Skip to main content
Voedselonsekerheid - ’n realiteit vir baie studente

Voedselonsekerheid - ’n realiteit vir baie studente

Corporate Communication/ Korporatiewe Kommunikasie
02 Augustus 2018

Voedselonsekerheid en die behoefte aan die mees basiese benodigdhede kom al hoe meer voor onder studente in Suid-Afrika. Alhoewel daar nog nie navorsing op nasionale vlak oor voedselonsekerheid onder studente gedoen is nie, het verskeie individuele opnames op universiteitskampusse getoon dat 'n groot aantal studente met die las van voedselonsekerheid, en selfs erge honger, daagliks moet saamleef.

Ná die afkondiging oor gratis Hoër Onderwys vir studente word daar verwag dat voedselonsekerheid onder studente op universiteit dalk kan toeneem.

“Die algemene opvatting is dat hulpbehoewende studente finansiële steun ontvang wat ál hulle universiteitskoste dek," sê Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge by die Universiteit Stellenbosch (US).

 “Dis ongelukkig nie die geval nie. Daar is perke op elke kostekomponent, soos klasgeld, huisvesting en kostoelaes. Dus ontstaan daar tekorte waarvoor die student self aanspreeklik is. Die grootste behoefte is aan die begin van die jaar, wanneer studente nog wag dat hulle finansiering goedgekeur word, en net voor die eindeksamens, wanneer kosgeld opdroog," verduidelik Bruns.

Die US het 'n verskeie inisiatiewe in plek om studente behoeftes mee aan te spreek. Een van hierdie programme is die Vouch4US-program op die Stellenbosch-kampus.

In 2015 het Lizzie Witbooi, maatskaplike werker by die US se Stellenbosch-kampus , die Vouch4US program begin om hulp te bied aan behoeftige studente. Hierdie inisiatief moedig die publiek aan om kleinhandel-koopbewyse te koop en te skenk. Die koopbewyse word aan hulpbehoewende studente geskenk om kos, medisyne of ander noodsaaklike items te kan koop.

Witbooi sê die afgelope paar jaar is daar 'n beduidende toename in voedselonsekerheid onder studente.

“Dikwels betaal beurse net vir klasgelde en handboeke en ontvang baie van ons studente nie 'n kostoelaag nie," sê sy. Die gevolg is dat baie studente nie seker is hoe hulle vir kos sal betaal nie en selfs op 'n leë maag klas toe moet gaan. In 2017 het ons meer as 300 studente bygestaan met koopbewyse of kospakkies wat kositems en toiletware insluit. Net in die eerste semester van vanjaar het ons bykans 200 studente gehad wat om hulp kom aanklop het."

Nog 'n program wat kosnood onder studente aanspreek by die US, is die Tygeberberg Food Pantry wat 'n groep studente ook in 2015 begin het by die US se Tygerberg-kampus begin het.

“Dit het begin met 'n paar studente wat nie-bederfbare kositems onder mekaar ingesamel het en klein kospakkies versprei het. Intussen het dit so gegroei dat studente, personeel, die groter gemeenskap en gereelde eksterne donateurs ook nou betrokke is," sê Lee Baatjies, 'n mediese student aan die Tygerberg-kampus en koördineerder van die Tygerberg Food Pantry.

“Alhoewel ons glo dat geen student met die stres van kosnood belas moet word nie, gaan dit vir ons oor meer as net om 'n kospakkie aan iemand te skenk. Deur die program skep ons ook 'n kultuur van empatie en omgee onder ons studente."

  • ​Vir skenkings of om betrokke te raak by enige van die bogenoemde projekte, kontak Lizzie Witbooi (Vouch4US) by [email protected] of Lee Baatjes (Tygerberg Food Pantry) by [email protected]
​​​​ ​​ ​​