natuurlik ‘n kritiese vaardigheid ook vir rekenaarspeletjies). Aan die einde van die jaar is ons studente gereed om vrae soos die volgende te antwoord:
- How werk ‘n bedryfstelsel soos Windows/Linux aan die binnekant, en hoe skep mens soortgelyke stelsels?
- Hoe gebruik ons groot rekenaarbanke (of ‘n groot getal verwerkers) om komplekse berekenings effektief uit te voer?
- Hoe ontwerk mens groot databasisse om oor die internet te gebruik?
- Hoe kommunikeer rekenaars oor WiFi en/of oor die Internet?
- Hoe ontwikkel ons GROOT sagteware stelsels op ‘n doeltreffende en betroubare manier?
- Saam met al die teorie werk ons studente ook hard aan praktiese vaardighede. By voorbeeld, in voriges weergawes van hierdie kursusse moes studente ‘n Internet kletsprogram en ‘n verkeersimulator ontwikkel. Hierdie voorbeeld is al ‘n bietjie oud: kyk gerus op die kursus bladsye om die nuutste projekte te sien.
Sommige universiteite se kursusprogramme word deur internationale organisasies gesertifiseer om te verseker dat hulle aan die hoogste standaarde voldoen. In Stellenbosch is ons baie trots op on onderrig en ons lang tradisie van Rekenaarwetenskap. Ons volg die aanbevelings van die internasionale ACM leerplan, maar ons glo nie dat akkreditasie op hierdie oomblik ‘n sinvolle manier is om ons studente se klasgeld te spandeer nie. In die industrie is akkreditasie nie baie belangrik nie. Soos alle Suid-Afrikaanse universiteite word ons derde jaar en nagraadse modules ekstern deur kenners by ander universiteite gemodereer en omdat ons ook elektriese en elektroniese ingenieurs oplei, word die kursusse ook deur ECSA gemodereer.
Amptelik word amper al ons modules 50/50 in beide Afrikaans en Engels aangebied. (In sommige modules met baie studente is daar ‘n aparte Afrikaanse en Engelse stroom.) Ons probeer egter pragmaties te werk gaan. Ons is baie lief vir Afrikaans, maar ons moet ook ons Engels-sprekende internasionale studente tegemoetkom. Taalkwessies was nog nooit ‘n probleem by Rekenaarwetenskap nie en ons glo nie dat taal ooit in die pad van onderrig moet staan nie.
Ons kry elke week ‘n vloedgolf versoeke vir gekwalifiseerde studente. Aan die begin van die 2000’s was daar ‘n effense afduiking in die werksmark, maar dit het heeltemal herstel en internasionale kenners voorspel ‘n enorme tekort aan rekenaarwetenskaplikes in die volgende tien jaar. Dit geld ook vir Suid-Afrika en veral die Weskaap. En dit is natuurlik baie goeie nuus vir enigiemand met die regte kwalifikasies: daar is groot verskeidenheid poste om van te kies.
Sommige van ons studente begin hul loopbaan as programmeerders, maar dit duur nie lank voor hulle opskuif om sagteware te ontwerp en ingenieur nie. Afgesien van die baie plaaslike maatskappye wat ons studente in diens neem, is daar ook baie geleenthede oorsee. Suid-Afrikaanse rekenaarwetenskaplikes is baie gewild, dalk omdat hulle bekend is as harde werkers.
Daar is gewoonlik ‘n hoë omset in die sagtewareindustrie. Werkers skuif dikwels van een maatskappy na ‘n ander en word dus bloot gestel aan verskeie verskillende uitdagings en omgewings.
O nee, beslis nie. Dit is belangrik vir die universiteit dat al ons wetenskap studente vaardig is met die gebruik van rekenaars.
Rekenaarvaardigheid is ‘n module wat studente leer om basiese rekenaar nutsprogramme te gebruik (soos ‘n woordverwerker en sigblad); dit sluit ook meer gevorder programme in (soos wiskundige modelleerders en statistiese analise).
Wetenskaplike berekening is ‘n module vir alle wetenskap studente wat nie Rekenaarwetenskap neem nie. Studente leer hoe om LaTeX (‘n stelsel vir setwerk) te gebruik vir die skryf van tegniese of wetenskaplike dokumentasie en hoe om Python (‘n programmeringstaal) te gebruik vir basiese wetenskaplike en numeriese berekeninge.
Die Inligtingswetenskap departement se akademise kurrikulum en navorsing fokus op die dinamiese interaksie tussen Inligtingstegnologie en die organisatoriese of sosiale konteks waarin dit toegepas word. Meer inligting is beskikbaar op hul webtuiste.
Hierdie vraag duik dikwels op. Daar is ‘n groot aanvraag vir beide Rekenaarwetenskap en Elektroniese Ingenieurswese gegradueerdes en beide grade is uitstekende opsies. Die sleutelverskil is dat Elektroniese Ingenieurswese op beide hardeware (met ander woorde die ontwerp van rekenaars en ander elektroniese komponente) en sagteware (veral vir spesiale ingenieurstoepassings) en is ‘n goeie keuse vir studente wat hoofsaaklik in Ingenieurswese belangstel, maar ook van programmering hou. Rekenaarwetenskap het ‘n meer gespesialiseerde en dieper fokus op sagteware (algoritmes en die ontwikkeling van sagteware) en is ‘n goeie keuse vir studente wat hoofaaklik in die ontwikkeling van sagteware oplossings belangstel. Studente in Elektroniese Ingenieurswese neem sommige maar nie al die modules van Rekenaarwetenskap nie. Albei grade het ‘n sterk wiskundige inslag.
As jy sukkel om te kies, moedig ons jou sterk aan om met iemand om beide Rekenaarwetenskap en Elektroniese Ingenieurswese te kom gesels om hierdie belangrike besluit te maak: jy is altyd welkom.