Skip to main content
#USVroue: Om die skaal te balanseer oor ongelyke geslagsnorms

#USVroue: Om die skaal te balanseer oor ongelyke geslagsnorms

Daniel Bugan
17 Augustus 2021

​Met aansienlike navorsingservaring op die gebied van geestesgesondheid en -ontwikkeling by kinders en adolessente, is prof Sarah Skeen, medeprofessor en mededirekteur van die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing in die Departement Globale Gesondheid, 'n voorloper in die ontwikkeling, implementering en evaluering van gemeenskapsgebaseerde intervensies in Oos- en Suider-Afrika.

Om Vrouemaand te gedenk, vertel sy ons meer oor haar navorsing.

Vertel ons asseblief meer oor jou navorsing?

Ek doen navorsing oor openbare gesondheid, met die klem op die geestesgesondheid en -ontwikkeling van kinders en adolessente. Die meeste van my werk draai om geestesgesondheid, kinders wat deur MIV geraak word, vroeëkindontwikkeling en ouerskapsintervensies in hulpbronarm omgewings.

Waarom of hoe het jy in hierdie bepaalde navorsingsgebied begin belang stel?

Ek is gedurende my voorgraadse studie die eerste keer aan gemeenskapsgesondheidsprojekte blootgestel, en het toe nagraads openbare gesondheid studeer. Ek het nog altyd in geestesgesondheid belang gestel, en het teen die einde van die jare 2000 die globale gesondheidsterrein betree, net toe geestesgesondheid op die voorgrond begin tree het as 'n globale prioriteit. Ek is bevoorreg dat my huidige pos heelwat van my onderling verwante belangstellings byeenbring, soos voorkoming en vroeë intervensie, die ontwikkeling van kinders en adolessente, ouer- en versorgersteun, MIV en gemeenskapsgesondheid. Elke navorsingsprojek bring 'n nuwe oogpunt of uitdaging, en dit is baie verrykend om iets nuuts uit elkeen te leer en dit dan op die volgende een toe te pas. Ek's ook die ma van twee jong kinders, so soms kan ek selfs van die lesse wat ek by die werk leer, saamneem huis toe!

Jy het onlangs 'n navorsingstoekenning ter waarde van £638 050 (R12,5 miljoen) van die Verenigde Koninkryk se Mediese Navorsingsraad ontvang. Die geld sal gebruik word vir 'n gendertransformerende intervensiestudie oor seksuele en voortplantingsgesondheid. Vertel ons meer?

Die doel van die projek, “If I Were Thabo", is om onbedoelde swangerskap en MIV-oordrag onder adolessente te voorkom. Wat veral uniek is, is dat dit op adolessente seuns afgestem is en 'n gendertransformerende benadering volg, wat beteken dit konsentreer daarop om van die genderstereotipes wat gewoonlik gedurende adolessensie vasgelê word, om te keer. Een van die hoofkomponente van die intervensieprogram is 'n gedramatiseerde kortfilm wat adolessente in die skoene van 'n adolessente seun plaas wat uitvind sy meisie is swanger. Die bedoeling is om hulle aan die dink te sit oor wat húlle in sy omstandighede sou doen.

Verskeie vennote neem deel aan dié studie. Kan jy bietjie uitbrei?

Die projek is gegrond op die inisiatief “If I Were Jack" in die Verenigde Koninkryk (VK). Die medeleier is dr Aine Aventin by Queen's University Belfast. Ons werk sy aan sy met die VK-span sowel as vennote in Suid-Afrika en Lesotho om die intervensie vir die Suid-Afrikaanse konteks aan te pas en die twee weergawes in 2022 in 'n verewekansigde gekontroleerde proef in skool- en nieregeringsorganisasie-omgewings te toets.

Hoe sal hierdie studie geslagsongelykheid help hokslaan?

Ongelyke geslagsnorme vervul 'n groot rol in MIV-risiko en onbedoelde swangerskap. Nietemin volg weinig programme oor seksuele en voortplantingsgesondheid gendertransformerende benaderings met mans en seuns om dié probleem die hoof te bied. Mans en seuns is noodsaaklike vennote in ons pogings om geslagsgelykheid teweeg te bring, so met hierdie studie wil ons graag wys dat dit 'n sinvolle en doeltreffende benadering is.

Die COVID-19-pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

Aan die begin van die pandemie is daar heelwat gesê oor hoe dit die omstandighede sou skep om 'n nuwe, regverdiger en meer gelyke wêreld te bou. Die werklikheid is egter ver verwyderd daarvan, en elke dag is 'n onaangename herinnering dat party lewens meer 'saak maak' as ander. Dít is vir my 'n bron van motivering, en ek dink wat die afgelope 18 maande gebeur het, het werklik onderstreep hoe belangrik die tipe werk is wat ons by die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing doen. Kinders en adolessente sal nog jare lank die impak van die pandemie ervaar. Dít het ons gedwing om meer kreatief te dink aan hoe ons die gesinne met wie ons werk op 'n sinvolle manier kan ondersteun, veral in hierdie moeilike omstandighede. En ons behaal wél sukses. Ons is byvoorbeeld pas klaar met 'n projek waar ons WhatsApp-gebaseerde ondersteuningsgroepe in drie lande gebruik het om ouers op 'n afstand te ondersteun, en die benadering het besonder goed gewerk.

Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?

Ek self vind dit inspirerend om toonaangewende vrouenavorsers te sien werk. Dit laat my voel dit is moontlik om verder te gaan en doelwitte te verwesenlik wat soms lyk of dit buite bereik is óf dalk meer gepas vir iemand anders. Verteenwoordiging maak regtig saak. Die geskiedenis is vol verhale van vrouewetenskaplikes en -navorsers wie se bydraes onsigbaar is, misgekyk word of waarvoor ander erkenning kry. Dit is belangrik dat vroue vorentoe tree en hulle plek opeis. Ek is bevoorreg om saam met 'n besonder talentvolle en toegewyde, hoofsaaklik vroulike span te werk, en ek sien daarna uit dat elkeen van hulle eendag leiers op hulle gebiede word.​