
US-studente blink uit in GradStar-toekennings
Sewe Maties, van wie twee studente van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, was onder die top 100 sterstudente wat verlede week in Johannesburg saamgetrek het vir twee dae van leer en erkenning as deel van die GradStar-toekennings van 2019. 'n Strawwe beoordelingsproses is afgesluit met werksessies deur potensiële werkgewers.
GradStar, 'n program wat deur BlackBark Produksies aangebied word, verleen erkenning aan die top 100 studente regoor die land op grond van leierskapseienskappe en gereedheid vir die werkplek.
Liana Maheso, 'n nagraadse student in Vervoer en Logistiek, en Danielle Kruger, 'n student in BCom (Internasionale Besigheid), sowel as vyf studente van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch is geïdentifiseer as onder die top 100 studente wat die beste geskik is vir indiensname.
By die toekenningsgeleentheid Donderdagaand (19 September 2019) is die name van die Top 10 aangekondig. US se Travis Defty, 'n ingenieurstudent, is een van die Top 10.
Volgens me Laura Barker, besturende direkteur van BlackBark Produksies, ontvang hulle meer as 3 500 inskrywings. "Daaruit word die top 100 bepaal en, uiteindelik, die top 10."
Sy sê al 100 topstudente word aan 'n suksesvolle sakementor voorgestel om hulle verder gereed te maak vir die werksomgewing. Hulle kry ook die geleentheid om 'n leierskapskonferensie die volgende dag by te woon.
“Baie van die Top 100-studente ontvang werksaanbiedinge van groot werkgewers omdat hulle deur hierdie program erkenning ontvang het," het me Barker gesê.
- 1ste foto: Liana Maheso (ver links) en Danielle Kruger (3de van links) van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe met medestudente van US wat almal onder die Top 100 GradStars van 2019 is.
- 2de foto: Danielle Kruger (ver links) en Liana Maheso (in die middel) met ander US-studente by die GradStar galadinee.