Skip to main content
#USVroue: Die etiek van sorg is iets wat beoefen moet word

#USVroue: Die etiek van sorg is iets wat beoefen moet word

Daniel Bugan
25 Augustus 2021

​Dr Khayaat Fakier stel al sedert haar studentedae belang in die etiek van vroue wat na mekaar en die omgewing omsien. En deesdae is dít ook haar navorsingsonderwerp in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie by die Universiteit Stellenbosch.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, het sy ons meer oor haar werk op dié gebied vertel.

Vertel ons meer oor jou navorsing?

My hoofnavorsingsbelangstelling is die feministiese etiek van sorg – hoe en waarom vroue na ander mense en die omgewing omsien. Ek stel veral belang in hoeveel moeite en energie vroue met min of geen hulpbronne daaraan wy om hulle fisiese en sosiale omgewings veiliger en meer ondersteunend te maak vir diegene wat meer kwesbaar is as hulle. Boonop doen vroue dít dikwels ondanks hulle eie erge ontbering, en met weinig erkenning of beloning vir die ongelooflike moeite wat hulle doen om kwesbares én die samelewing se toekoms te verseker.

Ek is aangestel om van September 2021 tot Augustus 2023 die Prins Claus-leerstoel in Billikheid en Ontwikkeling by die Internasionale Instituut vir Sosiale Studie in Den Haag te beklee. My navorsing in dié hoedanigheid sal hierdie belangstelling in vroue wat na ander en die omgewing omsien verder voer, en sal onder meer bande bou tussen internasionale vrouebewegings en die vrouebewegings en -organisasies met wie ek in Suid-Afrika saamwerk.

Waarom of hoe het jy in hierdie bepaalde navorsingsgebied begin belang stel?

Selfs in my voorgraadse jare het my navorsing oor gender en klas gehandel. Ek was in 2006, aan die einde van my eerste graad, die medeskrywer van 'n artikel oor die impak van uitgekontrakteerde arbeidsbetrekkinge op die ekonomiese en sorgverhoudings van swak betaalde vroue. Daarna het ek my studie van betaalde en onbetaalde werk deur swart vroue in my nagraadse navorsing voortgesit deur ondersoek in te stel na die rol van reproduktiewe arbeid in die instandhouding van apartheids- en postapartheidsekonomieë. In my PhD, wat ek in 2010 voltooi het, het ek op hierdie ontluikende begrip uitgebrei. Hoewel my PhD gehandel het oor interne migrasie – die uitbuitende arbeidstelsel waarop apartheidskapitalisme gebou was – was dit die verwronge sorgverhoudings wat my aangegryp het en wat my werk sedert my PhD kenmerk.

My navorsing sedert 2010 handel hoofsaaklik oor swart, minderbevoorregte vroue wat betrokke is by die openbare indiensnemingsprogramme van die postapartheidstaat, en toon hoe die staat en korporatiewe sektor se verantwoordelikheid om na kwesbares en die omgewing om te sien, na vroue (en, soos my PhD toon, soms ook na kinders) uitgekontrakteer en geëksternaliseer word. Wat óók duidelik uit my werk blyk, is dat vroue daartoe verbind is om die natuurlike omgewing te bewaar en teen die vernietiging daarvan te baklei. Hierdie toewyding is nie as gevolg van 'n intrinsieke band met die natuur nie, maar spruit uit die omstandighede waarin hulle na ander omsien. So, my navorsing sluit ook die sienings in van vroue wat woon op mynhope of naby mynbouaktiwiteite, op plase waar hulle dikwels nie self toegang het tot behoorlike gesonde voeding nie, en in townships waar openbare voorsiening van veilige gebiede, skoon energie, ensovoorts ontbreek.

Die navorsingsprojekte wat ek al gelei en die navorsingspublikasies wat ek geskryf en help saamstel het, strek oor verskeie lande heen, soos Brasilië, Argentinië, Indië, Mosambiek, die Filippyne, die Verenigde Koninkryk, Duitsland en die Verenigde State, en het my in staat gestel om die verband tussen vroue se omstandighede en faktore soos klas, ras, nasionaliteit en seksualiteit te verken.

Waarom dink jy is dít so 'n belangrike navorsingsgebied vir vroue in Suid-Afrika (en wêreldwyd)?

Die behoefte aan sorg, in 'n omgewing wat weinig steun bied aan kinders en volwassenes uit arm huishoudings, bejaardes en persone met gestremdhede, kan 'n ruimte van vreugde, kreatiwiteit en liefde wees, maar word ook deur opoffering en plig gekenmerk. Nietemin bied ons versorging van ander én van die omgewing ons ook 'n rede om bande van samehorigheid en gemeensaamheid (in maatskaplike bewegings en gemeenskapsgebaseerde organisasies) te skep, wat in die toekoms 'n teëvoeter vir eensaamheid, verwaarlosing en wanhoop kan wees.

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

Die pandemie het dit net nóg belangriker gemaak om te bepaal hoe versorging met beperkte hulpbronne kan geskied, en ook hoe dít versorgers raak. Wat my gemotiveerd hou, is die kreatiewe maniere waarop my nagraadse studente in dié tyd navorsing gedoen het met behulp van tegnologieë soos WhatsApp-oproepe, MS Teams en Photovoice. Ál hulle navorsing toon dat 'n etiek van sorg nie net 'n onderwerp is om te bestudeer en na te vors nie, maar ook iets om te beoefen.

Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?

Bly toegewyd aan jou politieke ideale oor die tipe samelewing wat jy vir jouself, vir ander en vir die toekoms wil hê. Verskillende samelewingskragte sal probeer om jou van jou sienings of jou pad te laat afsien. Maar bly by wat jy wil hê. Dis die moeite werd. ​