
Volgepakte erfenisprogram vir September beplan
Die jaarlikse e'Bosch erfenisprojek, wat gesamentlik deur Universiteit Stellenbosch (US) en die Stellenbosch Munisipaliteit aangebied word, is Dinsdag (30 Augustus 2016) by die Stellenbosch Universiteit Museum bekend gestel.
Die projek, reeds vir die sesde agtereenvolgende jaar, gee aan die gemeenskappe van Stellenbosch en omliggende areas en dorpies die geleentheid om eie en gedeelde erfenisse op talle wyses te vier.
Tydens die bekendstellingsgeleentheid is jong volwassenes van die streek vir hul onderskeie bydraes in die gemeenskap tydens die e'Bosch-eretoekennings vereer (kliek hier vir meer inligting).
Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het tydens die geleentheid die belangrikheid daarvan uitgelig dat Suid-Afrikaners hul ryke erfenis moet vier. Hy sê Suid-Afrikaners vier hul erfenis om te kan onthou.
"Ons erfenis is ryk – hetsy dit politieke-, ekonomiese-, kulturele- of historiese erfenis is. Ons erfenis is toekoms-georiënteerd. Dit spreek deur die jeug wat vandag hier vir hul bydrae vir hul erfenis erken word. Ons erfenis ken ook tragedie en dit is deur hierdie onperfekte erfenis dat Suid-Afrikaners saam kan reis na dieper vlakke van sosiale solidariteit."
Me Gesie van Deventer, Uitvoerende Burgemeester van die Stellenbosch Munisipaliteit het na die e'Bosch-projek verwys as ʼn geleentheid wat dorpe byeenbring en respek, vertroue en sinvolle gesprek onder gemeenskappe aanmoedig.
Daar is sowat 50 projekte wat alles deel van die program van die maand se vieringe sal uitmaak.