Skip to main content
US-dosent se reis neem haar van veiligheidstewels na boeke

US-dosent se reis neem haar van veiligheidstewels na boeke

Asiphe Nombewu /Corporate Communication
17 Maart 2020

​Delecia Davids se akademiese reis is 'n duidelike bewys dat dit nie noodwendig 'n teken van mislukking is om van studierigting te verander nie.

Terwyl dit vir baie 'n skrikwekkende taak kan wees om 'n graadkursus te kies, was dit vir Davids – 'n ontvanger van die 2020 Mandela Rhodes-beurs – op die oog af 'n baie maklike besluit, aangesien sy altyd siviele ingenieurswese wou studeer. En ná 'n gestruktureerde oorbruggingsjaar, wat aan haar 'n beurs vir haar eerste jaar op universiteit verseker het, was sy gereed om haar vlerke te sprei.

Maar, vertel Davids, haar liefde vir ingenieurswese het vinnig begin afneem toe sy onderwys in haar eerste jaar op Stellenbosch ontdek het. “Ek het baie dinge oor myself in my eerste jaar ontdek. Ek wou meer van mense weet – hoe hulle leer, wat hulle leer beïnvloed en watter rol onderwysers in hierdie ontwikkeling speel," sê die 28-jarige dosent.

Omdat sy 'n eerste generasie-kind op universiteit was, was dit vir Delecia uiters moeilik om aan die einde van haar eerste jaar van studierigting te verander, maar sy was vasbeslote om haar nuutgevonde liefde vir die onderwys verder te verken.

“Om van graadprogram te verander, het beteken dat ek my befondsing moes prysgee en dit was 'n uitdaging. My pa moes 'n plan maak om vir een jaar van my studies te betaal al kon ons dit op daardie tydstip nie bekostig nie," sê sy.

Deur haar harde werk het Delecia egter vir haar 'n Funza Lushake-beurs losgeslaan om vir haar onderwysgraad te betaal. Later moes sy self vir haar honneursstudies betaal, maar was dit makliker omdat sy toe reeds gewerk het.

Afgesien van haar 2020 Mandela Rhodes-beurs, het sy al talle leierskapposisies aan die US beklee. Sy was onder meer die prim van Irene Dameskoshuis asook die Uitvoerende Klustersameroeper in 2016/2017.

“Van my absolute hoogtepunte aan die US was onder meer om my honneursgraad met lof​ te slaag terwyl ek voltyds gewerk. Die US het verskeie geleenthede vir my moontlik gemaak – ek het reeds na drie lande op drie vastelande gereis, en ek kon my navorsing by 'n internasionale konferensie in Ierland aanbied. Ek het ook 'n beurs ontvang om TEDWomen in Kalifornië by te woon danksy my rol om TEDxStellenbosch-geleenthede by die US aan te bied. Dit is geleenthede soortgelyk aan TED wat plaaslike idees met 'n wêreldwye strekking vier. 

Terwyl sy in die stofstrate van Delft op die Kaapse Vlakte in Kaapstad grootgeword het, het Delecia van baie goed gedroom wat sy eendag wou word, maar sy het niemand in haar onmiddellike omgewing geken wat aan 'n tersiêre instelling studeer het nie.

“Buiten my onderwysers, het ek nie kontak gehad met baie mense wat al hierdie pad gestap het nie. Ek onthou ek het in 2009 in my graad 11-jaar die Universiteit van Stellenbosch se opedag bygewoon. Ek dink dit was die dinamiek van wat ek hier gesien het wat my na die US gelok het."

Danksy haar betrokkenheid by studenteleierskap het Delecia toegang tot personeellede gehad wat haar mentors geword het – mense wat voortdurend geleenthede in haar rigting gestuur het en haar aan verskillende denkrigtings blootgestel het.

“Ek het geleer om ontvanklik te wees vir geleenthede en uitdagings en om my gemaksone te vergroot deur buite dit te leef," voeg sy by.

Delecia is 'n deeltydse dosent in die departement Kurrikulumstudies by die Fakulteit Opvoedkunde en gee vir eerstejaar-onderwysstudente klas in die Natuurwetenskappe en Omgewingsopvoeding.

Terselfdertyd dien sy ook as Programkoördineerder vir Ko-kurrikulum by die Sentrum vir Studentegemeenskappe. Sy is verantwoordelik vir die ontwikkeling van leierskap- en gemeenskapsbouprogramme wat binne koshuise, private studente-organisasies (PSO's) en klusters aangebied word.

Sy hoop dat haar meestersgraad in Opvoedkundige Beleidstudies ander vakkundige praktisyns in studentesake sal help om kultureel-responsiewe kurrikulums vir ruimtes buite die klaskamer te ontwikkel en in werking te stel sodat studente van hoër onderwysinstellings nie net met hulle kwalifikasies uitstap nie, maar ook met gesogte eienskappe en vaardighede. ​