
US se sosiale impak inisiatiewe skop af met flair, pret en verbeelding
Die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse sosiale impak inisiatiewe het die week ( 1 February) met flair, pret en verbeelding afgeskop toe meer as 5 000 nuwelingstudente aan verskeie van die sosiale impak-inisiatiewe op die kampus en in gemeenskappe blootgestel is.
Dié studente is ook nou ingeskakel by die US se breër sosiale impak temas van onderwys vir almal; indiensneming en inklusiewe ekonomiese ontwikkeling; omgewing & volhoubaarheid; voedselsekuriteit & gesondheid; hulpbronne en infrastruktuur; veiligheid, sekuriteit & goeie regering; en sosiale- & geslagsgeregtigheid.
Op prettige en verbeeldingryke wyse, is studente terselfdertyd ook aan 'n afgeronde studentelewe en buite-die-klas leerervarings blootgestel.
Mihle Senene van Minerva-vrouekoshuis, het gesê: "Dit is 'n goeie inisiatief en dit voel wonderlik om betrokke te. Ek hou daarvan om met die kinders te speel." Studente van Minerva- en Majuba-koshuise het meer as 50 kinders van die Hannah-stigting in Cloetesville in die JS Marais-park op Stellenbosch ontvang en vir langer as drie ure besig gehou met speletjies, pret en allerlei vermaaklikhede.
Neil de Kock van Majuba het gesê hul inisiatief in samewerking met die Hannah-stigting, is reeds drie jaar aan die gang en sal vanjaar voortgaan – gedryf deur Majuba en Nerina-koshuise.
Neil verduidelik: "Ons gaan weekliks na die skool. Verlede jaar het ons die kinders ook na die Strand geneem. Sommige van hulle het nog nooit die see gesien nie en dit was 'n ongelooflike dag om hulle so gelukkig te kon sien."
Die studente van Vesta, Eendrag, Helshoogte, Irene en Aristea het op hulle beurt meer as 60 leerders van Klapmuts Primêre Skool vermaak. Hulle het speletjies gespeel, gedans en allerlei sportaktiwiteite beoefen.
Die studente van Helshoogte, Irense en Vesta het ook meer as 500 toebroodjies gemaak vir die leerders by Klapmuts. Gracaire Williams, 'n onderwyseres by Klapmuts Primêre Skool, sê die kinders was baie opgewonde om die dag saam met US student te spandeer.
Emile de Beer van Vesta het gesê die sosiale impak-inisiatief in samewerking met leerders van Klapmuts sal ook vanjaar voortgaan. Hy het gesê: "Ons gaan hulle op 'n weeklikse basis besoek en help met die onderrig van wiskunde, taal en sport. Ons gaan ook stories saam lees."
Meer as 40 kleuters (almal ses jaar en jonger) van ARK Educare-sentrum in Khayelitsha by Stellenbosch is deur studente van die vrouekoshuise Huis ten Bosch en Serruria ontvang. Meverin Nokhaya van ARK is baie dankbaar oor hierdie inisiatief. Sy meen dit is só noodsaaklik vir hulle omrede die kinders weens finansiële druk op die skool en hul ouers, nie in staat is om ooit op uitstappies van dié aard te kan gaan nie.
Ander US-koshuise se sosiale impak inisiatiewe het onder meer die volgende behels: kosskenking aan die rampeenheid van die Stellenbosch Munisipaliteit; besoeke aan kinders by skole; hulp aan dierewelsynverenigings; besoeke aan bejaardes; skoonmaakaksies en selfs die uitlê van 'n kampusgroentetuin.