Skip to main content
US verbind tot bekamping van aardverwarming

US verbind tot bekamping van aardverwarming

Rectorate of Stellenbosch University/ Rektoraat van die Universiteit Stellenbosch
25 Maart 2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) is daartoe verbind om die uitwerking van aardverwarming te bekamp en om nuwe alternatiewe te bied om noodsaaklike veranderings en oorskakeling na meer volhoubare samelewings te ondersteun. Lees hieronder die verklaring wat die Rektoraat van die Universiteit Stellenbosch se verbintenis uiteensit:

  • Klimaatsverandering is nie meer 'n verlangse probleem nie; dit gebeur hiér en nóú.
  • Die wêreld se wetenskapgemeenskap stem saam dat menslike aktiwiteite die oorsaak van klimaatsverwarmingtendense is.
  • Suid-Afrika, wat 'n groot bydrae tot die vrystelling van kweekhuisgasse lewer, kan nie maar net agteroor sit en sy hande in onskuld was oor hierdie groeiende humanitêre en omgewingskrisis nie.
  • Verder stem die wêreld saam dat vinnige optrede nodig is om aardverwarming om te keer.

Hierdie nypende bewuswordings dwing die Rektoraat van die Universiteit Stellenbosch om die uitdaging ernstig op te neem om die uitwerking van aardverwarming teë te werk en ons stem heelhartig saam met die sentiment dat ons nou moet optree om ons planeet vir die toekoms te herbou en te herstel.

Die Universiteit Stellenbosch het die kapasiteit om 'n beduidende bydrae te lewer tot navorsing en die verskaffing van oplossings om die uitwerking van klimaatsverandering te beveg.

Daarom is die vestiging van ons Skool vir Klimaatstudie 'n groot stap vorentoe vir navorsing oor volhoubare oplossings om die groeiende bedreiging van aardverwarming en al die rampspoedige nagevolge daarvan teë te werk.

Dit is nie net die eerste skool va​n sy soort op die vasteland nie, maar ons pak ook hierdie uitdaging in samewerking met vooraanstaande internasionale organisasies aan. Onder hulle is die “Global Alliance of Universities on Climate", wat die universiteite van Oxford en Cambridge insluit; asook die Massachusetts Instituut van Tegnologie; die Universiteit van Kalifornië, Berkeley; Tsinghua-universiteit in China en talle ander vooraanstaande universiteite regoor die wêreld.

Dit is die harde werklikheid dat huidige prosesse ter ondersteuning van ekonomiese ontwikkeling die klimaat, oseane en landoppervlaktes aansienlik verander. Lande moet die versnelling van ekonomiese groei in ewewig hou met die volhoubare gebruik van omgewingshulpbronne. Wêreldwye vennootskappe is dus uiters noodsaaklik om welvaart, ontwikkeling en groei binne die konteks van die groen ekonomie te herbedink. Dít is van die diepgaande uitdagings wat die Skool vir Klimaatstudie deur sy multidissiplinêre benadering sal aanspreek.

Verder dien die Skool ook as 'n neksus of aansluiting vir ons universiteit om volhoubaarheid in al sy vorme en skakerings regoor ons kernfunksies van leer en onderrig, navorsing en impak op die gemeenskappe wat ons dien, te veranker. 

Uit 'n bedryfsoogpunt het die Universiteit Stellenbosch die afgelope paar jaar betekenisvolle stappe gedoen om ons instelling in 'n koolstof-neutrale universiteit te omskep.

Sistemiese volhoubaarheid is een van die belangrikste kenmerke van die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024. Dit sluit die kostedoeltreffende verskaffing van volhoubare energie op die lange duur in. Die doelwit is om die Universiteit se koolstofvrystellings teen 2030 tot netto-nul te verminder deur ons huidige fossielbrandstof-gebaseerde energie met skoon, hernubare energie, insluitende sonkrag, te vervang.

Die nuwe fotovoltaïese dakinstallasie by die Neelsie-studentesentrum sal 'n groot bydrae daartoe lewer. Die installasie is in Januarie 2021 voltooi. Die stelsel sal die instelling se koolstofvoetspoor aansienlik met 6 000 ton koolstof oor die volgende 20 jaar verminder.

Huidige ingrypings wat ons universiteit in werking gestel het met die oog op 'n volhoubare energietoekoms, sluit in:

  • die installering van slimmeters regoor die kampus wat elke vyf minute data oor elektrisiteitsverbruik regstreeks versend;
  • die installering van 'n slim mediumstroomspanning mikro-netwerk om groot fotovoltaïese installasies op die rand van die kampus moontlik te maak;
  • n gekonsolideerde verhittings-, ventilasie- en lugreëlaar-omgewingsaanleg;
  • 'n nuwe geboubestuurstelsel om verbruik te optimaliseer en die US se koolstofvoetspoor te verklein;
  • die vervanging van ou ligte met energiedoeltreffende LED-ligte; en
  • slim elektriese verbeterings.

Die Universiteit se Omgewingsvolhoubaarheidsplan sal ons in die onmiddellike toekoms lei om ons kampusse nog meer omgewings- en ekologies-volhoubaar te maak. Uiteindelik sal meer lewenskragtige, groener kampusse laer vrystellings en 'n kleiner koolstofvoetspoor beteken.

Ter afsluiting hoop ons hierdie kort boodskap sal julle laat besef hoe ernstig en toegewyd ons universiteit is om nuwe alternatiewe te bied om noodsaaklike veranderings en oorskakelings na meer volhoubare samelewings te ondersteun. Julle moet ons as kennisvennote en -bouers van die groen toekoms sien wat ons almal se wens vir ons planeet is.