
Verandering vereis aanpassing
Universiteite moet vernuwe en aanpas by die snelle veranderinge in hoër onderwys om te keer dat hulle stagneer, skryf prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, in ʼn meningsartikel wat op Dinsdag (2 Februarie 2016) in Die Burger verskyn het.
- Lees die volledige artikel hieronder of klik hier vir die artikel soos gepubliseer
Vorentoe, Maties!
Stellenbosch is nou ʼn veel beter universiteit as toe ek in 1983 my MB,ChB hier het. En die redes is voor-die-hand-liggend: groter diversiteit, beter navorsing, meer internasionalisering.
Destyds was ons so te sê leliewit; nou is 38% van ons voorgraadse en byna 50% van ons nagraadse studente bruin, swart of Indiër. Destyds was navorsingsuitsette nie watwonders nie; nou is ons hoog op internasionale ranglyste. Destyds was ons vir die wêreld problematies; nou het ons 150 vennootinstellings in 44 lande op ses vastelande, en 15% van ons studente is van die buiteland afkomstig – uit 117 lande.
Ons suksesse hou direk daarmee verband dat ons oopgemaak en deel geword het van die groter konteks – nasionaal en globaal. Maties is eens beskou as ʼn "volksuniversiteit". Hierdie idee was duidelik te eng. Dit was ʼn uitsluitende blik na binne, in plaas van ʼn inklusiewe uitreik na buite.
Deesdae beskou ons die US as 'n "nasionale bate" wat die Suid-Afrikaanse en wêreldsamelewing in die geheel dien. Ons moet volhard op hierdie pad – om plaaslik relevant en internasionaal mededingend te wees.
Die hoër onderwys beleef snelle verandering, en alle universiteite moet vernuwe en by nuwe omstandighede aanpas om te keer dat ons stagneer. Nou is nie die tyd vir 'n gekibbel en 'n vrugtelose getob nie.
Soos John F Kennedy gesê het, "Verandering is die wet van die lewe. Diegene wat slegs op die verlede of die hede konsentreer, sal stellig die toekoms verbeur."
Ons beskou diversiteit as ʼn voorvereiste vir uitnemendheid, want blootstelling aan ʼn groter verskeidenheid mense en idees verruim denke en verryk uitsette. Hierdie punt is bevestig deur Stellenbosch-alumnus dr Japie van Zyl, wat by NASA se Straalaandrywingslaboratorium (JPL) werk, aan wie ons in Desember ʼn eredoktorsgraad toegeken het. Hy het vertel hoe fantasties dit is om met ʼn span wetenskaplikes en tegnici uit 67 lande saam te werk, want – sê hy – "diversiteit is ʼn sterk katalisator wat die beste in almal na vore bring".
In die strewe na groter inklusiwiteit het ons verlede jaar 'n verdere R70 miljoen beskikbaar gestel om ons personeelkorps te diversifiseer, veral op senior akademiese vlak. Die US is besig om al hoe meer nierassig en meertalig te word.
Party mense is bang dat ons gebruik van Engels Afrikaans benadeel; ander vrees weer dat ons gebruik van Afrikaans diegene kan uitsluit wat verkies om in Engels te studeer. Ek gee graag die versekering dat die US verbind bly tot meertaligheid sonder enige uitsluiting.
Taal behoort nooit vir enige student 'n hindernis te wees nie. Dít is waarom ons tans parallelmediumonderrig (afsonderlike Afrikaanse en Engelse klasse vir dieselfde module) uitbrei.
Deur Engels as onderrigtaal te gebruik, sorg ons dat ons toeganklik is vir meer mense. Tog is daar steeds ʼn groot behoefte aan en vraag na Afrikaans; daarom sit ons ons aanbod daarin voort.
Daar is vanjaar steeds ʼn sterk fokus op studentegelde, en dus die finansiële volhoubaarheid van universiteite. Die hoofgedagte uit die protesaksie verlede jaar is bekostigbare hoër onderwys vir almal. Ons ondersteun hierdie nasionale behoefte – en gratis, gesubsidieerde studie vir akademies verdienstelike studente wat finansieel swaarkry – maar intussen maak alle universiteite steeds op studentegeld staat. Ons verwelkom die toekenning van beduidende bykomende finansiering deur die staat sowel as die aanstelling van 'n presidensiële kommissie van ondersoek, en sien uit na bevredigende resultate.
Die Grondwet gee aan elkeen die reg op wettige en vreedsame protes. Tog mag daar geen ontwrigting wees nie en behoort almal se regte gerespekteer te word. Ons veroordeel enige gewelddadige optrede en intimidasie. Ons het 'n verantwoordelikheid om ons instelling en al sy mense, eiendom en bedrywighede te beskerm.
Wat ons tot elke prys moet vermy, is die gevaar van polarisasie. Namate verskillende kante mekaar demoniseer, word dit al hoe moeiliker om gemeenskaplike terrein te vind en tot 'n vergelyk te kom. Ons moet na mekaar uitreik in die soeke na gemeenskaplikheid eerder as om in "ons" en "hulle" te verdeel.
Ons besef ons reis is allesbehalwe voltooi en volmaak, maar ons bly vasberade in ons voorneme om vorentoe te beweeg. Want dít is die enigste manier om 'n gemeenskap van "sosiale geregtigheid en gelyke geleenthede" vir almal te skep – soos ons Universiteitsmissie baie duidelik lui.
Ja, ons staar uitdagings in die gesig, maar daar is ook vele opwindende geleenthede. Die US van vandag staan vir inklusiwiteit, innovasie en toekomsgerigtheid. Kom ons beweeg vorentoe, verenig.
* Prof Wim de Villliers is rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. Hierdie artikel is 'n verkorte weergawe van sy mededelings aan die US-konvokasie op 26 Januarie 2016.