Skip to main content
Voorste aanstellings vir Tania Ajam en Mark Swilling van SPL

Voorste aanstellings vir Tania Ajam en Mark Swilling van SPL

Ronél Beukes
30 September 2019

Twee belangrike aanstellings van personeel van die Skool vir Publieke Leierskap (SPL) aan die Universiteit Stellenbosch is onlangs aangekondig. Prof Tania Ajam, professor in Openbare Beleid, Ekonomie en Finansies by SPL, is een van die lede van president Cyril Ramphosa se nuwe Presidensiële Ekonomiese Adviesraad, terwyl prof Mark Swilling, akademiese direkteur van die Volhoubaarheidsinstituut, as ondervoorsitter van die nuwe raad van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (OBSA) aangestel is.

In sy gelukwense aan beide professors Swilling en Ajam, het prof Johan Burger, direkteur van die Skool vir Publieke Leierskap, gesê​: "Ons wens hulle albei die beste toe met die werk wat hierdie liggame vir die ontwikkeling van Suid-Afrika moet doen." 

Prof Mark Swilling

Prof Swilling is 'n uitgelese professor en programkoördineerder: volhoubare ontwikkeling by SPL, asook akademiese direkteur van die Volhoubaarheidsinstituut. Hy is 'n navorser wat deur die Nasionale Navorsingstigting geë​valueer is en mededirekteur van die Sentrum vir Komplekse Sisteme in Transisie. Hy dien ook in die bestuursraad van die Sentrum vir Hernieubare en Volhoubare Energie-studies.​​​

Swilling sê dit is die sesde jaar dat hy in die OBSA-raad dien. Hy sal as ondervoorsitter dien vir die volgende drie jaar, en as voorsitter van die raad se Komitee vir Infrastruktuurlewering en Kennis. Die OBSA het tradisioneel 'n belangrike rol in ontwikkelingsfinansies in die algemeen gespeel, en in infrastruktuurbefondsing in die besonder.

"As ondervoorsitter sal ek meer tyd hê om my toe te lê op strategiese leiding rakende die nuwe groen en ontwikkelingsaktiwiteite via die gepaste komitees, en minder tyd bestee aan die groter bestuurskwessies van belanghebbendes wat die voorsitter se verantwoordelikheid is." 

Prof Tania Ajam

Prof Ajam is 'n ekonoom met wye ondervinding in die ontwerp, ontleding en implementering van fiskale beleid, fiskale verhoudings tussen regerings en regeringswye monitering en evaluasiestelsels. Sy het die graad MBusSc aan die Universiteit van Kaapstad behaal en daarna 'n PhD in Openbare Bestuur aan die Universiteit van Pretoria. Sy het in die Finansiële en Fiskale Kommissie gedien, asook in die Raad van die Reserwebank van Suid-Afrika. Sy is ook 'n lid van die Davis-belastinghersieningskomitee.

President Ramaphosa, wat Vrydag die name van die 18 lede aangekondig het, hoop die raad gaan inklusiewe groei aanhelp.