Skip to main content
Wynbiotegnologiestudent se omgee beloon

Wynbiotegnologiestudent se omgee beloon

Engela Duvenage
31 Julie 2019

In sy matriekjaar het 'n aflos-onderwyser die ekstra myl gestap om Ricardo Smart te inspireer en te help om die eerste lid van sy gesin te word om universiteit toe gaan. Deesdae is Smart 'n doktorale tudent in wynbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch. Die voorbeeld van sy wiskunde-onderwyser inspireer hom steeds om 'n lewe in diens van ander te lei. Hy is hiervoor op 26 Julie met die  International Leadership Council Award van die Golden Key International Honour Society vereer.

Die Golden Key Society is 'n organisasie sonder winsoogmerk wat aan meer as 400 universiteite wêreldwyd gekoppel is. Die GK-ILC-toekennings word vanjaar vir die twee keer gemaak. Dit erken studenteleiers regoor die wêreld wat uitblink as leiers, in hul akademie of vir gemeenskapswerk. Smart is vereer as gemeenskapsleier, terwyl die ander toekennings gemaak is aan studente in die VSA en die Asië-Stille Oseaan-streek.

Smart is sedert 2011 'n aktiewe lid van die Stellenbosch-afdeling van die Golden Key Society, en was ten nouste betrokke by die dienskomponent daarvan. Hy het onder meer gehelp met die Toasties for Tummies-projek (waardeur daar op Mandeladag in oorleg met Maties Gemeenskapsdiens toebroodjies aan 20 gemeenskappe in Stellenbosch uitgedeel is)en 'n Kersfees-in-Julie-projek vir plaaslike nasorgsentrums.

Smart is veral trots op sy pogings sedert 2015 om Golden Key-lede se voortgesette betrokkenheid by 'n nasorgsentrum op Stellenbosch te verseker, en sodoende laerskoolleerder met hul huiswerk te help: “Dit was wonderlik om te sien hoe die kinders in hul vermoëns begin groei, danksy die hulp en die aanmoediging wat die studente vir hulle gee."

Smart, wat in 2009 hoofseun van Blackheath Hoërskool was, sê sy lewe in diens van ander is geïnspireer deur sy instaan-wiskundeonderwyser, Charlton Hendricks.

“In die eerste ses maande van matriek het ons nie 'n wiskunde-onderwyser gehad nie. Mnr. Hendricks het as vrywilliger ingetree en selfs Saterdae ekstra klasse gegee sodat ons kon inhaal. Uiteindelik het ek matriek wiskunde geslaag, byna met onderskeiding," onthou hy.

Dit bly hom steeds by hoe Hendricks die ekstra myl gestap het om vir self vir hom sy aansoekvorms vir universiteit in te vul.

“As hy my nie met die vorms gehelp het nie en die aansoekgeld gedeeltelik betaal het nie, sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie," weet Smart.

Hy't sy onderwyser se voorbeeld en impak onthou toe in sy derde jaar as 'n BSc-student sy vriend, Keenan Herbert, voorgestel het dat hulle ekstra wiskunde en rekeningkunde leerders aan Blackheath leerders aanbied. Dit het hulle vir die meeste Saterdae in 2014 en 2015 by die Evergreen Hulpbronsentrum in Blackheath gedoen. In daardie twee jaar het hulle gesien hoe tieners se selfvertroue groei, en hoe hulle weldra hul loopbaandrome kon bereik.

“Om diensbaar te wees is baie soos om 'n saadjie te plant. Moenie môre al 'n boom verwag nie. Sorg gereeld daarvoor, en voor jy weet kan daar dalk 'n boom voortspruit," glo Smart.

Oor die jare het Smart toekennings ontvang vir gemeenskapsdiens van die Universiteit Stellenbosch, en 'n Super Mentor-toekenning van die Rachel's Angels-projek van Media24. Verlede jaar het GoodHope FM hom erken as 'n inspirerende leier.

“Om diensbaar te wees, kom natuurlik vir my en gebeur dikwels in die hitte van die oomblik. Dit is 'n manier van lewe vir my," merk hy op. “Om iemand te help gee mens so 'n aangename gevoel."

In sy hart is Smart ook 'n mikrobioloog. Hy't reeds 'n honneursgraad in mediese mikrobiologie en 'n MSc in mikrobiologie agter sy naam. Smart is nou besig met sy doktorsgraad deur die Instituut vir Wynbiotegnologie van die Departement Wingerd- en Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Daarna hoop hy om 'n nadoktorale genootskap te voltooi by 'n oorsese instelling wat spesialiseer in funksionele metagenomika, en later na Suid-Afrika terug te keer om 'n dosentpos of navorsingsposisie in die akademie te beklee. Vir sy PhD ondersoek hy die manier waarop dekgewasse soos favabone en tritikale wat in wingerde gebruik word, die mikro-organismes wat mens in die grond, op blare en korrels kry beïnvloed, en uiteindelik ook die wyne wat van die druiwe geproduseer word.

Smart het reeds die Universiteit Stellenbosch se Golden Key-afdeling twee keer in die VSA verteenwoordig. Hy het verlede jaar aan die Kaapstadse Internasionale beraad deelgeneem, en vanjaar aan die Ubuntu Internasionale Leierskapskongres in Pretoria. Hy is steeds betrokke by die Golden Key Society, maar nou op nasionale vlak betrokke met alumni-skakeling. Dit bied hom die geleentheid om met hoofstukke aan ander universiteite in die land saam te werk.

“Ek wil mense beïnvloed en ander inspireer en aanmoedig om mense te help," droom hy.

Van die mense wat hy reeds so positief beïnvloed het, is sy eie ma, Leah Smart, en 'n vorige president van die Stellenbosch-afdeling van Golden Key, Morakane Kapa.

“Ek het my ma begin saamneem toe ek klere aan haweloses op Stellenbosch begin uitdeel het. Deesdae vra sy wanneer ons dit weer doen. Dit is nogal 'n lekker gevoel daardie! Morakane is geïnspireer om gereeld klere te skenk nadat Golden Key 'n projek gedoen het om klere vir die Stellenbosch se rampeenheid in te samel."