Prof Elmi Muller besin oor menslikheid, veerkragtigheid en die toekoms van die FGGW
- Prof Elmi Muller blik terug op haar eerste termyn as Dekaan van die FGGW en beklemtoon leierskap, spanwerk en leiding wat deur deernis en regverdigheid gekenmerk word.
- Sy deel lesse wat sy geleer het uit die hantering van institusionele uitdagings en persoonlike teenspoed, en beklemtoon veerkragtigheid, integriteit en menslikheid.
- Met die aanvang van haar tweede termyn lê sy klem op spesialisopleiding, uitnemendheid in navorsing en die skep van 'n omgewing waarin mense kan floreer.
In Januarie 2022 het die gerekende oorplantingschirurg en gesondheidsorgleier prof Elmi Muller haar amp as Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aanvaar. Met die aankondiging van haar tweede termyn, wat van 2027 tot 2031 sal strek, het ons haar gevra om terug te blik op haar eerste termyn in dié rol en van die hoogtepunte, uitdagings en lesse van haar leierskapsreis tot dusver te deel.
Met terugskoue na jou eerste termyn as Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, wat sou jy as jou belangrikste institusionele en persoonlike prestasies uitlig?
Elmi Muller (EM): Om van ʼn akademiese loopbaan na die rol van Dekaan oor te skakel was een van die grootste oorgange in my professionele lewe. Voordat ek Dekaan geword het, was ek hoofsaaklik ʼn klinikus, oorplantingchirurg en navorser. Ek het natuurlik bestuurservaring gehad – om ʼn groot kliniese afdeling te lei is myns insiens een van die veeleisendste bestuursrolle in geneeskunde. Kliniese leiers moet heeltyd beperkte hulpbronne, pasiëntsorg, navorsing, onderrig, personeelbestuur en begrotings balanseer en tegelyk hul eie akademiese loopbane in stand hou. Danksy daardie ervaring het ek enorme respek vir al die Uitvoerende Hoofde en kliniese leiers in ons Fakulteit wat elke dag hierdie mededingende verantwoordelikhede dra.
Tóg is ʼn heel ander stel vaardighede van my vereis toe ek Dekaan geword het. Ek moes baie van die kliniese en navorsingswerk laat vaar wat my identiteit dekades lank gevorm het. In plaas daarvan het ek baie meer tyd in vergaderings deurgebring, aandagtig na mense geluister, my weg deur institusionele kompleksiteit gebaan en probeer verstaan wat die Universiteit van my as ʼn akademiese leier nodig gehad het. Daar is geen bloudruk vir hoe om ʼn dekaan te word nie. ʼn Groot deel van die rol word deur ervaring, nadenke en ontelbare gesprekke aangeleer.
Op ʼn persoonlike vlak beskou ek my grootste prestasie dat ek ʼn manier gevind het om die waardes en belangstellings wat my definieer te behou terwyl ek aan die hoof van ʼn fakulteit van hierdie omvang en kompleksiteit staan. Ek wou myself nie in die administratiewe eise van die pos verloor nie. Ek het probeer om nuuskierig en betrokke te bly en verbintenisse met mense en pasiënte te handhaaf sonder om die groter doelwit van die Fakulteit uit die oog te verloor.
Op ʼn institusionele vlak glo ek een van my belangrikste bydraes was die samestelling van ʼn sterk leierskorps. Ek het geleer dat geen Dekaan op eie houtjie sukses kan behaal nie. Sonder ʼn uitstekende span om jou, het jy niks nie. Ek is geweldig trots op die mense wat ons vir sleutelposte gewerf het en op die vertroue wat ons saam gebou het. Ek het doelbewus na kollegas gesoek wat oor sterkpunte beskik wat my eie aanvul en dikwels oortref. My rol is nie om die slimste mens in die vertrek te wees nie, maar om ʼn omgewing te skep waarin talentvolle mense kan gedy en waarin ons saam aan ʼn gedeelde visie vir die Fakulteit werk.
Maar waarop ek moontlik die trotsste is, is iets veel minder tasbaar. Ek hoop dat ek, ondanks die druk van leierskap, ten diepste menslik gebly het. Ek het probeer om kollegas deur moeilike tye by te staan, te luister voordat ek oordeel, asook om begrip te hê vir die persoonlike uitdagings wat mense elke dag saam met hulle werk toe bring. Leierskap kan maklik deur strategie, begrotings en prestasie-aanwysers oorheers word, maar universiteite is uiteindelik gemeenskappe van mense.
