
USAID wys $4.1 miljoen aan Afrika-universiteite toe vir ramprisikobestuur
Die veldbrande waaronder die Wes-Kaap onlangs weer gebuk gegaan het, maak ons op treffende wyse bewus van die lewensgevaarlike risiko's waarvoor ons te staan kom namate ons omgewing verander en stedelike ontwikkeling verder na omliggende gebiede uitbrei. Dit beklemtoon ook die noodsaaklikheid dat Suid-Afrika en ander Afrika-lande hul eie vaardige en toeganklike plaaslike risikobestuurkundigheid ontwikkel. Danksy ʼn toewysing van $4.1 miljoen vanaf die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) aan die Universiteit Stellenbosch se Periperi U- (Partners Enhancing Resilience for People Exposed to Risks) inisiatief, sal die Universiteit die leiding neem in een van die grootste kontinentwye bedryfsamewerkingsaksies tot op hede, en sodoende juis dít doen.
USAID administreer die VSA se buitelandsehulp-program waardeur ekonomiese en humanitêre hulp in meer as 80 lande oor die wêreld heen gebied word.
"Die toewysing sal die Universiteit Stellenbosch, in vennootskap met 11 ander Afrika-universiteite, in staat stel om die ambisieuse ramprisikobestuursagenda van Periperi U uit te brei deur meer as 8 000 studente en praktisyns in 12 Afrika-lande teen 2019 op te lei," sê dr Ailsa Holloway, direkteur van RADAR (Research Alliance for Disaster Risk Reduction), die Universiteit se sentrum wat Periperi U koördineer.
Volgens Holloway is Periperi U nie ʼn nuwe inisiatief nie. Dit is ʼn Afrika-universiteitsvennootskap wat wêreldwyd erkenning geniet en gestig is met die doel om die strategiese potensiaal van rampbestuurskapasiteitsbou oor die kontinent heen ʼn hupstoot te gee en akademiese aksie rakende risiko- en kwesbaarheidsvermindering te bevorder. Dit is aanvanklik in 2006 gekonseptualiseer as ʼn eenjaar-loodsprojek, waarna dit, weens die volgehoue sukses daarvan, toenemend oor tien jaar uitgebrei is om 12 universiteite oor die kontinent heen in te sluit.
Teen 2016 is die prestasies van die inisiatief toenemend erken, met 23 nuwe ramprisiko-verwante akademiese programme en modules wat in Engels, Frans en Portugees oor Afrika heen bekend gestel is, die registrasie van meer as 2 000 studente en die aktiewe betrokkenheid van 170 akademiese en steunpersoneel.
"Hierdie nuwe, diverse en uiters toepaslike ramprisikobestuurs- akademiese programme is ontwerp en pasgemaak om Afrika se komplekse risikoprofiel te weerspieël," voeg Holloway by.
Dit sluit ʼn nuwe meestersgraad in Openbare Gesondheid en Rampbestuur aangebied deur Makerere Universiteit in Uganda en ʼn MSc in die Voorkoming en Bestuur van Voedselonsekerheidsrisiko's by Gaston Berger Universiteit in Saint-Louis, Senegal, in. By die Universiteit Stellenbosch word ʼn MPhil in Ramprisiko-wetenskap en -ontwikkeling reeds aangebied, en daar word beplan om vanaf 2018 ʼn nagraadse diploma in Ramprisikostudies en -ontwikkeling aan te bied.
"Hierdie doelgerigte poging het die kapasiteit in uiters rampvatbare lande soos Etiopië en Madagaskar dramaties verbeter. Die resultate van die honderde ramprisikobestuur-graduandi met meestersgraadkwalifikasies slegs van hierdie twee lande toon dat graduandi poste in die regering, nieregeringsorganisasies en selfs Verenigde Nasies-agentskappe vul.
"Dit het ramprisikobestuurskundigheid nie net plaaslik toeganklik gemaak nie, maar ook afhanklikheid van tegniese hulp deur internasionale noodleningsagentskappe aanmerklik verminder. Sulke verskuiwings in mensekapasiteit in rampvatbare lande is uiters noodsaaklik sodat Afrika-regerings groter verantwoordelikheid vir plaaslike risikobestuur kan aanvaar," sê Holloway.
Erkenning van die vennootskap se bevordering van hoëronderwys-werksaamhede op die gebied van ramprisiko strek voorts nou veel verder as Afrika. Periperi U het twee jaar gelede Internasionale Sentrum van Uitnemendheid-status van die Internasionale Geïntegreerde Navorsing oor Rampbestuur- (IRDR-)program ontvang, met spesifieke klem op risiko-opvoeding en -leer. Dit is te danke aan Periperi U se bewese sukses met die integrering van ramprisiko-oorwegings in verskeie akademiese dissiplines en praktykgebiede, insluitende stedelike beplanning, openbare gesondheid, landbou, ekonomie, ingenieurswese en omgewingswetenskap. Dit weerspieël ook die vennootskap se duidelike verbintenis om nou saam met beleidmakers, praktisyns en risikovatbare gemeenskappe te werk om navorsings- en onderrigprioriteite te rig.
