Skip to main content
Werkende ma’s aangemoedig om te borsvoed

Werkende ma’s aangemoedig om te borsvoed

FMHS Marketing & Communications
29 Julie 2016

Die meeste mense is bewus van die baie voordele van borsmelk en borsvoeding, maar nie alle werkgewers en kollegas ondersteun werkende ma's om aan te hou borsvoed wanneer hulle terugkeer werk toe nie. Ma's hou dus meermale teen hulle sin en beterwete op om te borsvoed wanneer hulle na kraamverlof begin werk.

Só sê dr Lisanne du Plessis, ʼn dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en geregistreerde dieetkundige en voedingskundige.

Du Plessis het gesê nuwe bewyse oor die voordele van optimale borsvoeding vir moeders en babas in lande met hoë en lae inkomstevlakke is onlangs as ʼn reeks oorsigtelike artikels in die hoogsaangeskrewe mediese joernaal The Lancet aangebied.

Dié reeks het ʼn meta-analise (ʼn statistiese metode om die resultate van ʼn aantal studies saam te voeg) ingesluit wat aangedui het dat borsvoeding die oorlewing, gesondheid en ontwikkeling van alle kinders wat in alle dele van die wêreld woon verbeter. Babas wat geborsvoed word, word beskerm teen kinderinfeksies en hulle het ʼn laer risiko om oorgewig te raak en om later diabetes te ontwikkel. Hulle word verder beskerm teen wanokklusie (die onvolmaakte posisionering van die tande wanneer die kakebene op mekaar is) en het hoër intelligensietellings.

"Dit is daarom uiters belangrik dat ma's ondersteun word om te borsvoed in alle omgewings en op alle vlakke van die gemeenskap," het Du Plessis gesê.

Volgens dr Sunita Potgieter, ʼn dieetkundige en Hoof van die Welweeskomitee van die FGGW, keer baie ma's binne drie maande nadat hulle geboorte geskenk het terug werk toe, wat kan lei daartoe dat minder van hulle borsvoed of dat die borsvoedingstydperk korter is. "Werkgewers moet hulpbronne aanwend om vroue in die werksplek te ondersteun sodat hulle kan aanhou borsvoed na hulle teruggekeer het werk toe", het sy gesê.

Sy het gesê hindernisse wat moeders keer om aan te hou borsvoed nadat hulle terug is by die werk sluit in ʼn onbuigsame werksprogram wat nie ruimte vir uitmelktye laat nie, ʼn gebrek aan fasiliteite om borsmelk uit te pomp en te stoor, kommer oor ondersteuning van die werkgewer en kollegas en vrese oor lae melkproduksie.

Die FGGW se Welweeskomitee het ʼn projek van stapel gestuur om ʼn borsmelkfasiliteit op die Tygerberg-kampus te vestig. "Dié fasiliteit sal vroue wat terugkeer werk toe na hulle geboorte geskenk het, in staat stel om borsmelk uit te pomp in ʼn gemaklike, private en ontspannende omgewing, met plek om die borsmelk te stoor sodat die ma's die beste voeding aan hulle babas kan voorsien," het Potgieter gesê.

Die fasiliteit is gemeubileer met gemaklike leerbanke, en het ʼn klein yskas, ʼn mikrogolfoond om toerusting te steriliseer en ʼn private en suite-badkamer. Dit het ʼn ruimte waar babas se doeke omgeruil kan word en kan gebruik word vir borsvoeding of om borsmelk uit te pomp. Die fasiliteit sal amptelik geopen word op Vrydag 29 Julie 2016, wat saamval met die aanvang van Wêreldborsvoedingsweek.

Die rol van voeding en borsvoeding tydens die eerste 1 000 dae van ʼn kind se lewe (van bevrugting en swangerskap tot en met ʼn kind se tweede verjaarsdag) kan nie betwis word nie. Eksklusiewe borsvoeding (deur slegs borsmelk te voer en geen ander vloeistowwe, soos water, tee, sap en vaste kos nie) tydens die eerste ses maande word beskou as die doeltreffendste manier om babas in lande met lae inkomstevlakke te red van siektes en sterftes.

Ma's wat borsvoed het ʼn laer risiko om borskanker, eierstokkanker en tipe II Diabetes Mellitus te ontwikkel. Swangerskappe wat kort op mekaar volg verhoog gesondheidsrisiko's en borsvoeding is ʼn natuurlike manier om die tydperk tussen geboortes te verleng.

» Kliek hier vir foto's van die fasiliteit.