Skip to main content
Verband tussen diabetes en TB in die kollig vir Wêreld-gesondheidsdag

Verband tussen diabetes en TB in die kollig vir Wêreld-gesondheidsdag

Thato Motlhokodi
06 April 2016

Wêreldgesondheidsdag word jaarliks op 7 April herdenk en die tema vir vanjaar se viering is "Klop Diabetes". Die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe doen belangrike navorsing om lig te werp op die voorkoms van diabetes onder plaaslike gemeenskappe wat ook deur tuberkulose geraak word.

Wêreldwyd ly meer pasiënte terselftertyd aan TB en diabetes as TB en MIV, en die getal neem voortdurend toe.

Dit is volgens dr Katharina Ronacher, 'n mediese bioloog by die Universiteit Stellenbosch (US), wat 'n navorsingsgroep lei wat die twee meegaande epidemies van diabetes en TB bestudeer.

"In die Suid-Afrikaanse bevolking het ongeveer 12% van TB-pasiënte ook tipe-2 diabetes," sê Ronacher. Volgens haar sal dié getal na verwagting groei aangesien die voorkoms van diabetes dramaties toeneem in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika waar meer mense 'n Westerse leefstyl begin volg.

Mense met diabetes het 'n driemaal hoër kans om TB te ontwikkel as mense daarsonder.

Diabetes mellitus (DM) – wat oor die algemeen net "diabetes" genoem word – is 'n metaboliese siekte wat hoë bloedsuikervlakke veroorsaak, en is aan die toeneem onder Suid-Afrikaners.

'n Onlangse studie het bevind dat soveel as 25% van die Suid-Afrikaanse bruin bevolking in die Wes-Kaap aan diabetes ly. "Dit is baie hoog," sê Ronacher, wat deel is van die Immunologie-navorsingsgroep van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Navorsing toon dat amper een vyfde van mense (19%) met diabetes nie weet hulle het die siekte onder lede nie. In Suid-Afrika word die gebrek aan vroeë diagnose vererger deur swak siftingsdienste, en die meeste mense word eers gediagnoseer wanneer hulle komplikasies van die siekte ontwikkel.

"Die tweeledige las van TB en diabetes is groter in sommige gebiede," verduidelik Ronacher. "Byvoorbeeld in Indië het soveel as 50% van TB-pasiënte ook diabetes."

"Nie net is mense met diabetes meer vatbaar vir TB nie, hulle is ook minder waarskynlik om op behandeling te reageer, wat kan lei tot agteruitgang of selfs dood," verduidelik Ronacher.

Een moontlike rede hiervoor is dat medikasievlakke van TB-middels oor die algemeen laer is in pasiënte met diabetes as diegene sonder die komorbiditeit. Die oorsaak hiervoor is nog onbekend en kenners is onseker of dit as gevolg van interaksie tusses die twee siektes is, of omdat mense met diabetes oor die algemeen 'n hoër ligaamsmassa-indeks het en medisyne-dosisse nie korrek daarvoor aangepas word nie.

Ronacher se navorsingsgroep ondersoek ook of pasiënte met swak beheerde diabetes (meestal omdat hulle nie hul medikasie gereeld neem nie), 'n verlaagde immuunrespons het teen die kieme wat TB veroorsaak in vergelyking met pasiënte wie se diabetes onder beheer is.

'n Toekenning van R25 miljoen is aan Ronacher gedoen deur die Amerikaanse Nasionale Instituut van Gesondheid om die risiko te bepaal om TB op te doen in huishoudelike kontake met diabetes, teenoor huishoudelike kontak sonder diabetes.

Die Immunologie-navorsingsgroep is ook betrokke by 'n projek om TB pasiënte vir diabetes te toets, en andersom, om sodoende 'n beter begrip te ontwikkel van die interaksie tussen die twee siektes.

Foto: www.freeimages.com