
US Woordfees 2016 ’n fees der feeste
Die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees 2016 was 'n fees van ongekende hoogtepunte en sukses. Saartjie Botha, feesdirekteur, sê die rekordgetal kaartjies wat verkoop is, is bewys die fees dien 'n gemeenskap met 'n warm hart vir die kunste.
Kaartjieverkope is vanjaar op met 27,8%, 20% in randwaarde weens die een dag dat kaartjies teen R30 elk verkoop is, en die kontantlose stelsel het met 200% gegroei. "Ons kan trots voel op 'n suksesvolle fees in moeilike ekonomiese tye. Mense is pryssensitief, en ons wil dit moontlik maak vir steeds meer mense om dit by te woon," sê Botha.
Die insluiting van Coetzenburg vir die karnaval en popfeeste was 'n nuwe uitbreiding van die fees en het groot byval gevind. Soveel so, dat sowat 6 000 feesgangers Karen Zoid se konsert (foto bo deur Stefan Els) bygewoon het ten spyte van 'n tierende suidooster!
Die uitreik-aksie van die Woordfees na lokale in woonbuurte buite die middedorp is volgens Botha 'n poging om die fees meer inklusief te maak. Benewens produksies by die Breughel-teater in Cloetesville, is by Amazink in Kayamandi onder meer suksesvolle "Poetry Slams" gehou, en Hoërskool Lückhoff se skoolsaal was 'n goeie lokaal vir ernstige teaterproduksies.
Botha het by die Stellenbosch 360-diskoers gesê dat waar sowat 12% van die kaartjies in 2015 aan nie-wit-feesgangers verkoop is, dit vanjaar 20% was – die teiken wat die Woordfees vir 2016 gestel het.
Volgens prof Andreas van Wyk, voorsitter van Stellenbosch 360, het die US Woordfees verlede jaar R120 miljoen vir Stellenbosch genereer, en word verwag dat dit vanjaar nog meer sal wees. Die omset by die Boeketent vanjaar was R841 000, wat 'n verblydende teken is dat mense nog lees en veral Afrikaans lees!
Die US se personeel, studente en ook oudstudente was nou betrokke by vanjaar se fees en het deelgeneem aan diskoerse soos Beste Professor, die Frederik van Zyl Slabbert-reeks, opgetree in verskeie musiek- en dramaproduksies en het ook werke by verskeie kunsuitstallings uitgestal.
Volgens Botha was die integrasie van Woorde Open Wêrelde (WOW)-projekte by die Woordfees 'n groot sukses, en 'n "lekker ervaring" vir die onderwysers en leerders wat die byeenkomste en ook die opvoerings wat hulle bygewoon het, geweldig geniet het. WOW het vanjaar ook nuwe projekte soos die koorleier-werksessie by die US Konservatorium bekend gestel.
Shireen Crotz, koördineerder van die Sanlam WOW Spelfees, en Fiona van Kerwel, bestuurder van die WOW-projekte, was dit eens dat hul projekte 'n reuse-sukses was. Sowat 2 400 kinders van bykans 190 skole het vanjaar aan die WOW-fees deelgeneem.
"Ons is baie moeg, maar baie tevrede," het Crotz gesê. "Die borge is ook baie tevrede en ons het net positiewe terugvoer van hulle gekry. Hulle sien die wesenlike verskil wat hul bydrae tot mense maak en dit is wat hulle wil hê. Ons groot droom is om by die Woordfees om elke kind in Stellenbosch 'n Woordfees-ervaring te gee."
Dr Gillian Arends van die US se Sentrum vir Studentewerwing se praatjie oor die universiteit op die WOW-dag vir graad 12-leerders het hulle laat regop sit en glo daar is wel 'n plek vir hulle by die US en dat hulle hul drome kan verwesenlik as hulle hier kom studeer.
Ná die jaarlikse debatfees-kompetisies het onderwysers gesê hulle het hoop dat 'n geslag weer geskep kan word wat met mekaar gesprek kan voer, na mekaar kan luister en mekaar se menings kan respekteer, al is dit baie uiteenlopend.