
Vierdejaarstudent wen Brightest Young Minds-toekenning
ʼn Vierde jaar mediese student aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), Melt Hugo, is aangewys as een van die Top 100 Brightest Young Minds (BYM) op die Afrika-vasteland.
Die BYM-inisiatief is in 2001 in Suid-Afrika geloods met ʼn visie om toonaangewende jong entrepreneurs te inspireer en te mobiliseer om 'n positiewe bydra tot hulle gemeenskappe te lewer, volgens hul onderskeie belangstellings en sterk punte. BYM het 'n sterk alumni-netwerk, wat die 100 jaarlikse ontvangers van hierdie toekenning in staat stel om in die toekoms kontak te behou met mekaar.
Elke jaar word 'n beraad gehou waar hierdie jong leiers met mekaar kan skakel en idees kan uitruil. In 2021 was die beraad 'n virtuele een wat oor twee dae vanaf 15 tot 16 Oktober gestrek het.
Hierdie jaarlikse geleentheid is daarop gemik om die potensiaal van Afrika se slimste jong presteerders op die gebied van leierskap en entrepreneuriese projekte in die kollig te plaas. Hierdie bydraes van die onderskeie deelnemers moet alles tot voordeel van die vasteland van Afrika wees.
Hierdie projekte kan wissel van opvoedkundige intervensies, tot nuwe uitvindings, tot ontwikkelings op die gebied van mediese tegnologie – asook 'n wye verskeidenheid van projekte op alle gebiede.
Hugo is onlangs gekies as een van die ontvangers van hierdie gesogte toekenning.
"Ek het regtig gehoop dat ek gekies sou word, want ek beskou die toekenning as gesog en een wat internasionaal hooggeag word, en het geweet dat dit my in staat sou stel om baie te leer by die uitsonderlike gassprekers en die kernfasiliteerders uit die sektore van die politiek en die ekonomie, asook vanuit die korporatiewe sektor," sê Hugo.
Hugo het reeds 'n indrukwekkende akademiese loopbaan by die Universiteit Stellenbosch agter die rug. Hy het in 2015 'n BSc in Molekulêre Biologie en Biotegnologie voltooi, gevolg deur 'n honneursgraad in Genetika in 2016, en, voordat hy met sy mediese studies begin het, het hy 'n MSc in Plantbiotegnologie verwerf in Desember 2018.
Sy lewe bestaan egter nie net uit die akademie nie, en hy is ook die stigter en president van die Stellenbosse afdeling van die Internasionale Federasie van Mediese Studenteverenigings (IMFSA). Hierdie federasie het 'n netwerk van 1,3 miljoen mediese studente afkomstig uit 123 lande regoor die wêreld. Hugo was ook die President van die Suid-Afrikaanse Mediese Studenteverenigings (SAMSA) van Mei 2019 tot Junie 2020.
Hy het vanaf 2018 tot 2019 op die dagbestuur van die Studenteraad gedien en voor dit diens gedien as die ondervoorsitter van die Fakulteit Wetenskappe se studentekomitee. Sy termyn het geëindig in 2017.
Hy het die Rektorstoekenning vir Uitstekende Prestasie op die gebied van Leierskap (2017) en Uitnemende Diens (2020) ontvang.
Sy passie lê in die bevordering van studente se geestesgesondheid, en daarmee in gedagte het hy 'n taakspan op die SR genaamd #Support gestig wat daarop gemik is om die gesprek oor studente se geestesgesondheid te destigmatiseer. Die taakspan het gehelp om die universiteit se eerste studente-geestesgesondheidsbeleidsdokument op te stel, wat die weg gebaan het vir die amptelike Universiteit Stellenbosch Geestesgesondheidsbeleid.
Sy toekomsplanne behels die registrasie van 'n NRO wat studente se geestesgesondheid as hooffokus het.
Sy lewensfilosofie is dat “voortdurende verbetering verkieslik is bo volmaaktheid wat lank dan duur om te bereik".
So hoe het hy gevoel toe hy hoor dat hy gekies is as een van die Top 100 Brightest Young Minds?
“Ek was uiters dankbaar om die toekenning te ontvang, aangesien die ander 99 ontvangers slim, ambisieuse en uitstekende leiers is op hulle onderskeie gebiede – ek sien uit daarna om hulle prestasies in die komende jare dop te hou," volgens Hugo.