Skip to main content

Van opwasbak tot wynglas - Science Café Stellenbosch by Woordfees

Media & Communication, Faculty of Science
21 Februarie 2017

Dave Pepler ondersoek die alchemie van die lewe – van jou opwasbak tot die glasie pinotage in jou hand – wanneer hy met wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) gesels by vanjaar se Science Café Stellenbosch wat van 6 tot 9 Maart 2017 tydens Woordfees plaasvind.

Met vanjaar se gesprekke gaan Dave onder meer in jou opwasbak loer, die komplekse verbindings in 'n glasie Pinotage ondersoek, en die moeilike onderwerp van verslawing en afhanklikheid aanspreek.

Science Café Stellenbosch is 'n inisiatief van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe om openbare gesprekke oor die wetenskap aan te moedig. Toegang is gratis, maar kom betyds om 'n goeie sitpek te verseker.

Die volgende gesprekke vind elke aand vanaf 18:30-19:30 by Die Plataan agter die Sasol Kunsmuseum plaas. Die onderwerpe lui as volg:

Chemikalieë in die huis – Maandag 6 Maart 2017, 18:30-19:30

Is chemikalieë in en rondom die huis 'n noodsaaklike euwel? Prof. Delia Haynes, 'n chemikus verbonde aan die Fakulteit Natuurwetenskappe by die US, gesels oor chemiese verbindings vanuit 'n huishoudelike perspektief. Ons is immers selwers 'n chemiese samestelling, nie waar nie?

Wat maak oom Kallie daar?

Jou vroegoggend koppie koffie. 'n Paar biere te veel rondom die braaivleisvuur. Gou apteek toe vir slaappille of 'n kruieteetjie. Van hierdie middels is so deel van ons kultuur soos braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet. Dave Pepler tree met verskeie spesialiste in gesprek oor middels, dwelmmiddels en wat met liggaam en psige gebeur wanneer oom Kallie nóg 'n stywe dop gooi.

Oor opkikkers en aanvullers – 7 Maart 2017, 18:30-19:30

Prof. Hans Strijdom, mediese dokter, fisioloog en hartnavorser verbonde aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, verduidelik hoe gewilde en geredelik beskikbare middels en drankies ons hart en bloedvate aantas. Saam met hom om die tafel sit Prof. Carine Smith, 'n stres-immunoloog in die Fakulteit Natuurwetenskappe. Sy waarsku teen die gebruik van groot hoeveelhede natuurlike middels net omdat dit "natuurlik" is.

Misbruik versus verslawing – 8 Maart 2017, 18:30-19:30

Wat is die verskil tussen misbruik en verslawing? Is verslawing 'n siekte of 'n morele swakheid? Dr. Lize Weich, 'n senior psigiater in verslawingpsigiatrie verbonde aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en prof. Lou-Marie Kruger, 'n kliniese sielkundige en dosent aan die US, takel hierdie moeilike onderwerp. 

Die alchemie van wyn – 9 Maart 2017, 18:30-19:30

Terwyl filosowe al sedert Romeinse tye oor waarheid en wyn wonder, ontwikkel analitiese chemici innoverende metodes om die komplekse verbindings in natuurlike produkte soos wyn, van mekaar te kan onderskei. Kom proe wyn saam met 'n wynkundige, prof. Wessel du Toit en sensoriese ekspert, Jeanne Brand, beide verbonde aan die US se Departement Wingerd- en Wynkunde. Prof. André de Villiers van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, sal die chemie agter elk van die sensoriese aspekte verduidelik.

Medianavrae

Wiida Fourie-Basson

Media & wetenskapkommunikasie

SU Fakulteit Natuurwetenskappe

T: 021 808-2684

S: 071 0995721

E: [email protected]