
Zanele wil haar ervaring met ander deel
Maties Sport se personeellede het die Paralimpiese en Maties Parasport-atleet Zanele Situ Maandag gelukgewens omdat sy as vlagdraer vir die SA Paralimpiese span in Rio gekies is, en haar sterkte toegewens.
Lees haar storie hier …
Wat veroorsaak 'n vonkel in die oog van Maties se veteraan Paralimpiese atleet en Stellenbosch-sportambassadeur Zanele Situ?
Is dit die eer om gekies te word as Suid-Afrika se vlagdraer by die 2016 Paralimpiese Spele in Rio? Is dit die wete dat sy die eerste swart Suid-Afrikaner was om 'n goue medalje op Paralimpiese vlak te wen? Kan dit die ministeriële toekenning vir uitmuntendheid in sport wees wat sy onlangs ontvang het? Of enige van die ander toekennings, onder meer die Nasionale Orde van Ikhamanga vir Uitstaande Prestasie, waarmee hierdie vrou van die Oos-Kaap – wat in haar tienerjare vermoedelik weens spinale tuberkulose verlam geraak het – vereer is?
Dit is … nie een van die bogenoemde nie.
Geen medalje of toekenning kan Zanele se gesig so laat straal soos wanneer sy oor haar dogter praat nie.
Die tien jaar oue Azamazi is die lig in haar ma se lewe.
"Ek is so trots op haar soos wat sy op my is," sê Zanele.
Wat baie sê, want Azamazi het goeie rede om trots te wees op haar ma wat in September aan haar vyfde Paralimpiese Spele gaan deelneem.
"Toe ek my reis as gestremde persoon begin het, het ek nie geweet van sport vir mense met gestremdhede nie," onthou Zanele.
Nadat sy die gebruik van haar bene verloor het, het sy 'n spesiale skool begin bywoon waar sy aan verskillende sportkodes bekendgestel is.
"Ek het nie van groot kompetisies geweet nie, ek het net pret gehad."
Zanele het in 1996 gekwalifiseer vir die Wêreldkampioenskap in Engeland waar sy goue medaljes vir spiesgooi en gewigstoot gewen het. Sy was ook ingeskryf om aan tafeltennis deel te neem, maar dit het met haar ander items gebots.
In daardie stadium het medaljes, rekords en roem nie regtig 'n indruk op haar gemaak nie.
"Toe ek goud gewen het en die wêreldrekord gebreek het in die spiesgooi-item by die Paralimpiese Spele in Sydney, was die afrigters, bestuurders en my spanmaats baie opgewonde maar ek het nie regtig verstaan wat gebeur nie."
Sy het by daardie Paralimpiese Spele ook 'n silwermedalje in diskus gewen en dit opgevolg met nog 'n goue medalje in die spiesgooi-item in Athene vier jaar later.
Met verloop van tyd het sy meer gewoond geraak aan reis en kompetisies, maar haar gunsteling-deel van sport is om op haar eie te oefen.
"Ek hoef nie te praat nie – my gedagtes kan net afskakel," sê sy.
Zanele het in 2009 na Stellenbosch verhuis en saam met haar huidige afrigter, Karin le Roux, begin oefen. Hoewel sy nie van reis hou nie, neem sy aan internasionale kompetisies deel om haarself met die beste in die wêreld te vergelyk.
Op nasionale vlak het sy nie werklik 'n teenstander nie en met verloop van tyd het daardie medaljes en titels nie meer so baie beteken nie. Sy sal liewer vierde eindig, maar weet dat sy op vorige uitslae verbeter het.
"Ek wil weet ek het my beste gegee en hard gewerk vir goeie uitslae."
Dit is ook wat sy haar dogter leer wat 'n ontluikende sportster in haar eie reg is en uitblink in atletiek en gimnastiek.
"Ek wil hê my dogter moet weet dat die lewe hoogte- en laagtepunte het en dat jy nie altyd wen nie, maar dis ook goed om te verloor want dan leer jy meer. Ek leer haar dat as sy val, moet sy opstaan. Sy moet haarself oplig en vorentoe gaan. Sy kan nie vir iemand wag om haar op te tel nie."
Afhangend van haar omstandighede beplan Zanele nie om binnekort op te hou sport doen nie. Sy is ook bereid om haar ervaring met ander te deel.
"Sedert ek my reis as gestremde persoon begin het, het ek baie geleer. Ek kan nou raad gee en ander mense help wat dalk in dieselfde posisie is."