Ek gee steeds diep om – vir ons pasiënte, ons studente en ons personeel. Myns insiens is deernis nie iets apart van leierskap nie; dis die kern daarvan. As ons ons menslikheid verloor kan ons dalk doeltreffende bestuurders word, maar ons sal nooit die soort leiers word wat vertroue inboesem en instellings bou waaraan mense regtig wil behoort nie.
Watter belangrike lesse het jy by terugskoue uit jou eerste termyn in hierdie rol geleer?
EM: Een van die belangrikste lesse wat ek geleer het, is dat mense jou dikwels in ʼn boksie plaas voordat hulle jou werklik ken. Ongeveer twee maande nadat ek Dekaan geword het – tydens ons eerste strategiese beplanningsvergadering – het een van die Uitvoerende Hoofde my taamlik regstreeks uitgedaag deur te beweer dat ek net daarin belangstel om klinici te ondersteun terwyl ek kollegas op gebiede soos navorsing en globale gesondheid verwaarloos.
Destyds was my onmiddellike reaksie om jammer te sê. Ek het gevoel ek het op die een of ander manier misluk, al het ek destyds skaars die geleentheid gehad om te wys hoe ek wou lei. Met terugskoue besef ek dat die kritiek nie werklik gegaan het oor enigiets wat ek gedoen het nie. Dit het aannames oor my agtergrond weerspieël. Ek was ʼn oorplantingschirurg en klinikus toe ek die pos aanvaar het en party mense het reeds verwagtinge gevorm oor die soort Dekaan wat ek sou wees.
Daardie ervaring het my ʼn belangrike les geleer: Dis onmoontlik om almal tevrede te stel. Leierskap gaan nie daaroor om die mens te probeer word wat elke individu wil hê jy moet wees nie. Dit gaan daaroor om aandagtig te luister, mense met respek te behandel, oop daarvoor te wees dat jou eie perspektiewe uitgedaag word en besluite te neem wat regverdig is en die beste belange van die instelling dien.
Ek het ook geleer dat veerkragtigheid ʼn noodsaaklike deel van leierskap is. Aanvanklik het kritiek my diep geraak. Vandag dra ek nie meer elke stukkie kritiek as ʼn persoonlike las saam nie. Ek luister aandagtig, want soms is kritiek geregverdig en help my om groei. Maar ek het ook geleer om te onderskei tussen konstruktiewe terugvoer en aannames wat uit mense se eie verwagtinge of ervarings voortspruit.
Allerbelangrik is dat ek besef het ek kan nie verander wie ek is net om algemene byval te vind nie. My verantwoordelikheid is om met integriteit te lei, regverdig te wees, te luister en die beste moontlike besluite met die inligting tot my beskikking te neem. Ek sê dikwels ʼn dekaan kan nie almal se vriend wees nie, maar ook dat ʼn dekaan nie gunstelinge mag hê nie. My rol is om die hele Fakulteit te dien, selfs wanneer dit beteken dat ek moeilike besluite moet neem wat nie deur almal ondersteun sal word nie.
Uiteindelik moet ek met ʼn skoon gewete kan terugkyk in die wete dat ek geluister het, regverdig opgetree het en gedoen het wat ek glo reg vir die Fakulteit is. Dít is die maatstaf waaraan ek my leierskap nou meet – nie of almal met my saamstem nie, maar of ek met eerlikheid, regverdigheid en integriteit leiding gegee het.
Wat was van die dwingendste uitdagings wat jy tydens jou eerste termyn te kampe gehad het en hoe het jy dit die hoof gebied?
EM: Daar was baie institusionele uitdagings wat voortdurende aandag geverg het. Ons moes reageer op die verlies aan Amerikaanse navorsingsbefondsing en die onsekerheid wat dit meegebring het vir navorsers en beroepslui wie se lewensbestaan daarvan afhanklik was. Daar was moeilike onderhandelinge met die provinsiale Departement van Gesondheid oor begrotingsbesnoeiings en kliniese assistentposte, wat kommer laat ontstaan het oor ons vermoë om die gehalte van nagraadse spesialisopleiding te handhaaf. Dan was daar die voortdurende kompleksiteit van te veel studente wat vir sommige programme ingeskryf het en te min vir ander, terwyl ons ook te kampe gehad het met die breër begrotingsdruk van die Universiteit en wat dit vir ons Fakulteit ingehou het.
