
US verwelkom honderde internasionale studente
'n Uitvoering deur die Universiteit Stellenbosch Koor is al wat nodig was om Sarah Schoolmann te oortuig om op Stellenbosch te kom studeer. Dié Duitse student het op die internet op die koor afgekom en, betower deur die melodieuse stemme, besluit dat die Universiteit Stellenbosch (US) die beste plek vir 'n oorsese studie-ervaring bied. Sarah is een van sowat 400 internasionale studente wat die tweede semester as Matiestudente begin.
Die studente van lande soos Frankryk, China, Duitsland, België, Mexiko, Switserland, Australië en die VSA, is die tweede inname van internasionale studente wat vanjaar vir kortkursusse en voltydse graadprogramme by die US inskryf. Hulle is tydens die Verwelkoming- en Oriënteringsgeleentheid wat US Internasionaal aanbied, welkom geheet.
Sarah, 'n derdejaarstudent aan die Bremerhaven Universiteit van Toegepaste Wetenskappe, gaan 'n semester aan die US bestee en kursusse in statistiek en sakebestuur volg. Die US se bekroonde Koor het nie alleen vir Sarah 'n blik op die lewe op Stellenbosch gebied nie, maar ook aangedui waaroor dinge by die Universiteit gaan. “Ek het die Universiteit as gevolg van die koor leer ken. Ek het die video op YouTube gesien en dit het my regtig beïndruk. Ek het toe die Universiteit se kurrikulum nagevors en gesien dit bied 'n wye verskeidenheid kursusse. Ek het gehoor dis een van die beste universiteite in Suid-Afrika." Sarah is hoopvol om 'n verhoog met die Universiteit Stellenbosch Koor te deel. “Ek wil graag deelneem, maar ek weet hulle oefen baie hard en vir lang ure."
Nog iemand wat die US se internasionale weeklange oriënteringsprogram vir internasionale studente van 16 tot 22 Julie bywoon, is Yang Shu Fang van die Zhejiang Normaaluniversiteit (ZNU) in China. Yang Shu is deel van 'n groep van 17 studente wat uit 'n vennootskapsooreenkoms tussen die US en die ZNU voordeel trek. “Ek is opgewonde daaroor om 'n ander omgewing en kultuur te kan ervaar," sê Yang Shu, wat byvoeg daar is baie om na uit te sien. “Ek het gehoor die Universiteit bied 'n goeie navorsingsomgewing."
Robert Kotzé het die nuwe Matiestudente op die eerste dag van die Verwelkomings- en Oriënteringsprogram toegespreek en gesê hulle is by een van die beste instellings op die vasteland. Hy het bygevoeg dat hulle teenwoordigheid die US se internasionale profiel bevorder en hulle aangemoedig om by die gemeenskap in te skakel, aan kampusaktiwiteite deel te neem, en na omliggende gemeenskappe uit te reik.
“Dit is 'n spesiale jaar vir ons, want ons herdenk ons 100ste bestaansjaar as universiteit. In die volgende ses maande sal ons voortgaan met die viering van ons verbintenis om 'n universiteit in Afrika vir Afrika te wees. Ons wil beslis tot die ontwikkeling van hoër onderwys in Afrika bydra," het hy aan die studente gesê.
• Deel van die weeklange internasionale Verwelkomings- en Oriënteringsprogram sluit 'n verwelkomingsaandete, kampustoere en 'n besoek aan Kaapstad in.