
WoordTROfees Wenners vir 2016
Met 'n driekuns vir A Doll's House en die strelende stem van die Prinses van Afrika, het die Woordfees Maandagaand tydens 'n gesellige kuier in die Stellenbosch Stadsaal die afgelope fees se hoogtepunte gevier.
WoordTROfees vir beste produksie, regisseur en byspeler het van A Doll's House die mees genoemde produksie van die aand gemaak. Die veteraan-akteur Andrew Buckland het die WoordTROfee verower as beste speler vir Tobacco and the Harmful Effects Thereof. Yvonne Chaka Chaka, wat, net soos Buckland vanjaar vir die eerste keer by die fees opgetree het, het die prys gewen vir beste solo-musiekoptrede. Kô, lat ons sing!, 'n huldigigingskonsert ter viering van Adam Small se tagtigste verjaardag, was die beste musiekoptrede deur 'n groep. Adriaan Brand, Juanita Swanepoel, Zenobia Kloppers en Frazer Barry is maar net 'n paar van die name wat meegewerk het aan hierdie uithaler produskie wat die gehoor tydens die Woordfees gaande gehad het.
Swanepoel is saam met Johann Nel vereer vir Praat van die Duiwel, 'n Woordkuns-produksie, terwyl Juju Domingo en Lucas Heinen as beste jong kunstenaars beloon is vir hul optrede in The Banquet.
Op die klassieke musiek-front het pianis Ben Schoeman (instrumentaal) en die Stellenbosch Universiteitskoor (vokaal) met die louere weg geloop. Lien Botha se uitstalling Wonderboom het die prys vir visuele kuns gewen terwyl Francois Knoetze die prys as ontluikende kunstenaar verower het.
Die drie boekpryse is toegeken aan die topverkopers by die ATKV-boekwinkel wat tydens die Woordfees sake doen. Kook saam Kaaps deur Florrie Schrikker en Koelsoem Kamalie was die topverkoper in die Leefstyl-afdeling. Hammie deur Ronelda Kamfer was die gewildste boek in die poësie-afdeling en die US Woordfees se kortverhaalbundel, Bly, was die beste verkoper in die prosa-afdeling.
Woorde Open Wêrelde (WOW) het tydens dieselfde geleentheid die opvoeder van die jaar – Antonia du Toit – en beste skool – Strand Sekondêr – vereer.
Die wenners is as volg:
Toneel, Beste Speler: Andrew Buckland – Tobacco and the Harmful Effects Thereof
Toneel, Beste Byspeler: Rob van Vuuren – A Doll's House
Toneel, Beste Regisseur: Christiaan Olwagen – A Doll's House
Toneel, Beste Produksie: A Doll's House
Woordkuns: Praat van die Duiwel – Johann Nel en Juanita Swanepoel
Kontemporêre Musiek, Solo: Yvonne Chaka Chaka – The Princess of Africa
Kontemporêre Musiek, Groep: Kô, lat ons sing!
Klassieke Musiek, Vokaal: Stellenbosch Universiteitskoor olv. André van der Merwe
Klassieke Musiek, Instrumentaal: Ben Schoeman – Schoeman in Konsert
Visuele Kuns: Lien Botha – Wonderboom
Opkomende Kunstenaar: Francois Knoetze
Deurbraak: The Banquet: The Room of Dreams – Ju-Ju Domingo en Lucas Heinen
Gewildste Boek, Prosa: Bly – US Woordfees 2016
Gewildste Boek, Leefstyl: Kook saam Kaaps – Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker
Gewildste Boek, Poësie: Hammie – Ronelda S. Kamfer
Woordfees Helde: Dawid en Henk Fourie
WOW Opvoeder van die Jaar: Antonia du Toit
WOW Skool van die Jaar: Strand Sekondêr