
US verwerp diskriminasie teen LGBTIQA+-gemeenskap
Met verwysing na onlangse berigte van ervarings van homofobie, transfobie en "queer"-fobie in die kampusgemeenskap, het die Bestuur van die University Stellenbosch in 'n verklaring oor ontmensliking en diskriminasie sterk standpunt ingeneem teen alle vorme van diskriminasie teen studente en personeel. In die toekoms sal daar van alle eksterne liggame wat van die fasiliteite van die Universiteit Stellenbosch wil gebruik maak, verwag word om 'n verkaring te onderteken wat diskriminasie verbied teen enige student wat hom/haar met die LGBTIQA+-gemeenskap vereenselwig.
Hier volg die volledige verklaring:
Bestuursverklaring oor ontmensliking en diskriminasie - 8 Februarie 2016
Teen die agtergrond van die Universiteit Stellenbosch se onvolmaakte dog vasberade reis na transformasie, verklaar die Rektor se Bestuurspan (RBS) soos volg:
As 'n Suid-Afrikaanse instelling, is die Universiteit Stellenbosch (US) ten sterkste verbind tot die waardes van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, veral die Handves van Regte. Dít impliseer dat ons verbind is tot die grondliggende waarde van die Republiek, naamlik menswaardigheid, wat insluit die boustene van helende versoening, geregtigheid vir almal, en vryheid van alle vorme van ontmensliking en diskriminasie, sowel as die vryheid om ten volle deel te neem aan ons demokrasie en in die samelewingsgoedere te deel.
Die US se Institusionele Voorneme en Strategie (IVS) benadruk, kontekstualiseer en bevorder hierdie waardes. Daarbenewens het die Universiteit in sy Strategiese Raamwerk van 2000 sy verbintenis tot 'n voortdurende proses van restitusie bevestig, terwyl die verbintenis tot geregtigheid opnuut in die IVS beklemtoon is.
Gedagtig hieraan, verwerp ons alle vorme van diskriminasie teen ons studente en personeel. In die besonder betreur ons die mees onlangse berigte van ervarings van homofobie, transfobie en "queer"-fobie in ons kampusgemeenskap. Ons spreek ons solidariteit uit met diegene wat weens hierdie ervarings seergemaak en verneder is. Ons bevestig ook ons verbintenis om ons instelling deur middel van toepaslike beleide, prosedures, praktyke en optrede geheel en al van hierdie euwels te suiwer.
Ons volg 'n nulverdraagsaamheidsbenadering tot alle ontmenslikingspraktyke op ons kampus en in die groter samelewing. Ons is verbind tot 'n kampus van onvervreembare menswaardigheid en helende versoening, wat streef na geregtigheid en vryheid vir almal – 'n kampus waar personeel en studente in ons ryke diversiteit van seksuele oriëntasie, geslag, etnisiteit, nasionaliteit, kultuur, taal, ouderdom en fisiese vermoë kan floreer.
Ons is dus vasbeslote om op ál ons kampusse teen sowel openlike as bedekte vorme van ontmensliking en diskriminasie op te tree. Hierdie verbintenis gaan onder meer gepaard met die versterking van ons teendiskriminasiebeleide, die verbetering van gevestigde strukture en reaksiemeganismes, en die beskerming van ons studente teen vorme van diskriminasie.
Ons werk daaraan om ons instelling LGBTIQA+*-vriendelik te maak deur 'n diskriminasiebeleid in te stel met bepalings wat bepaald oor seksualiteit en geslagsidentiteit handel. Ons doen graag 'n beroep op ons kampusgemeenskap om saam te staan teen alle vorme van diskriminasie, en moedig ook alle personeel en studenteleiers aan om sensitiwiteitsopleiding te ondergaan ten einde veilige ruimtes en ondersteuning te skep om die integriteit van studente-identiteite te beskerm.
Alle eksterne liggame wat van die fasiliteite van die Universiteit Stellenbosch wil gebruik maak, sal voortaan verplig word om 'n verklaring te onderteken wat diskriminasie verbied teen enige student wat hom/haar met die LGBTIQA+-gemeenskap vereenselwig.
Studente sal op hoogte gehou word van verbeteringe en uitkomste in hierdie verband. Ons moedig enige student aan wat op grond van seksuele oriëntasie, geslagsidentiteit, etnisiteit, oortuiging, gestremdheid, ensovoorts aan diskriminasie en viktimisasie onderwerp word, om van die beskikbare hulpbronne en studentesteunfasiliteite van die Universiteit gebruik te maak. Dit sluit die volgende in:
Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling – (t) 021 808 4707
Eenheid vir Gelykwaardigheid – (t) 021 808 3136 / [email protected] SR-portefeuljebestuurder vir Seksualiteit en Geslagsidentiteit, Reanne Olivier – [email protected]
Lesbigay – [email protected]
* LGBTIQA+ verwys na persone van lesbiese, gay, biseksuele, transgender-, tussengeslag-, "queer"-, en aseksuele oriëntering.