Skip to main content
Voorgestelde studentegeldaanpassings vir 2019

Voorgestelde studentegeldaanpassings vir 2019

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
28 September 2018

Met die hoëronderwysprysindeks (HOPI) as riglyn stel die Universiteit Stellenbosch (US) ʼn verhoging van 7% in klasgeld vir 2019 voor. In pas met die Stellenbosse Universiteitsraad se versoek aan die Universiteitsbestuur in 2017 vir 'n vroëer aanduiding van beplande aanpassings in studentegeld as eers by finale raadsvergadering in November elke jaar, is die voorgestelde styging en die gekoppelde uitgangspunte Woensdag 26 September met raadslede gedeel.

Geen finale besluite is nog geneem nie, want die finale begroting vir 2019 dien eers op 26 November by die Raad. Die Universiteitsbestuur het die Raad die versekering gegee dat die US steeds daartoe verbind is om akademies verdienstelike studente in finansiële nood te ondersteun, en dat die Universiteit se beurse in pas met stygings in studentegeld verhoog sal word.

Hoewel die US dit op prys stel dat die regering aansienlik meer finansiering vir hoër onderwys beskikbaar gestel het, word nie al die Universiteit se kostes gedek nie. Inflasiegekoppelde verhogings in studentegeld is noodsaaklik om die instelling se finansiële volhoubaarheid op lang termyn, akademiese kwalifikasies en navorsingsuitsette van wêreldgehalte sowel as 'n beduidende positiewe impak op die samelewing te verseker.

  • Die voorgestelde verhoging van 7% in klasgeld sal deur die bank sonder enige differensiasie geld.
  • ʼn Soortgelyke benadering sal vir huisvestingskostes gevolg word, maar aangesien die begroting reële koste moet weerspieël, mag dit nodig wees om vir 'n groter styging in huisvestingsgeld te motiveer.

Hierdie uitgangspunte is by 'n gesamentlike vergadering aan fakulteite en studenteverteenwoordigers oorgedra, sowel as aan die Studenteraad (SR). Gereelde kommunikasie met verskillende belanghebbendes sal voortduur in die aanloop tot die finale begrotingsvoorlegging aan die Raad by sy laaste vergadering van die jaar.