Skip to main content
Wêreldnierdag: Die verband tussen sout, hipertensie en chroniese niersiekte

Wêreldnierdag: Die verband tussen sout, hipertensie en chroniese niersiekte

Yazied Chothia
14 Maart 2024

Wêreldnierdag word jaarliks op die tweede Donderdag in Maart (op 14 Maart in 2024) gevier. In ʼn meningsartikel vir die Daily Maverick skryf prof Yazied Chothia van die Eenheid vir Nefrologie dat ʼn oormatige soutinname en onbeheerde hipertensie chroniese niersiekte kan vererger.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

​Yazied Chothia*

Wêreldnierdag word jaarliks op die tweede Donderdag in Maart (op 14 Maart in 2024) gehou om bewustheid te skep oor hoe belangrik ons niere vir ons gesondheid in die geheel is. Vanjaar se tema is “Kidney Health for All – Advancing equitable access to care and optimal medication practice" (“Niergesondheid vir almal: Bevordering van billike toegang tot sorg en optimale medikasiepraktyk").

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is chroniese niersiekte (CNS) tans die tiende grootste oorsaak van sterftes wêreldwyd met 'n geskatte 850 miljoen mense wat geraak word of een uit elke tien mense wat aan die een of ander vorm van niersiekte lei. Daar is baie oorsake vir CNS, waarvan een van die algemeenste oorsake hipertensie (hoë bloeddruk) is.

Daar word beraam dat die voorkoms van hipertensie in Afrika 31% is, met Suid-Afrika wat een van die hoogste koerse in Afrika suid van die Sahara op 35% het, wat beteken dat meer as een uit elke drie Suid-Afrikaners aan hoë bloeddruk ly. Die belangrikste faktore wat hoë bloeddruk of hipertensie kan aandryf, is toenemende verstedeliking, sittende leefstyl met 'n gebrek aan oefening, hoë-sout diëte hoofsaaklik weens die eet van hoogs verwerkte voedsel, vetsug, rook en oormatige alkoholverbruik.

Daar kan by 95% van pasiënte met hoë bloeddruk geen identifiseerbare oorsaak gevind word nie. Wanneer hipertensie 'n identifiseerbare oorsaak het, is dit dikwels weens onderliggende niersiekte of verwant aan toestande wat die bloedvate van die niere beïnvloed. Swak behandelde hipertensie kan tot progressiewe nierskade lei wat weer bloeddrukbeheer kan verswak, en 'n bose kringloop laat ontstaan. Vandaar die gesegde, “hipertensie bring hipertensie voort".

Volgens 'n studie wat in 2017 verskyn het, is slegs die helfte van pasiënte wat aan hoë bloeddruk gely het, se bloeddruk in hulle leeftyd gemeet, en slegs 28% van hierdie pasiënte is met hipertensie gediagnoseer, met slegs een uit vyf van diegene wat gediagnoseer is, wat behandeling ontvang het. Wat nog meer kommerwekkend is, is dat slegs 9% se bloeddruk onder beheer was.

Die WGO wys daarop dat hipertensie een van die grootste oorsake van voortydige dood wêreldwyd is. Onbeheerde hipertensie word geassosieer met die ontwikkeling van verwoestende kardiovaskulêre siektes, insluitende beroerte, hartversaking en hartaanvalle, periferiese kardiovaskulêre siekte (wanneer vernoude bloedvate bloedtoevoer na die ledemate verminder) wat amputasie van die onderste ledemate en CNStot gevolg het. Volgens die 2021 Suid-Afrikaanse Nierregisterverslag het byna 40% van pasiënte wat niervervangingsterapie (dialise) ontvang het, aan nierversaking weens hipertensie gely. Daar word beraam dat elke styging van 20/10 mmHg (millimeter kwik) in bloeddruk met 'n verdubbeling van kardiovaskulêre siekteverwante sterfte geassosieer word.

Dit is 'n algemene mite is dat hipertensie hoofpyn veroorsaak. Dit kan met nie-spesifieke simptome of, in die oorgrote meerderheid gevalle, geen simptome nie geassosieer word, en word daarom as die “stille moordenaar" bestempel. Daarom word sifting veral vir hoë-risikogroepe, insluitende bejaardes, mans, mense met diabetes en 'n familiegeskiedenis van hipertensie, en mense wat oorgewig is en aan vetsug ly, aanbeveel. 'n Diagnose van hipertensie vereis ten minste drie bloeddrukmetings deur 'n dokter wat by of bo 'n sistoliese bloeddruk (druk wanneer die hart bloed pomp) van 140 mmHg en/of 'n diastoliese bloeddruk (druk wanneer die hart tussen slae rus) van 90 mmHg is.

Soos die spreekwoord lui, is voorkoming beter as genesing. Sodra iemand met hipertensie gediagnoseer is, moet behandeling begin om die ontwikkeling van of beheer van bestaande kardiovaskulêre en niersiektes te voorkom. Dit sluit leefstylveranderinge en/of die voorskryf van medikasie in. Wat leefstylverandering betref, word 'n lae-sout dieet, gewigsverlies en oefening, en staking van rook- en alkoholverbruik aanbeveel. Hoewel dit nie so maklik is om hierdie veranderinge aan te bring nie, kan dit net so goed vir hipertensie wees as om dit met middels te behandel.