Elkeen van hierdie kwessies het ʼn versigtige balanseertoertjie geverg. Volmaakte oplossings is selde tot dekane se beskikking. Mens moet moeilike besluite neem, openlik kommunikeer en probeer om die langtermynbelange te beskerm van die Fakulteit én die mense wat daar werk en studeer.
Naas hierdie institusionele uitdagings het ek ook van die moeilikste persoonlike tye van my lewe beleef.
My oudste seun, wat Tipe 1-diabetes het, het ʼn ernstige hipoglisemiese episode beleef. Ek moes hom self bybring en hy het tydens die ineenstorting verskeie werwelbreuke opgedoen. Dit was ʼn traumatiese ervaring. Wat my egter die meeste bybly, is die buitengewone goedhartigheid van kollegas in hierdie Fakulteit. Mense het mediese raad aangebied, X-strale bestudeer, na ons welstand verneem en – miskien die belangrikste van alles – bloot by my gestaan. Ek het eerstehands ervaar wat dit beteken om deel van ʼn omgee- akademiese gemeenskap te wees.
In dieselfde tyd het my huwelik verbrokkel. Ek het daardie hartseer lank privaat gedra. Ek het elke dag werk toe gekom, my verantwoordelikhede nagekom en probeer verhinder dat ander sien hoe swaar ek kry. Uiteindelik het ek in 2025 tydens my toespraak by die Fakulteit se Akademiese Jaardag openlik oor daardie ervaring gepraat. Die reaksie was oorweldigend. Kollegas het agterna na my toe gekom en gesê: “Nou weet ek jy sal verstaan wanneer ek jou met my eie worstelinge nader.”
Daardie ervaring het my begrip van leierskap verander. Kwesbaarheid is nie ʼn swakheid wanneer dit op gepaste wyse gedeel word nie. Dit stel mense in staat om mekaar as mense te sien eerder bloot as titels of posisies.
Al sou ek nooit daardie ervarings gekies het nie, het dit my ten diepste gevorm. Dit het my veerkragtigheid versterk, my begrip van geestesgesondheid en verlies verdiep en my daaraan herinner dat elke persoon met wie ons werk, laste dra wat dalk vir ander onsigbaar is.
Dit het moontlik een van die bepalende beginsels van my leierskap geword. Universiteite is nie bloot organisasies nie; dis gemeenskappe van mense. Elkeen van ons ervaar vreugde, teleurstelling, vrees en hartseer. As ons ons gedeelde menslikheid kan erken en ʼn omgewing kan skep waarin mense ondersteuning ervaar – tydens hul suksesse én hul stryde – bou ons nie net ʼn sterker Fakulteit nie, maar ook een wat vriendeliker is.
Wat is jou strategiese prioriteite vir die Fakulteit vir die komende vyf jaar noudat jy die volgende fase betree?
EM: Ek is ongelooflik trots op ons Fakulteit se nuwe Strategiese Plan – op die dokument self, maar veral op die proses waardeur dit voortgebring is. Ons het doelbewus ʼn veel breër groep kollegas as voorheen betrek – mense wie se oordeel ek respekteer en wie se perspektiewe ons denke uitgedaag en verryk het. Die proses is uitstekend deur Arnold Smit gefasiliteer en ek glo dit was deursigtig, inklusief en regverdig. Daarom het ek volle vertroue in die rigting wat ons vir die Fakulteit bepaal het. Ons volgende taak is om die strategie te verwesenlik en dit duidelik aan die hele Fakulteit te kommunikeer sodat almal die visie, asook die rol wat hulle kan speel om dit in werking te stel, sal verstaan.