"Die status van Periperi U as ʼn internasionale sentrum van uitnemendheid toon ook hoe die vennootskap op verskillende vlakke werksaam is," sê Holloway.
"Op kontinentale en globale skale, byvoorbeeld, neem Periperi U deel aan die Afrika-unie en die Verenigde Nasies se prosesse verbonde aan die implementering van die Sendai-raamwerk vir ramprisiko-vermindering om te verseker dat Afrika-universiteite aktief by ramprisikobestuur-beleidmaking betrokke is. Hierdie betrokkenheid is noodsaaklik, aangesien ramprisikobestuur in Afrika tot onlangs baie hulpgeoriënteerd en prakties was, waardeur die kontinent se akademiese instellings grootliks opsy gelaat is. Dit het gelei tot grootskaalse afhanklikheid van tegniese steun van buite en van internasionale humanitêre hulp. Gelukkig is hierdie situasie besig om tans vinnig in Afrika-lande te verander, met aktiewe akademiese, opleidings- en navorsingsprogramme in ramprisikobestuur, en noue samewerking tussen universiteite en regerings."
In hierdie volgende fase beplan Periperi U om hierdie groeimomentum op plaaslike, kontinentale en internasionale vlakke te optimaliseer. Dit sal plaasvind deur die implementering van 34 ramprisiko-verwante akademiese programme en modules oor die kontinent heen om teen 2019 meer as 5 000 Afrika-studente in 12 lande te bereik. Hierdie pogings sal verder versterk word deur Periperi U se doel om nou met plaaslike praktisyns en professionele mense saam te werk om ramprisikobestuurskapasiteit op voetsoolvlak te verbeter. Ten einde dit te bereik, sal Periperi U-vennote met meer as 3 400 praktisyns skakel deur middel van 130 professionele kortkursusse oor diverse praktiese onderwerpe, van openbare gesondheid in vloedvatbare gebiede tot humanitêre logistiek. Die waarde van Periperi U in die versterking van plaaslike risikobestuurskapasiteit is duidelik sigbaar in RADAR se werksaamhede in die Wes-Kaap. Een voorbeeld is ʼn gemeenskapsrisiko-assessering wat deur die RADAR-span in Wallacedene, ʼn township naby Kraaifontein in die Wes-Kaap, uitgevoer is.
"Toe ons die assessering in 2015 gedoen het, was die situasie beroerd," sê Holloway. "Deur sosiaal responsiewe navorsing en mobilisering is ʼn brandalarmprogram vir informele wonings egter net meer as ʼn jaar later in dieselfde nedersetting bekend gestel, wat sterk deur die regering ondersteun is. Ons is gevolglik getaak om die opvolgnavorsing te doen om te bepaal of dit ʼn verskil maak om rookverklikkers in informele wonings te hê.
"Dit is ʼn wesenlike voorbeeld van die manier waarop Periperi U-vennote by plaaslike risikogemeenskappe betrokke is en hoe hulle ʼn werklike verskil aan plaaslike veerkrag kan maak. Dit toon ook hoe universiteite nou met regeringsdepartemente kan saamwerk en betekenisvolle navorsing kan uitvoer oor intervensies wat die potensiaal het om beserings en sterftes te verhoed, in hierdie geval in ʼn brandvatbare gebied."
Wat die geheelbeeld op kontinentale en internasionale gebied betref, is Holloway oortuig dat Periperi U deurslaggewend was in die verskuiwing van Afrika se siening van sy ramprisikobestuurskapasiteit asook die persepsies van eksterne partye.
"Hierdie is nie ʼn eenmalige projek nie, maar ʼn langtermyninisiatief om nuwe rigting aan ramprisiko-vakkundigheid te gee, sodat dit doelmatig in ʼn snel veranderende Afrika aangewend kan word. USAID se kantoor vir buitelandse rampbystand se volgehoue toewyding was die kern van Periperi U se sukses, met meer as $9 miljoen (R100 miljoen) wat sedert 2011 aan die Universiteit Stellenbosch toevertrou is vir universiteitsgebaseerde ramprisikobestuur-kapasiteitsbou in Afrika."
* Hierdie persverklaring is moontlik gemaak deur die ruim ondersteuning van die Amerikaanse nasie deur USAID. Die inhoud is die verantwoordelikheid van die Universiteit Stellenbosch en weerspieël nie noodwendig die siening van USAID of die VSA-regering nie.
** Kontak dr Ailsa Holloway van RADAR by 021 808 9281 vir meer informasie of Lynne Rippenaar-Moses, Kommunikasie en Skakelbeampte van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe by 073 534 5560.