Xeketwana praat oor ubuntu en Afrikatale by Universiteit van Pardubice
Dr Simthembile Xeketwana (Departement Kurrikulumstudies) is op 16 Junie deur die Taalsentrum van die Universiteit van Pardubice in die Tsjeggiese Republiek ontvang. Hy het 'n lesing oor Ubuntu en Afrikatale as beliggaming(e) van gemeenskaplike lewe aangebied. Hierdie lesing was betekenisvol aangesien Suid-Afrika Jeugdag gevier het, wat verband hou met taalregte. In die aanbieding het Xeketwana uitgebrei oor hoe ubuntu as 'n manier van lewe deur die Afrikatale gesien en verwesenlik word. Hierdie tale bepleit ubuntu nie net as 'n filosofie wat 'n mens kan teoretiseer nie, maar ook die verskuilde onto-epistemologieë aanroep wat gebruik moet word en waarop gewerk moet word om ons tale as Suid-Afrikaners en moontlik Afrika in die algemeen te ontwikkel. Hy het verder aangevoer dat deur hierdie onto-epistemologieë wat onderliggend is aan ubuntu, sosiale kohesie ontwikkel en gebruik kan word om Suid-Afrika te verbeter.
Die lesing was verder interessant aangesien dit ook deur die verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse ambassade, Namhla Gigaba, bygewoon is. Dit was instrumenteel vir die regering en hierdie twee instellings van hoër onderwys vir verdere samewerking.
Hierdie lesing is moontlik gemaak deur Zaan Bester, 'n voormalige US-werknemer, wat nou by die Universiteit van Pardubice werk.
Laastens hoop Xeketwana dat daar meer samewerking met die Universiteit van Pardubice (Taalsentrum) rakende taalonderrig sal wees.
Xeketwana spandeer tans twee maande in Duitsland aan die Universiteit van Leipzig as 'n genoot by die Instituut vir Afrikastudies.
![]() Xeketwana bied 'n lesing aan by die Universiteit van Pardubice. | |
![]() Gigaba en die direkteur van die Taalsentrum by die Universiteit van Pardubice, Andrea Koblížková. | |