Een van my hoogste prioriteite is die versterking van ons nagraadse opleidingsplatform. Ek meen dis een van die belangrikste beleggings wat ons in die toekoms van gesondheidsorg in Suid-Afrika kan maak. Die gehalte van spesialisopleiding sal die gehalte van ons gesondheidstelsel in die komende dekades bepaal. Ondanks die vele uitdagings waarmee ons land te kampe het, beskik ons oor buitengewone kliniese kundigheid. Ons spesialiste word internasionaal gerespekteer en ons kliniese omgewing bied wydlopende ervaring wat min instellings kan ewenaar. My doelwit is om te verseker dat ons aanhou om spesialiste op te lei wat aan die hoogste internasionale standaarde voldoen, terwyl ons tegelyk aan die gesondheidsorgbehoeftes van ons eie gemeenskappe voldoen.
Nog ʼn prioriteit is om ʼn sterker tuiste vir die sosiale en geesteswetenskappe in die Fakulteit te skep. Geneeskunde gaan nie net oor wetenskaplike ontdekkings en tegniese uitnemendheid nie; dit gaan ook daaroor om mense, die samelewing, etiek en die geleefde ervaring van siekte te verstaan. As ons hierdie vakgebiede meer volledig in ons Fakulteit integreer, sal dit ons onderrig verryk, ons navorsing versterk en ons help om gesondheidsorgpersoneel op te lei wat nie net wetenskaplik uitstaande is nie, maar ook bedagsaam, deernisvol en eties is.
ʼn Besonder betekenisvolle oomblik was toe ek verlede jaar ʼn eredoktorsgraad in die sosiale wetenskappe van die Universiteit van Lund ontvang het. Dit het my laat nadink oor hoeveel van my eie loopbaan nie net deur chirurgie en oorplantings gevorm is nie, maar ook deur breër vrae oor regverdigheid, geregtigheid en die samelewing. My werk oor toegang tot oorplantings, die oorplanting van MIV-positiewe organe, orgaanhandel en die globale gesondheidsbeleid was nog altyd op die raakvlak van medisyne, etiek, die reg en die sosiale wetenskappe. Daardie ervaring het my oortuiging versterk dat hierdie vakgebiede in die kern van ʼn moderne mediese fakulteit hoort, en ek hoop ek kan ʼn omgewing help skep waar dit saam met die biomediese wetenskappe kan floreer.
Ek is ook geweldig opgewonde oor die toekoms van die Biomediese Navorsingsinstituut. Ons het die geleentheid om spilpunte vir toepassingsnavorsing te skep wat basiese wetenskaplikes, klinikus-wetenskaplikes en ander dissiplines byeenbring om ontdekkings te versnel wat pasiëntsorg verbeter. Ek meen dit het die potensiaal om die navorsingslandskap van ons Fakulteit te transformeer en ons posisie as een van Afrika se toonaangewende sentrums vir biomediese navorsing te versterk.
Ek is geweldig bemoedig deur die ondersteuning van ons nuwe Rektor, prof Deresh Ramjugernath, wie se toewyding tot hierdie strewes van onskatbare waarde is. Ewe belangrik is die uitstaande groep kollegas wat help om vorm aan hierdie volgende hoofstuk te gee. Ek is bevoorreg om saam met mense te werk wie se kundigheid ek bewonder, wie se idees my voortdurend inspireer en wie se toewyding tot die Fakulteit my groot vertroue gee in wat ons saam kan bereik.
Uiteindelik is my strewe nie net om die Fakulteit te laat groei nie, maar ook om die impak daarvan te versterk. Ek wil hê ons moet ʼn plek bly waar uitstekende klinici opgelei word, wêreldklasnavorsing gedoen word, innovasie floreer en mense voel dat hulle tuishoort. As ons dit kan bereik, meen ek ons sal aanhou om ʼn betekenisvolle bydrae te lewer – nie net tot die Universiteit Stellenbosch nie, maar ook tot die gesondheid van Suid-Afrika en die Afrika-kontinent.
Wanneer jy aan jou algehele nalatenskap dink, wat is die groter visie (‘groter prentjie’) wat jy hoop om tydens jou ampstermyn as Dekaan vir die Fakulteit te verwesenlik?
EM: Ek is nog nooit werklik deur die idee van ʼn nalatenskap aangedryf nie. Mense vra my dikwels wat ek wil hê my nalatenskap moet wees, maar dis nie hoe ek oor my loopbaan dink nie. Ek het nog altyd geglo as mens daarop fokus om elke dag die regte ding te doen, jou nalatenskap vanself sal kom.
