Voorgraads
2026 214 Course Prospectus
Die Engels 178-kursus stel studente bekend aan die bestudering van tekste oor genres en mediums, waaronder letterkunde, film en grafiese narratiewe, heen. Met die oog op die aankweek van kritiese lees-, skryf- en ontledingsvaardighede, moedig die kursus intellektuele weetgierigheid en ’n bewustheid van konteks, taal en tekstualiteit aan. Die kurrikulum kombineer voorgeskrewe werke en uitdeelstukke om diverse vorms van uitdrukking en die maatskaplike, geskiedkundige en kreatiewe beduidenis daarvan oor komponente soos teks en konteks, filmstudies, digkuns en die kortverhaal heen, te verken. Deur interaktiewe lesings deur kenners op die gebied, sal studente die vermoë ontwikkel om diep met tekste om te gaan en hulle insigte duidelik te artikuleer. Elke komponent loop uit op ’n toets, wat deeglike betrokkenheid en begrip verseker. Hierdie grondslagkursus berei studente vir gevorderde studie voor, terwyl dit kritiese, kreatiewe en ingeligte deelname aan die samelewing aankweek.
Engels 214 en Engels 244 is tweedejaarskursusse wat ontwerp is om studente se begrip van Engelse letterkundige en kultuurstudies deur ’n verskeidenheid tekste en ander uitdrukkingsmedia, soos film, te verdiep. Elke kursus bestaan uit drie weeklikse lesings van 50 minute en ’n verpligte weeklikse tutoriaal, met studente wat dieselfde tutoriaaltyd regdeur die semester moet bywoon. Hierdie kursusse bou voort op die grondslag wat in Engels 178 gelê is, maar verg ’n hoër graad van onafhanklike werk en betrokkenheid by ’n langer lys voorgeskrewe werke. Studente moet al die materiaal met aandag lees en krities ontleed, aangesien vertroue op vereenvoudigde aanlyn studiegidse ontmoedig en gepenaliseer word. Engels 214 word in die eerste semester aangebied en word gekenmerk deur tematiese lesingreekse soos “Writing Lives”, wat narratiewe stem en identiteit ondersoek; en “Naming Beings”, wat kwessies rakende identiteit, verteenwoordiging en ‘andermaak’ (‘othering’) verken. In teenstelling fokus Engels 244, ook ’n semesterprogram, op omgewingsverbeeldings en identiteitsbreuke deur letterkunde te ondersoek wat menslike betrokkenheid by fisiese landskappe, neokoloniale uitbuiting en die blywende effekte van apartheid, kolonialisme en gedwonge migrasie deur diverse letterkundige vorms aanpak. Studente wat Engels as hoofvak wil hê, moet albei kursusse afhandel om tot die gevorderde module aan te beweeg en hulle word aangemoedig om reeds tydens die vakansie met hulle leeswerk te begin en voor te berei om nadenkend met moontlik omstrede materiaal om te gaan.
In die derde jaar word Engels in twee kursusse (een per semester) verdeel: Engels 318 in die eerste semester en Engels 348 in die tweede. Saam bied hierdie kursusse aan studente die geleentheid om met die breedte en diepte van die Engelse letterkunde, van die 19de eeu tot by kontemporêre werke, oor diverse kulturele, geskiedkundige en tematiese kontekste heen, om te gaan. Die jaar is ontwerp om studente uit te daag, wat hulle voorberei vir die verwagtinge van gevorderde letterkundige studie. Deur hierdie kursusse sal studente te doen kry met ’n groot verskeidenheid tekste, genres en perspektiewe, wat beide kritiese ontleding en kreatiewe omgang sal aankweek. Engels 318 en 348 kan saam of onafhanklik geneem word, maar albei word vereis vir studente met Engels as hoofvak, of wat beoog om ’n honneurs te doen. Benewens die lesings, sal studente aan keuseseminare van 90 minute lank deelneem (besonderhede op bladsy 7–11 van die kursusprospektusse), wat pasgemaakte omgang met spesifieke temas bied. Engels 318 en 348 is daarop gemik om letterkundige kennis te verdiep, terwyl dit studente met die kritiese denkvaardighede toerus wat noodsaaklik is vir honneurs en verder.