Skip to main content
#WomenofSU: Lynne Rippenaar-Moses

#WomenofSU: Lynne Rippenaar-Moses

Corporate Communication
08 Augustus 2019

​As kommunikasie- en skakelbeampte by die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, is Lynne Rippenaar-Moses die stukrag agter die bemagtiging van vroue in die hoëronderwyssektor.

Rippenaar-Moses is onlangs as die nuwe voorsitter van HERS-SA, 'n selfonderhoudende niewinsgewende organisasie wat die bevordering en leierskapontwikkeling van vroue in die hoëronderwyssektor ten doel het, verkies. HERS-SA bepleit en dra by tot die loopbaan- en leierskapontwikkeling van vroue wat in die hoëronderwyssektor werk deur middel van weldeurdagte programme.

Hoekom is HERS-SA belangrik in hoër onderwys?

Suid-Afrika se wetgewing oor geslagsgelykheid is goed, maar ons faal met die implementering daarvan. In 2018 het Statistiek Suid-Afrika bevind dat mans “meer geneig is om in betaalde werk as vroue te wees, ongeag ras", en mans kry hoër betalende werksgeleenthede en posisies op bestuursvlak. Hoër onderwys (HO) is ʼn weerspieëling van wat in die Suid-Afrikaanse samelewing gebeur.

In 2013 was daar 72 500 vroue wat by die 26 openbare universiteite in ons land gewerk het. Dit is 53% van die werksmag by ons universiteite. Dit lyk hoog, maar 2016 HEMIS-syfers toon dat slegs 43% van vroue, beide akademiese en steundienspersoneel, in senior bestuursposisies is. Vroue-akademici maak 27,5% van die 2 218 professore in diens by ons instellings en 39,5% van die 2 131 medeprofessore by ons universiteite uit. Van die 4 890 senior dosentposte by ons instellings word 45,1% deur vroue gevul. 53,3% van die 8 498 dosentposisies en 56,6% van die 1 035 junior dosentposisies word deur vroue beklee.

Met min vroue op topbestuursvlak, is ons instansies steeds patriargale omgewings waar die spesifieke uitdagings wat vroue in die gesig staar en hul spesifieke behoeftes geïgnoreer word. Loopbaanvordering vir vroue word verder vertraag deur faktore soos werkskulture wat gerig is op die bevordering van mans, persepsies binne die samelewing dat mans beter leiers is en die lae aantal vroue wat aansoek doen vir senior en topbestuursposte weens ʼn werkskultuur van lang, intensiewe werksdae wat vroue se ander verantwoordelikhede kan beïnvloed. Vroue op senior en topbestuursvlak moet dikwels vyandigheid ervaar, en daar is salarisgapings tussen mans en vroue wat dieselfde werk verrig.

HERS-SA is een van die enigste organisasies in Suid-Afrika met ʼn bewese rekord in die ontwikkeling van vroue in HO op nasionale vlak en pleit vir die leierskapontwikkeling van vroue. So HERS-SA speel ʼn belangrike rol om instellings te help om geslagsgelykheid in die huidige klimaat te bereik.

Wat wil jy bereik as die nuwe voorsitter van HERS-SA?

Ek verteenwoordig een deel in die HERS-SA-masjien, wat ook ons direkteur, Brightness Mangolothi, die ondervoorsitter van die raad, Shahieda Hendricks, en vyf raadslede insluit wat verbonde is aan vyf van die 26 universiteite in Suid-Afrika. Saam verteenwoordig ons ʼn diverse groep vroue met verskillende agtergronde en inkomstevlakke, asook ervarings van die HO-omgewing wat ras, gestremdhede of kulturele norme in die werkplek betref. Ek sien myself as deel van ʼn vennootskap van vroue wat werk om HERS-SA se visie te implementeer, wat bydra tot die loopbaanbevordering en leierskapsontwikkeling van vroue in die HO-sektor.

Wat was van die suksesse van HERS-SA sover?

Tot dusver het ons meer as 1 200 vroue deur die HERS-SA Akademie opgelei. Ons volgende stap is om die moontlikheid te ondersoek om mentorskapprogramme en deurlopende leergeleenthede te implementeer, beide aanlyn en by universiteite regoor Suid-Afrika, en om jong HO-personeel vroeg in hul loopbane aan die HERS-SA leierskapsontwikkelingsgeleenthede bloot te stel. Ek wil graag sien dat HERS-SA vroue se vasberadenheid versterk om hul posisie by hul instellings daadwerklik in te neem. As ons ʼn sitplek aan daardie tafel vra, skep dit die indruk dat ons in die eerste plek nooit daaraan behoort het nie.

Jy is baie passievol oor die bemagtiging van vroue op alle terreine van die lewe. Wat is die dryfveer agter hierdie passie?

As jy iemand anders bemagtig, moet jy nie huiwer om hulle ook ʼn hupstoot te gee nie. Ek het in Idasvallei grootgeword, wat ʼn gemeenskap is met ʼn mengsel van werkers- en middelklasfamilies. In so ʼn omgewing kan jy nie onbewus wees van werkloosheid, armoede en die gebrek aan toegang tot goeie gehalte onderwys vir sommige Suid-Afrikaners nie. In ons land word dit veral ʼn morele plig om ander te bemagtig as jy reeds die leer kon klim. Ek is waar ek vandag is omdat ek bemagtig is deur vroue en manlike leiers. Die vroue en mans wat ʼn impak op my lewe gehad het, maak ʼn uiteenlopende groep uit, van my oumas (nie een van hulle het skool voltooi nie), akademici en steundienspersoneel by verskeie instansies in Suid-Afrika, sakemanne en -vroue, sowel as my ouers en Eldridge. So ek kan nie anders as om passievol te wees oor bemagtiging in die algemeen en spesifiek die bemagtiging van vroue nie.

Wat sal jou boodskap van aanmoediging wees om jong vroue te bemagtig?

Soek mentorskap van vroue- en manlike leiers wat jy bewonder, selfs al is hulle duisende kilometers voor jou op hul loopbaanpaaie en maak seker dat hulle jou sal aanspoor. Steek jou hand op en raak betrokke by projekte of inisiatiewe wat vaardighede vereis wat jou huidige vaardigheidsvlak ver oorskry. Jy mag langs die pad misluk en uit jou diepte voel, maar jy sal leer, nuwe vaardighede aanleer en meer selfvertroue in jou vermoëns ontwikkel. Die belangrikste – en dalk ʼn bietjie van ʼn cliché – is om jouself te wees, selfs al beteken dit dat jy nie inpas by die “norme" wat die samelewing stel nie.