Ek wil elke dag bloot my bes doen – vir ons studente, ons personeel, ons pasiënte, ons navorsers en die kollegas saam met wie ek werk. Vir my gaan leierskap nie daaroor om vir ʼn enkele prestasie onthou te word nie, maar om ʼn omgewing te skep waarin ander mense kan floreer en die heel beste werk van hul lewe kan lewer.
Een van die grootste voorregte van hierdie rol is om saam met uitsonderlike mense te werk. Kollegas soos prof Karin Baatjes en prof Nico Gey van Pittius lei belangrike inisiatiewe op die gebied van onderrig en navorsing en ek is geweldig trots op wat hulle bereik. My rol is nie om voor hulle te staan nie, maar agter hulle – om struikelblokke uit die weg te ruim, ondersteuning te bied en geleenthede vir talentvolle mense te skep om sukses te behaal.
As daar een ding is wat ek hoop mense van my tyd as Dekaan sal onthou, is dit dat ek ʼn Fakulteit gebou het waar mense gevoel het hulle word vertrou en waardeer en waar hulle bemagtig is om ʼn bydrae te lewer. Ek hoop ons sal bekend staan as ʼn plek wat uitnemende mense lok omdat hulle weet hulle gaan die vryheid hê om te innoveer, met ander saam te werk en ʼn betekenisvolle verskil te maak.
Uiteindelik bly instellings voortbestaan danksy hul mense, nie danksy hul leiers nie. As die Fakulteit, wanneer ek hierdie pos verlaat, sterker is omdat uitmuntende mense gegroei het, nuwe leiers na vore getree het en ander idees kon verwesenlik wat andersins dalk nooit moontlik sou gewees het nie, sal ek voel ek het my werk goed gedoen.
Is daar ʼn rigtinggewende beginsel of leuse wat jou leierskapsbenadering gevorm het?
EM: As ek my leierskapsfilosofie in een woord moes opsom, sou dit regverdigheid wees. Ek weet ek kan nie almal tevrede stel nie, maar ek kan daarna streef om elke mens met respek te behandel, aandagtig te luister en besluite te neem wat so regverdig en deursigtig moontlik is.
Ek glo voorts leierskap verg deernis én dissipline. Ek wil verstaan waardeur mense gaan. Ek wil erkenning aan hul teleurstellings gee, hul suksesse vier en daar wees vir hulle wanneer die lewe moeilik raak. Universiteite word deur mense gebou, nie deur beleide nie, en ek wil dit nooit uit die oog verloor nie.
Terselfdertyd het ek geleer dat doeltreffende leierskap gesonde grense vereis. Ek het vroeg in my loopbaan dikwels ander mense se probleme op my skouers geneem asof dit my eie was. Met verloop van tyd het ek besef dis nie volhoubaar nie. As mens elke teleurstelling en elke konflik dra, verloor jy uiteindelik die vermoë om goed te lei. Ek het geleer om diep om te gee sonder om alles self te dra.
Leierskap vereis ook neutraliteit. Of mense nou van my verskil of my heelhartig steun, kan ek nie toelaat dat kritiek of lof my besluite bepaal nie. My verantwoordelikheid is om ʼn tree terug te neem, die bewyse te oorweeg, na verskillende standpunte te luister en op te tree ooreenkomstig wat ek meen in die beste belang van die Fakulteit is.
Ek glo ook daaraan om ʼn goeie rentmeester te wees van die hulpbronne wat aan ons toevertrou is. Dit beteken om mense se tyd te respekteer, openbare fondse verantwoordelik aan te wend en besluite te neem eerder as om toe te laat dat moeilike kwessies bloot voortsleep. Doeltreffendheid gaan nie daaroor om te jaag nie; dit gaan daaroor om te besef dat elke besluit gevolge het vir die mense wat ons dien.
Ek sal tevrede wees as mense my aan die einde van my tyd as Dekaan onthou as iemand wat regverdig was, geluister het, omgegee het en met integriteit opgetree het.
Deernis moet ons verhoudings vorm, maar regverdigheid moet ons besluite vorm.
