
USB-gemeenskap in skok ná die dood van dr Kobus Serfontein
Die direkteur van die USB, prof Piet Naudé, het verlede week die skielike dood van dr Kobus Serfontein, die hoof van Leierskapstudies by die USB, aangekondig. Dr Sertontein is Woensdagmiddag, 30 Maart oorlede.
Dr Serfontein het in Januarie 2015 formeel by die USB aangesluit, maar hy was die afgelope 15 jaar by die Bestuurskool en by USB Bestuursontwikkeling (USB-BO) betrokke.
Dr Serfontein was verantwoordelik vir die Leierskapontwikkelingsbaan op die MBA en hy was hoof van die Nagraadse Diploma in Leierskapontwikkeling. Hy het ook by die Goethe-bestuurskool by die Universiteit van Frankfurt in Duitsland en by die Prince Sultan-universiteit in Saoedi-Arabië klas gegee.
Hy het 'n PhD in Sakebestuur gehad. Voordat dr Serfontein by die USB aangesluit het, was hy bestuurshoof van Groep Menslike Hulpbronne van die PSG Konsult Groep. Voor dit was hy hoof van Menslike Hulpbronne by Woolworths International & Franchise.
Prof Piet Naudé het namens die studente, personeel, alumni en sakevriende van die USB sy meegevoel met dr Serfontein se familie betuig.
- Gedenkdiens by die klubhuis van Stellenbosch-Gholfklub: Donderdag, 7 April 2016 om 11:00
- Kort seremonie by die USB, Lokaal 2059: Vrydag, 8 April 2016 van 13:00 tot 13:30