
Vier Maties-atlete as SA studentekampioene gekroon
Vier Maties is die afgelope naweek as SA studentekampioene gekroon by die SA Studentekampioenskap (USSA-byeenkoms) wat by die Groenpunt-atletiekstadion aangebied is.
Juan de Swardt (paalspring), Justine Palframan (200 m), Jean-Maré Senekal (400 m hekkies) en Nienka du Toit (sewekamp) het goud in hul onderskeie items gewen. Die 4x400 m-mansaflosspan met Shaun de Jager, Gardeo Isaacs, Jaden Flagg en Wynand du Toit het ook hul item gewen.
Palframan het tweede gekom in die 400 m ná die SA kampioen Caster Semenya. Die 4x100 m- en 4x400 m-vroueaflosspan het ook albei silwermedaljes gewen.
Hennie Beukes en Jodie Sedras het albei bronsmedaljes in hul onderskeie paalspringitems gewen.
Die volgende atlete het 'n vierde plek in hul items behaal: Wynand du Toit (200 m); Jaden Flagg (400 m); Cameron Donkin (diskus); Janke van Wyk (100 m hekkies); Rozelle Meier (paalspring); Samantha Pretorius (verspring) en Sunette Luther (diskus).