
Vrouegesondheid in die kollig by sosiale impak-geleentheid
Sowat 120 vroue van die Bishop Lavis-gemeenskap in Kaapstad het ʼn Vroue Gesondheid- en Welweesdag met die tema 'Deel die Boodskap' in Februarie bygewoon wat deur die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid in die Departement Globale Gesondheid aangebied is.
Buiten dat die vroue getoets is vir verskeie gesondheidstoestande, insluitende hipertensie, diabetes mellitus, hoë cholesterol en vetsug, het hulle ook na praatjies oor vroue kwessies soos borsversorging, hart- en servikale gesondheid asook gesonde eetgewoontes geluister.
Die geleentheid, wat aangebied is by die Real Life Christelike Sentrum in Bishop Lavis, het gebou op die bestaande verhouding tussen die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid en die Bishop Lavis Aksie-komitee (BLAC).
Professor René English, hoof van die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid het gesê dat die geleentheid deel uitgemaak het van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en die Universiteit Stellenbosch se wyer sosiale impak-inisiatief. “Ons hoop om met vroue in die Bishop Lavis-gemeenskap te skakel en mee saam te werk om vroue se gesondheid en welstand te bevorder, om hulle kennis uit te brei, en om oplossings saam met die wonderlike vrou in die gemeenskap te vind," het sy gesê.
“Ons werk alreeds nou saam met BLAC, ʼn groep gemeenskapslede wat maatskaplike- en ander ondersteuning bied deur middel van 'straatkomitees'. Dit word gelei deur mev Beverley Fortuin. Elke straatkomitee is verantwoordelik vir ʼn straat in hulle gemeenskap, waar hulle allerlei gemeenskapswerk doen."
“Hierdie vroue gesondheidsinisiatief is daarop gemik om die wonderlike werk wat reeds in die gemeenskap gedoen word ten toon te stel. Dit bied ook ʼn geleentheid vir akademici om van mense in die gemeenskap te leer en om geleenthede vir vennootskappe en navorsing te identifiseer. BLAC is al vir ʼn tyd lank aan die gang en die lede is baie aktief."
English het die vroue verwelkom by die geleentheid, en die outeur, Melanie Erasmus, was die seremoniemeester. Dr Therese Fish, FGGW Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak het ook die vroue toegespreek oor die rol van die universiteit se sosiale impak-inisiatiewe in die versterking van vennootskappe met die gemeenskap. Sy het gepraat oor die “drie Ps" en die belangrikheid van voortdurende vennootskappe (partnerships) tussen die universiteit en die gemeenskap, die implementering en bevordering van langdurige openbare gesondheidsmaatreëls (public health measures), en dat mens moet onthou dat vroue die pilare in die gemeenskap is.
Ander fakulteitspersoneel wat praatjies gelewer by die geleentheid was dr Jenny Edge (Hoof: Bors- en Endokriene Chirurgiese Eenheid), me Robyn Adams (Departement Verloskunde en Ginekologie) en Me Ronel Beukes (Departement Menslike Voeding). Me Prudence Cele van die Hart- en Beroerte Stigting van Suid-Afrika het gepraat oor 'ken jou nommers'. Ander nie-regeringsorganisasies teenwoordig by die geleentheid was Woman2Woman en She Matters. Gesondheidpromotors van die plaaslike Bishop Lavis-gesondheidsfasiliteite en die Wes-Kaap Departement van Gesondheid het gehelp met die toetsing. ʼn Oefengroep vir seniors, Step Touch Fitness Club, het oefeninge gedemonstreer. Die vroue het ook die geleentheid gehad om te praat oor die hoof gesondheidsuitdagings wat hulle in die gemeenskap ervaar en die impak wat Covid-19 het op hulle gesondheid, toegang tot gesondheidsfasiliteite en die gemeenskap se algemene gesondheid. Maatskaplike determinante van gesondheid en geslagsgebaseerde geweld is genoem as belangrike daaglikse uitdagings wat vroue verhoed om optimale gesondheid te bereik.
Volgens English ervaar vroue in Suid-Afrika verskeie uitdagings. “Dit sluit toegang tot gesondheidsorg in, kennis oor voorkomende gesondheidsmaatreëls en hoe om toegang te verkry tot verskillende siftingsgeleenthede in die gesondheidsdienste. Hulle benodig ondersteuning met die bestuur van chroniese siektes in hulle families. Daar is ook kwessies wat verband hou met geslagsgebaseerde geweld wat aangespreek moet word. Vanuit die vroue se perspektief gaan dit daaroor om ʼn vennoot te vind wat hulle ondersteun, en help om toegang te verkry tot relevante dienste in hulle gemeenskappe. Oorhoofs gaan dit daaroor om saam oplossings te vind en ons gesamentlike kennis byeen te bring om die kwessies aan te spreek wat vroue in ons gemeenskappe raak."
Gevra hoekom sy glo dat sulke inisiatiewe belangrik is, het English die volgende gesê: “Ek het in Kaapstad groot geword en ek het begrip vir baie van die kwessies wat vroue in die gemeenskap raak. Ek het besef dat ʼn eenvoudige verduideliking van die wetenskap van ʼn gesondheidskwessie baie kragtig kan wees. Ek het al gesien hoe vroue ʼn gedaanteverwisseling ondergaan nadat hulle bemagtig word deur kennis.
“Ek is van mening dat universiteite ʼn impak moet maak op die gemeenskappe wat hulle bedien wat verder gaan as die opleiding van studente en die skep van kennis. Universiteite is goed geplaas om ʼn verskil te maak op bevolkingsvlak. Dit is belangrik dat ons nie net openbare gesondheid 'praktiseer' van ons kantore af nie, maar dat ons werk op die voorste linies verrig."
English het gesê dat die vrouegesondheidgeleentheid een van baie toekomstige aktiwiteite tussen die universiteit en die gemeenskap is.
English het eer betoon aan die twee lede van haar span wat die geleentheid georganiseer het – Stacey Blows en Lynne Hendrick, asook die afdeling se administrateurs en personeel sonder wie hierdie geleentheid nie moontlik sou wees nie. “Hulle is toegewyd aan vroue gesondheidskwessies en het al die werk agter die skerms gedoen. Dit was sowaar ʼn spanpoging," het sy gesê.