Skip to main content
‘US-waardes moet gelééf word’ – Rektor

‘US-waardes moet gelééf word’ – Rektor

Prof Wim de Villiers
19 Februarie 2016

"Daar is die afgelope ruk baie gesê oor die sogenaamde 'blackface'-voorval by ons Heemstede Vrouekoshuis twee weke gelede. Ek gebruik graag hierdie geleentheid om tot die gesprek by te dra," skryf prof Wim de Villiers, rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), in ʼn boodskap aan die Universiteitsgemeenskap.

"Eerstens bevestig ek die Universiteit Stellenbosch (US) se spyt oor waaraan die twee studente in die oog van die storm blootgestel is. Dit was ʼn uiters onaangename ervaring, en ek is jammer oor wat hulle deurgemaak het.

"ʼn Interne ondersoek in die week ná die voorval deur ons Eenheid vir Gelykwaardigheid het bevind die twee is heeltemal onskuldig (sien verklaring). Hulle het pers lyfverf gebruik om hulle as ruimtewesens uit te beeld vir ʼn partytjie by die koshuis – sonder kwade bedoelings. ʼn Foto op sosiale media is egter as 'blackfacing' geïnterpreteer, wat in die lig van ons land se geskiedenis van rassisme groot ontsteltenis veroorsaak het. Van hul medestudente het klagtes gelê, en die Universiteit se relevante strukture het dadelik betrokke geraak.

"Intussen het bewerings aan die lig gekom dat die Universiteit die situasie verkeerd hanteer het. Ons het hiervan kennis geneem en vandeesweek ʼn ondersoek deur 'n onafhanklike kommissaris van stapel gestuur (sien verklaring). Ons wil hê daar moet omvattend na alle fasette van die voorval gekyk word, insluitend die Universiteit se hantering daarvan. Hieruit sal spesifieke aanbevelings aan die Universiteit voortvloei.

"Die twee studente is intussen terug in die koshuis en kan nou weer fokus op hul studies, waaroor ek baie bly is. Die Universiteit het hulle voortdurend bygestaan tydens die voorval, en sal voortgaan om dit te doen.

"Verlede week het ʼn Sondagkoerant gevra wat as een van die twee studente my dogter was? Ek het goed nagedink daaroor, en tot ʼn mate is hulle wel my dogters. As hoof van die Universiteit het ek baie dogters en seuns. Ek besef dit kan verskriklik patriargaal klink, so laat ek verduidelik.

"Met my inhuldiging verlede jaar het ek gesê wat in die beste belang van die student is, al is wat vir ons as universiteit van belang is. Dit was ʼn aanpassing van ʼn slagspreuk in die Mayo-kliniek in Amerika dat wat in die beste belang van die pasiënt is, al wat van belang is.

"Ons het ʼn groot verantwoordelikheid teenoor die jongmense wat aan die Universiteit kom studeer – om die weg van kennis saam met hulle te stap, ter voorbereiding van hul beroepslewe eendag en hul lewenslange bydrae tot die res van die samelewing. Dit is ʼn verantwoordelikheid wat ons teenoor al ons studente het. Ek het baie dogters en seuns, en elkeen van hulle tel. Die studente wat geaffronteer is deur wat aanvanklik as 'blackfacing' beskou is, is ook my dogters en seuns. Ons moet almal se pyn erken; die een is nie meer legitiem as die ander nie. Dít is die balans wat ons moet handhaaf.

"Ek wil hê elke student se tyd aan die Universiteit moet verrykend en vervullend wees. Ek wil hulle onaangename ervarings spaar. Natuurlik is die lewe nie net maanskyn en rose nie, maar as instelling – en die individuele personeellede en studente wat daaraan behoort – moet ons altyd probeer om te doen wat reg is, en te vermy wat verkeerd is. Soms loop daar egter dinge skeef. Niks en niemand is volmaak nie. Ons moet egter regstel wat verkeerd is, en lesse daaruit leer. ʼn Universiteit is ʼn plek van opvoeding, en ons het baie geleer op verskillende vlakke die afgelope ruk. Prosedures moet gevolg word, gedragskodes moet eerbiedig word – en dit geld almal tot dieselfde mate.

"Mense voel soms baie sterk oor ʼn saak – met reg. Ek moedig vanuit die staanspoor die oop gesprek aan. 'n Kultuur van waagmoedige gesprekke en kritiese diskoers oor die uitdagings van ons samelewing lê aan die hart van die universiteitslewe. Hoe ons met mekaar omgaan moet egter in ooreenstemming met waardes soos empatie, mede-verantwoordbaarheid en diensbare leierskap wees, soos uiteengesit in die Universiteit se Institusionele Voorneme en Strategie. Dit sal veilige ruimtes vir interaksie sonder intimidasie, manipulasie, dreigemente, rassisme, seksisme, homofobie en ander vorme van diskriminasie en verontmensliking skep.

"Ek is geskok deur die venynigheid teenoor lede van die Universiteitsgemeenskap in die nadraai van die voorval, en dit moet end kry

"Die oop gesprek behels praat én luister. Ek hoor swart studente sê hulle voel uitgesluit deur ʼn institusionele kultuur wat nie verwelkomend teenoor hulle is nie. Ek hoor wit studente sê hulle ervaar ʼn verlies aan identiteit weens die persepsie dat die Universiteit hulle versaak. Ek hoor egter ook swart én wit studente standpunt inneem teen uitsluiting en diskriminasie – wat verblydend is. Oral op kampus sien ek jongmense wat met mekaar oor die weg kom – ondanks oënskynlike verskille. Ek sien jongmense wat mekaar met respek en menswaardigheid behandel – ongeag kleur, geloof, geslag of seksuele oriëntasie.

"Ek hou my beslis nie blind vir ons uitdagings nie. Ek sien vooroordele voortduur. Ek sien ou verdeeldhede weer opduik, en nuwes ontstaan – onder meer weens die trant en aard van die gesprek oor die US op veral sosiale media.

"Ek sien egter ook ʼn nuwe generasie wat die noodwendigheid van verandering aanvaar, en die noodsaak van voortdurende aanpassing omhels. Ek sien denkleierskap in aksie, en dít maak my optimisties oor die toekoms," skryf prof De Villiers.

  • ʼn Langer weergawe van hierdie boodskap is deur Die Burger gepubliseer as meningsartikel.