Wie is Elmi Muller buite jou professionele rol? Vertel bietjie meer oor jou belangstellings, stokperdjies en hoe jy graag jou tyd deurbring wanneer jy nie by die Fakulteit is nie?
EM: Ek is baie lief vir my huis. Dis my toevlugsoord. Ek is mal oor my tuin, waar ek ná besige dae stadiger kan leef en weer in aanraking met die natuur kan kom. My grootste vreugde is egter my twee seuns, Johan en Willem, wat baie mense in die Fakulteit goed ken. Soos enige ouer is my grootste hoop bloot dat hulle ʼn gelukkige, betekenisvolle lewe sal lei.
Ek het ook twee metgeselle met redelike sterk menings – ʼn boelterriër, Addie, wat dikwels saam met my in die Jack Muller-park gaan draf, en ʼn Bengaalse kat wat vas oortuig is dat hy die huis besit.
Reis het vir my ʼn belangrike manier geword om my batterye te herlaai, veral wanneer ek dit met goeie vriende kan deel. ʼn Onlangse staptog in die Breedekloof het my daaraan herinner hoe verkwikkend die natuur kan wees en hoe belangrik dit is om tyd vir skoonheid en stilte in ʼn besige lewe te maak.
Musiek was nog altyd een van my groot passies, veral klassieke musiek. Wanneer ek oorsee reis, kyk ek vooraf watter konserte of operas opgevoer word. Ek het onlangs die voorreg gehad om Pretty Yende in die rol van Violetta in La Traviata in Parys te sien optree, kort nadat ek haar suster, Nonhlanhla Yende, in La Bohème in Kaapstad gehoor het. Dit het my baie trots gemaak om te sien hoe twee susters van Piet Retief sulke buitengewone sukses op die wêreld se operaverhoë behaal.
Ek is ook baie lief vir kuns. Onlangs het ek ʼn paar gelukkige ure in die Musée d’Orsay deurgebring en die merkwaardige uitstallings van Henri Matisse en Pierre-Auguste Renoir geniet. Ek is nie ʼn kunshistorikus of ʼn literêre kritikus nie en dalk is dit ʼn seën. Ek voel nie verplig om elke werk te ontleed nie. Ek laat die kuns eenvoudig toe om met my te praat en my te ontroer.
Veral een ervaring het iets in my verander. Vroeër vanjaar het ek ʼn uitstalling van die kunstenaar Nicola Deane besoek wat temas soos herinnering, verlies en die stadige verbleiking van foto's verken het. Dit het my veel dieper geraak as wat ek verwag het. Agterna het ek iets geskryf oor ʼn familiefoto wat stadig verdwyn – hoe dit al hoe vaer word totdat slegs die buitelyne oorbly – ʼn besinning oor my eie lewe en die verlies van ʼn huwelik wat my eens gedefinieer het. Toe ek dit met Nicola gedeel het, het sy my aangemoedig om aan te hou skryf. Sy het gesê: “Skryf dit uit jou uit. Laat dit bloei; die hegting kan later kom.” Daardie woorde het my bygebly.
Ek het besef dat skryf vir my ʼn manier geword het om moeilike ervarings te verstaan. Ek het dwarsdeur my loopbaan as chirurg, en nou as Dekaan, geleer om my emosies te bedwing. Pasiënte, kollegas en studente het iemand nodig wat kalm in tye van onsekerheid kan bly. Maar dit beteken nie dat daardie emosies verdwyn nie. Skryf stel my in staat om erkenning daaraan te gee eerder as om dit te onderdruk. Dit het ʼn stil plek geword waar ek sin van verdriet, vreugde, onsekerheid en hoop kan maak.
Moontlik is dit ook hoe ek oor leierskap dink. Mense dink soms leiers moet onbetrokke of objektief wees. Ek het tot die teenoorgestelde oortuiging gekom. Ons het beslis veerkragtigheid nodig, maar ons moet nooit hard word nie. Ek hoop ek verloor nooit my vermoë om geraak te word nie – deur musiek, kuns, die natuur, woorde en bowenal deur mense. Daardie ervarings herinner my daaraan waarom ek geneeskunde gekies het en waarom ek, ondanks die druk van leierskap, steeds glo dat ons grootste verantwoordelikheid is om diep menslik te bly.