Die invloed van soutinname op die ontwikkeling van kardiovaskulêre siektes word dikwels ondergewaardeer, maar dit het 'n groot invloed. In 2012 was oormatige sterftes wat aan hipertensie weens oormatige soutinname toegeskryf is vir toestande soos iskemiese hartsiektes (hartskade veroorsaak deur swak bloedvloei na die spier van die hart), beroertes, hipertensiewe hartsiektes en hipertensiewe niersiekte, onderskeidelik 25%, 18%, 15% en 7%. Studies het getoon dat Suid-Afrikaners te veel sout eet. 'n Studie in 2016 het byvoorbeeld 'n gemiddelde soutinname van 7,2 gram per dag aangedui, ondanks die riglyne wat soutinname tot minder as 6 g per dag beperk. Dit is gelykstaande aan 'n gelykvol teelepel tafelsout.

Suid-Afrika het in Junie 2016 wetgewing in werking gestel wat die maksimum hoeveelheid sout in verwerkte voedsel beperk om soutinname tot minder as 5 g per dag te verminder. 'n Studie het in 2021 bevind dat soutinname in die land sedert die implementering daarvan afgeneem het. Naas mielies is brood 'n belangrike stapelvoedsel in die Suid-Afrikaanse dieet. Die gemiddelde broodverbruik per capita deur Suid-Afrikaners is drie snye per dag (of 100 g), wat ongeveer 1 g sout bevat. Vóór die wetgewing het drie snye brood gemiddeld 1,2 g sout bevat. Daar word beraam dat hierdie klein vermindering in die soutinhoud van brood alleen 6 400 kardiovaskulêre sterftes kan voorkom.

Die vermindering van soutinname kan bloeddruk met tot 8 mmHg verlaag. Ander leefstylmaatreëls kan ook 'n groot invloed op die verlaging van bloeddruk hê. Matige oefening van minstens 150 minute per week of 30 minute vyf dae per week kan bloeddruk met tot 9 mmHg verlaag, terwyl elke 10 kg gewigsverlies met 'n bloeddrukverlaging van tot 20 mmHg geassosieer word. Dit is belangrik om daarop te let dat die uitwerking van elke leefstylverandering 'n kumulatiewe uitwerking op die verlaging van bloeddruk het.

Wat anti-hipertensiemiddels betref, is dit belangrik om in gedagte te hou dat 'n hoë soutinname die doeltreffendheid van sekere middels kan beïnvloed wat vir die behandeling van hipertensie gebruik word, veral diuretika, wat gereeld na verwys word as “waterpille", soos hidrochloortiasied en furosemied. Nog 'n belangrike oorweging is die gebruik van oor-die-toonbank medisyne wat ook bloeddruk kan verhoog. Algemene skuldiges sluit in nie-steroïdale anti-inflammatoriese middels soos ibuprofeen en diklofenaknatrium, en griepmiddels, insluitend nasale ontstuiwingsmiddels en kortikosteroïede. 

Die verweefde verhouding tussen CNS, hipertensie en soutinname beklemtoon hoe krities belangrik proaktiewe gesondheidsorgmaatreëls is. Aangesien CNS wêreldwyd die tiende grootste oorsaak van sterftes is en hipertensie 'n beduidende deel van die bevolking beïnvloed, is dit noodsaaklik om hierdie kwessies reguit aan te spreek. Baie individue se hipertensie bly ongediagnoseer of onbehandeld, wat tot 'n menigte nadelige gesondheidsuitkomste lei. Onbeheerde hipertensie vererger nie net CNS nie, maar verhoog ook die risiko van kardiovaskulêre siektes aansienlik.

Daar lê egter hoop in voorkoming en bestuur. Deur leefstylveranderings te prioritiseer, soos om 'n lae-sout dieet te volg, gereeld te oefen en 'n gesonde gewig te handhaaf, kan individue hulle bloeddruk aansienlik verminder en die risiko's verbonde aan hipertensie verminder. Suid-Afrika se inisiatief om soutinhoud in verwerkte voedsel met wetgewing te beheer, is 'n stap in die regte rigting en is 'n voorbeeld van die potensiële invloed wat beleidsingrypings op openbare gesondheid kan hê.

Ons kan deur voortgesette onderwys, voorspraak en gesamentlike pogings op individuele en samelewingsvlak na 'n gesonder toekoms vir almal strewe. Onthou, elke klein verandering maak 'n verskil saak, en saam kan ons 'n groot verskil in die bekamping van die stille bedreigings van hipertensie en CNS maak. Kom ons prioritiseer sommer vandag nog ons gesondheid.

*Prof Yazied Chothia is 'n medeprofessor en 'n mediese spesialis in die Eenheid vir Nefrologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.